“Om hoop in my letsels te vind”

456

Karien Basson, skakelbeampte, skrywer, radio–omroeper en Vroue wat Glo se redakteur, praat op die ouderdom van veertig oor haar letsels. Sy is hoopvol en vol insig ná haar woestynjare.

My ouers het altyd kerk toe gegaan, maar daar is tog ruimte vir vrae geskep. En glo my – ek het baie vrae gehad.

“Karien, hierdie is nie ’n Lottomasjien nie, maar God ontmoet jou op die vlak van jou geloof,” het my ma gesê en vir my die Brood-op-die-waterkaartjies gegee.

Mense wat my ontmoet het, het ’n baie positiewe en opgeruimde Karien gesien. Ná my egskeiding kon ek nie help om te wonder of ek regtig goed genoeg is nie.

Ek het besluit om myself nie meer met vriende se geluk op Facebook te vergelyk nie, maar om eerlik en opreg met myself te wees.

As skrywer, seremoniemeester en spreker kry ek wonderlike geleenthede om met vroue se harte te praat.

Tans is ek ook deel van die Truth TV-span, die eerste Christelike aanlyn TV-kanaal in Suid-Afrika. Om as aanbieder en skakelbeampte saam met ’n span vrywilligers te werk is ’n groot eer.

Iets waarvoor ek ongelooflik dankbaar is, is om die redakteur van Finesse se Vroue wat Glo te wees. So kry ek die geleentheid om met nog meer vroue te praat oor dinge wat saak maak.

Die prentjie van ’n ballerina se voete definieer sukses vir my – gekneusde tone vol pleisters onder die pienk satyn. Almal wil suksesvol wees totdat hulle sien wat dit hulle gaan kos.

Met moeilike tye agter my, het ek myself baie afgevra of dit die moeite werd was. Toe het ek besef dat selfs die grootste geloofshelde nie hierdie beproewinge gespaar is nie.

In elke moeilike seisoen het ek myself keer op keer beter leer ken. Dit was beslis alles die moeite werd.

Almal begin hulle lewe met groot drome. Drome van rykdom, wysheid, ’n suksesvolle besigheid, roem, die perfekte huwelik en soet kinders. Dis asof mense van ’n moeitelose bestaan droom.

Niemand beplan die seer, die egskeiding of siektes nie. Maar elkeen van ons gaan beproef word. Daarom het ek besluit om ongeag omstandighede passievol te leef.

Ek sal eerder spyt wees oor dinge wat ek gedoen het, as om spyt te wees oor dinge wat ek nie gedoen het nie.

Vroue wat Glo is nie ’n gesiglose organisasie nie. Ons is regte vroue, met regte foute, regte oorwinnings en regte probleme.

Ons is uniek en eg, saamgebind deur die dinge wat regtig saak maak, met Christus as die middelpunt. Waar ons ook al op ons lewensreis is, ons leef die lewe saam. Dis tyd. Tyd vir vroue van geloof om hande te vat en mekaar te ondersteun. Saam is ons sterker. Saam is ons Vroue wat Glo.

Vorige artikel’n Ope brief oor plaasmoorde
Volgende artikelTyd vir dit wat werklik belangrik is?