‘Die dag toe ons emigreer het’

311

Vir Deon en Lizelle Griessel het ’n droom wat baie Suid–Afrikaners koester, waar geword – Lizelle het ’n werksaanbod in Australië gekry. Hulle sou ’n beter lewe vir hulle gesin kon bou. Maar om te emigreer, het hulle uitgevind, is nie altyd net maanskyn en rosegeur nie –veral nie vir kinders van Afrika nie.

Stringe hare klou aan my vingers vas. Die grootse bos lê al in die wasbak. Dis hoe dit deesdae soggens met my gaan.

Uit die badkamerkassie haal ek ʼn pakkie antidepressante en sluk een. Vir wat? Die goed help nie. Dit lap nie ʼn gebreekte hart nie.

Wat trek ek vandag aan? Langs die matrasse waarop ons gesin van vier al vir maande slaap, is die kas vol klere wat te groot is vir my.

Niks pas meer nie. Al probeer ek eet, bly die gewig net afval. Ag, Here, ons het dan so hard hieroor gebid.

Deon kry nie ’n werk nie, en om ’n huis te kry is ook nie so maklik nie. Miskien moet ek net nog ’n bietjie vasbyt. Dalk word dinge beter. Maar diep binne-in my siel weet ek dit sal nie gebeur nie. Hierdie was ’n fout.

Baie mense dink dalk ons het emigreer om uit slegte omstandighede te ontsnap. Allermins. My lewe in Suid-Afrika was perfek – of so na aan perfek as kon kom.

Ek en Deon het albei ’n goeie werk gehad en daar was nie ’n tekort aan geld nie. Soggens het ek sommer werk toe gestap – in Gauteng, ja! My werkplek as embrioloog in reproduktiewe biologie was letterlik stapafstand van ons huis af op die landgoed waar ons gebly het.

Anebelle (7) en Eon (3) was gelukkig in hulle skooltjies. En almal was gesond. Ons het naby aan familie en goeie vriende gebly, en ek het ’n pragtige vetplanttuin gehad.

Om eerlik te wees, emigrasie was nie iets wat ek in my wildste drome oorweeg het nie. Nooit. Ek is ʼn familiemens, die jongste van sewe kinders.

So hoekom het jy?, wonder mense wanneer hulle my storie hoor. As alles dan lekker en perfek was, vir wat gaan doen jy aansoek vir ’n werk oorsee? Ek het myself daardie vraag al honderd keer gevra.

Dit begin met een klein dingetjie. Jy luister na mense wat praat oor die sinkende skip waarop ons almal is. Jy sien hoe swaar jou man by die werk kry. Hoor hoe graag hy ’n ander geleentheid wil hê. Jy dink aan jou kinders. Is hier nog ’n toekoms vir hulle?

En só word die idee in jou kop al hoe groter. Totdat jy op ’n dag ’n e-pos stuur. Dit was sommer ’n kort en eenvoudige boodskap aan ’n professor by ’n fertiliteitskliniek in Sydney.

’n Maand later antwoord sy. Daar is iets. Vreemd, sê sy, my e-pos het net op die regte tyd gekom. Hulle soek al ’n rukkie na die perfekte persoon.

Natuurlik moet dit dan so bestem wees, oortuig ek myself. Dis ’n fantastiese geleentheid, jy sal nie weer so ’n kans kry nie.

Tien dae ná my aanlyn onderhoud het ek ’n werksaanbod ontvang. ’n Maand en ’n half later is ons visums goedgekeur. En ons huis is ’n maand later op my verjaardag verkoop – teen ’n hoër aanbod as die aanvanklike een. Kort daarna het ek bedank en ons vlug was bespreek vir 24 Maart 2020.

En toe gebeur Covid-19. Vier dae voor ons Sydney toe sou vlieg, sluit Australië se grense. Wat nou? Ons het klaar almal gegroet, gehuil, gepak.
As ek nou daaraan terugdink, is dit waar ons “plakkery” begin het. Ek het net nooit gedink dit sal so lank aanhou nie.

Dalk was dit ’n teken dat ons moet bly? Maar my werksaanbod bly staan en ses maande later kry ons toestemming om te reis – dinge val net weer so maklik in plek. In Perth moet ons net eers vir 14 dae in ʼn hotelkamer isoleer – maar hoe erg kan dit nou wees?

