“Ek kon die vlamme op my lyf sien”

126

Marijke Cilliers het op ’n koue, Kaapse wintersdag reggemaak om lekker saam met haar broer en sy gesin te eet. Sommer net hamburgers – die kinders is mal daaroor. Sy het nooit gedink dat haar huis, en sy, aan die brand sou slaan voordat enigiemand ’n hap kon vat nie.

Moenie dit doen nie. Terwyl ek die bottel bio-etanolvuurjel optel om die stofie weer op te vul, sien ek ’n bruinerige randjie aan een van die keramiek katoenvesels. Brand dit nog? Daar is dan nie vlamme nie.

My broer en sy gesin sal nou-nou by die trappe opkom sodat ons kan eet. Ek moet gou maak. Gewoonlik hardloop die kinders sommer saam met my boontoe as ek hulle vir ete roep. Maar nie vandag nie, dis nogal vreemd.

Dit is koud buite, maar die vuuroondjie maak die huis snoesig. Charl, my man, is gewoonlik in beheer van die vuur, maar hy is in Mali. Hy vat altyd eers die oond uit, maak alles skoon, en gooi dan nuwe vuurjel in. Maar ek is haastig, daar is nie tyd nie. Dit bottel is skeef gedraai sodat dit regoor die opening kan indrup. Fout.

Daar is ’n massiewe ontploffing. Alles is wit. Ek voel die hitte teen my lyf. Brand ek? My broer roep. Hy wil weet wat het gebeur. Voor my oë sien ek die vlamme wat teen my lyf en gesig opkruip. Ek brand! “Boeta! Help! Kom gou, ek brand!”

Blus. Die vlamme moet dood. My broer is daar. Hy hou die brandblusser voor my. Dit werk nie. Hy smyt dit neer. Dalk moet ek probeer. Dit werk nie. Alles gebeur so vinnig, maar vat ook so lank.

Water. Kry net water. Die kombuiskraan loop te stadig, en die water val nie oral op my lyf waar dit brand nie. Maak ’n ander plan. Badkamer toe. Kan nie. Dis agter die vlamme wat nou amper die huis verswelg.

Dis dan dit. Dis hoe ek gaan doodgaan … Wag. Ek moet uitkom en rol. Die pad balkon toe is nog oop. Hardloop uit. Rol. My broer is skielik op die balkon met ’n emmer water. Hy gooi die laaste vlamme op my bene dood. Dan is dit verby. Die vlamme is weg. Maar die huis brand steeds.

Daar is oral mense. Deur die skuifdeur sien ek hoe hulle teen die vlamme veg. Ek trek my vingers deur my hare, ’n hele bos klou aan my hand vas. Het my hare afgebrand? Die brandweer probeer met ’n leer teen die balkon opkom. Dis ’n gesukkel. Ons sal moet uit. Ek is ongelooflik kalm en rustig. Voel niks. Hoor alles. Sien alles.

“Kan jy loop?” vra my buurman. Die plan met die leer teen die balkon, wil nie lekker werk nie. Hy help my om by die trappe af te stap. Buite wag ’n ambulans reeds vir my. En eers toe ek daar inklim, voel ek dit. Asof ek toe eers begin brand. Oral. “Morfien …” smeek ek, “gee my net asseblief morfien”.

Ek en Charl is so bevoorreg om by die see te bly. Gordonsbaai is ’n droom. Die pad hierheen was nie noodwendig reguit nie, maar hier is ons nou. Wie sou ooit kon raai dat dié meisie van Pretoria elke dag op die strand sal kan stap? In die berge klouter en branderplank ry.

Om alles te kroon het my broer-hulle ook hierheen getrek. Vir eers bly hulle in die woonstel op die grondvlak van ons huis. Met my man wat gereeld in die buiteland werk, is dit ideaal.

As paramedikus het Charl al die wêreld vol gereis. Ons het mekaar destyds in Londen ontmoet. Ná matriek was ek nie mooi seker wat om met my lewe te maak nie. Die natuur het my nog altyd na aan die hart gelê. Aanvanklik het ek omgewingsbestuur studeer, maar kon nie regtig vir myself ’n toekoms in daardie rigting sien nie.

Dit is Charl wat my aan die oefenwêreld bekend gestel het. Nou kan ek nie genoeg daarvan kry nie, en my aanlyn oefenbesigheid doen goed. Dis ook hy wat my geloofslewe verbreed het. Ek sê nog elke dag dankie vir my wonderlike man.

Voordat ons getrou het, het my ma net een voorwaarde gehad … Sy is ’n suster in ’n intensiewesorgeenheid, en weet hoe vinnig dinge kan skeefloop. “Jy sorg dat my kind altyd ’n mediese fonds het,” was my ma se versoek. Dankie tog.

Die rit in die ambulans is vaag. Later het my broer vertel dat ek op die balkon in tale gebid het. Daarvan kan ek niks onthou nie. Iemand het ’n telefoon voor my oë gehou, en ek kon Charl se gesig sien. “Ek is jammer!” het ek gehuil. “Ek is verskriklik jammer … Ek het ons huis afgebrand!”

Die hitte was so erg, ons televisie het gesmelt. En die yskas. Alles in die leefkamer was verbrand.

Gordyne, blindings, meubels. Ons kombuis was ook daarmee heen. Al wat gekeer het dat die hele huis afbrand, was my broer se vinnige reaksie. En een of ander bedekking in ons plafon waarvan ek nooit eens geweet het nie.

Alles was swart. Roet het ’n manier om in plekke in te kruip waar jy dit eers maande later sien. Ek wou nie hê dieselfde moes met my siel gebeur nie. Die Here het my van die begin af daarteen beskerm, dít glo ek onwrikbaar. Ook dat Hy my heeltemal gesond sal maak.

Maar dit vat nie die seer weg nie. Brandwonde is vreemd. Aanvanklik lyk dit nie so erg nie. My skoonsussie wat my na die ambulans toe sien stap het, het gedink ek is oukei. My vel was net ’n bietjie rooi. Die swelling het eers daardie aand in die hospitaal begin. En dan kom die lang, uitgerekte pyn.

Elke keer wanneer nog ’n stuk dooie vel afgeskrop word, sien jy ’n nuwe wond. Dit hou net nie op nie … Ek kan nie meer nie. Asseblief, nie weer nie … Hoe moet ek hier opstaan, as ek weet wat vir my onder die stort wag? Dit is so seer dat ek nie eens die krag het om dood te gaan nie. Elke sel in my lyf wil onder die water uitkom. Iewers heen gaan waar dit koel en sag is.

Pynmedikasie help tot op ’n punt, maar daar is sekere gevoelens wat nie eens verdowing jou kan spaar nie. En al ervaar jy nie alles bewustelik nie, voel jou lyf dit. Trauma, op trauma. Dit is net nie reg nie.

Salf opplak, verbande omdraai. Verbande afruk. Alles afspoel. Begin weer. Wanneer gaan dit ophou? Ná ’n week in die intensiewesorgeenheid? Nee. Ná twee weke in ’n gewone saal? Ook nie. Ek sal dit moet stop. Nou.

“Nee,” antwoord ek beslis. My hele lyf is klaar een groot wond, en nou wil hulle nog ’n wond maak waar daar nie een is nie. Veloorplantings. Dit maak net nie vir my sin nie, al weet ek absoluut niks daarvan af nie.

Nee. Dit sal self regkom. Die dokter skud net sy kop. Die vel onder my ken en aan my lieste is dood, sê hulle. Maar my Geneesheer is nie tot die hospitaal beperk nie.

Toe die Heilige Gees my probeer keer het om nog vuurjel by te gooi, het ek nie geluister nie. Hierdie keer, hoor ek. Uit. Charl en ek het saam besluit dat ek die hospitaal moet verlaat. Hy probeer om so vinnig moontlik terug Suid-Afrika toe te kom. Maar dit vat tyd.

Alles vat tyd. Dis nogal ’n uitdaging vir my haastige gees. Onder normale omstandighede, sou hierdie ’n slegte ervaring gewees het. Om dit tydens ’n wêreldwye pandemie te beleef, is waansinnig.

Tog, sien ek in alles wat gebeur, hoe daar vir my gesorg word. Vir eers bly ek by ’n vriendin. Ons huis is nog besig om herstel te word, net soos my vel. Eers moes al die dooie dele afval, voordat die nuwe vel kon begin groei.

Deur vriende, het ons die wonderlikste wondsuster ontdek. Haar aanslag is anders. Géén stort nie, sê sy. Wat ’n verligting! Elke keer wanneer sy wondsorg kom doen, kan ek ’n verbetering sien. Die kere wanneer ek kan kyk.