Hoe lank is dit al? En hoe lank is dit nog? Die hotelkamer se vensters kan nie eens oopmaak nie en ons mag nie ons voete by die deur uitsit nie. Ons kos word in sakkies voor die deur afgelewer, want niemand mag ook inkom nie.

Die bad is vol vuil wasgoed wat Deon skoontrap. Blykbaar is hy ’n DG-model (Deon Griessel) en nie ’n LG nie! ’n Mens moet lag. Dis al hoe jy hierdie mal bestaan kan oorleef. Vier mense vir 14 dae saam toegesluit.

Onder normale omstandighede is die reis tussen Suid-Afrika en Australië taai – met maskers en Covid-19-protokol raak dit amper onuithoudbaar. Boonop is almal so angstig en vreesbevange oor die virus.

Toemaar wat, as ons net hierdeur kom, kan ons ’n lekker lewe in Australië begin.

Ek weet eerlikwaar nie wanneer die verterende verlange ingeskop het nie. Dalk was dit van die begin af daar. As iemand vir ons goed is, verlang ek huis toe. As ek alleen op die trein sit, verlang ek. As ek werk toe gaan, as ek huis toe gaan, as ek gaan slaap.

Die dae sleep verby, en dinge raak nie beter nie. Deon kry nie werk nie, en alles kos geld. Ek sien hoe hard hy probeer om die kinders bedags besig te hou. Parkie toe vat. Speletjies speel. Die woonstel netjies hou.

Hoe is ons dan beter af hier? Hoe sal dit ooit hier beter wees as ons almal so swaar kry. En hoe lank hou ’n mens uit voordat jy handdoek ingooi?

Tot 28 Februarie – dis hoe lank jy uithou. Dis die datum wat Deon op ons yskas geplak het. As ons teen daardie tyd nog nie regkom nie, gaan ons terug.

Elke dag het ek met moed en vasberadenheid opgestaan. Werk toe gegaan. Gewerk. Gebid.
Soveel mense het so baie moeite en koste aangegaan om ons hier te kry. Die maatskappy het in my belê – ek kan hulle nie net in die steek laat nie.

Al was ek verlig dat daar ’n afsnydatum was, het nuwe spoke my begin jaag. Skuldgevoelens, gevoelens van mislukking. Ag, dieselfde tipe vrese, net van ’n ander kant af. Hoe gaan ’n mens druipstert terug en sê sorry, dit was nie lekker nie?

Deon het met ander mense begin praat. Gehoor hoe hulle ná dekades steeds verlang, en nou teruggaan. Emigrasie is nie vir almal nie, het ons besluit. En dis beslis nie vir ons nie – nou weet ons dit.

Natuurlik is ek spyt, maar ek en Deon sou altyd gewonder het of ons regtig die beste lewe vir ons kinders gee as ons nooit probeer het nie. Nou weet ek die beste vir hulle is ’n gelukkige mamma en ’n groot familie waar hulle geliefd en geborge voel.

Ons het heeltemal vrede in ons hart dat ons probeer het. Ek en Deon. Hoekom ons deur dit alles moes gaan, weet ek nie. Maar ons hét daardeur gekom – dit is wat tel. Ons was nie een oomblik sonder die Here se genade nie, selfs al het ons dalk verkeerde besluite geneem.

Moet vir geen oomblik dink ons lewe terug in Suid-Afrika was dadelik weer ’n lied nie. Ons was albei werkloos, huisloos, en ook maar ’n bietjie rigtingloos. Boonop het ons almal tyd nodig gehad om tot verhaal te kom. So iets los jou nie sonder skaafplekke nie.

Ek sal heel moontlik eers oor tien jaar weet wat presies die doel van ons hele ervaring was. Of dalk ook nie. Dit maak nie saak nie.

Wat saak maak is hoe ek alles wat gebeur het, hanteer. Vir ons is dit ’n tweede kans. Min mense kry dit.

Ek is opgewonde daaroor en vat alles een dag op ’n slag.

Vorige artikel[VIDEO] Leer jou kind om geldslim te wees
Volgende artikelLeer jou kind om geldslim te wees