Soms, sit die verbande aan die wonde vas. Om dit af te kry, laat my soos ’n baba huil. Almal was altyd so beïndruk met my hoë pyndrempel … Ek is nie meer so seker daaroor nie. Dis amper asof ek alles deur ’n vergrootglas voel.

Die heel ergste, is die wonde se afskeiding. Dit hou net aan en aan uitloop. Alles is nat. En stink. Ek sien so uit na elke keer se nuwe, vars verbande. Ongelukkig hou dit nie baie lank nie. As ek weer sien, syfer die afskeiding deur. Oral waar ek sit of lê, bly ’n nat kol agter. Dit is erg om vir jouself te gril.

Van nature, is ek positief, en let op die goed wat ek sê. Woorde het krag, het ek lankal besef. Daarom tob ek nie oor dinge nie. As daar ’n afbrekende gedagte by my opkom, laat ek dit vinnig gaan. Maar hierdie is ’n besonderse uitdaging …

“Tannie ruik nie lekker nie,” sê my broer se kleintjie toe sy my ’n drukkie gee. Ek weet, my kind, ek weet. Die wond onder my ken lek die meeste. Elke keer wanneer ek sluk, kan ek voel en hoor hoe die afskeiding onder die verbande beweeg. Soos wanneer jy ’n bottel olie skud.

Van alles, is dit vir my die ergste. Erger as die skok, erger as die pyn, erger as die gesukkel om toilet toe te loop … Ek moet myself baie, baie moed inpraat. En wanneer ek nie kan nie, doen my man dit vir my. Alles sal oukei wees, sê hy. Ek glo hom. Die moeilike dae word al hoe minder, en die goeie dae al hoe meer.

Gewoonlik het brandslagoffers inwendig skade. Van die hitte en rook wat jy inasem, brand jou lugweg en longe wat baie komplikasies veroorsaak. Dit het glad nie met my gebeur nie. En die dele op my lyf wat “medies dood” verklaar is, het genees. Die vel het self toegegroei, sonder veloorplantings.

As my broer se kinders daardie dag saam met my boontoe geloop het, was hulle ook in die ontploffing. As my broer-hulle nié daar was nie, sou ek alleen moes sukkel. Gelukkig het ons ’n mediese fonds. Gelukkig het die nooddienste vinnig gereageer. So kan ek aangaan. Hoe daar op die regte tyd, die regte persoon, op die regte plek was. En is.

My gesonde leefstyl het my moontlik ook voorberei op ’n vinnige herstel. Dis die moeite werd om na jou gesondheid om te sien! Ek drink nog altyd baie water, so my vel was vanuit die staanspoor goed gehidreer. Omdat ek lankal reeds met gewigte oefen, was dit ook maklik vir my om myself met my arms op te lig – wat ek gereeld moes doen!

Die personeel in die hospitaal was wonderlik. Almal om my was gestuur. Niemand het my verwyt omdat ek dit aan myself gedoen het nie. Daarom kan ek ook nie. Dit was net ’n fout. Ek het ’n fout gemaak.

Dit was niemand se skuld nie. Ek blameer glad nie die vuurjelvervaardiger nie, en allermins die Here. Hy was net goed vir my, deur alles.

Ons is al ’n rukkie terug in ons huis, waaroor ek net so dankbaar is. Dit is asof my siel heeltemal genees is van die ongeluk. Sonder nagmerries, sonder vrese. Al het ek hartseer geraak, en gehuil van die pyn, was ek nooit depressief nie. My lewe gaan aan, dalk net ’n bietjie stadiger!

My groot les is om meer te dink voor ek doen. Om die risiko’s te oorweeg, en om net een ding op ’n slag te doen. My verhouding met die Here het ook verdiep, en ek leer nog elke dag iets nuuts oor Sy woord.

Soms is ek ’n klein bietjie hartseer oor alles, en wens dat dit nooit gebeur het nie. Of dat ek sommer net dadelik gesond was. Maar dan onthou ek hoe dit net ná die ongeluk was. En hoeveel beter dit nou gaan. Ek kan selfs weer oefen! My vel se kleur raak elke dag beter.

Ek weet alles sal perfek genees. Dit is regtig net ’n kwessie van tyd.

Vorige artikelHoe jy opstaan, is wat saak maak
Volgende artikel[PODSENDING] Liefde, eerder as oordeel, kan mense heelmaak