Anel Wasserfall: “Geld is definitief nie alles nie”

739

Beplanning is in ANEL WASSERFALL se bloed. Haar werk as ’n produksiebestuurder en besprekingsagent het haar soos ’n handskoen gepas. Boonop is sy met die sanger Dewald Wasserfall getroud en verstaan sy die bedryf goed. Maar toe tref die Covid–19–pandemie en laat die vermaaklikheidsbedryf so te sê werkloos.

Wat? Dit was die vreemdste gevoel, en ek kan steeds nie regtig in woorde verduidelik wat ek gedink het nie. Ek kon dit nie glo nie. Sulke dinge het ons nog altyd net in flieks gesien. En hier gebeur dit in ons eie land, op ons eie televisieskerms.

Suid-Afrika sluit – letterlik. In daardie stadium het ’n mens nie eens regtig mense geken wat siek was nie. Gelukkig is dit net vir drie weke, het ek toe nog gedink. Ná die aanvanklike skok, was ons eintlik opgewonde oor die blaaskans.

Dit is nie so erg om drie weke in jou dagboek aan te skuif nie. Vir mense in die vermaaklikheidsbedryf is familietyd altyd kosbaar. Kunstenaars werk baie van die huis af weg, en die ure is ook ongereeld.

Dewald, ek, ons seuntjie en my suster wat by ons bly, het saam afgesonder. Ons het kos gemaak, leeggelê, wyn gedrink en ’n bietjie geoefen.

Toe ons begin lus raak vir wegneemetes, het Dewald soos ’n meester vir ons tuisgemaakte KFC en Steers aanmekaargeslaan. Ons het selfs begin soesji maak. Die eerste twee weke was ons in ’n kuierbui, en dit was eintlik elke aand ’n partytjie in ons huis.

Een van die lekkerste dinge van die inperking was dat ek self my huis kon skoonmaak. Ek is een van daardie mense wat mal is oor skoonmaak, ongelukkig het ek nooit tyd daarvoor gekry nie. Tot nou.

Ons ingesteldheid oor geld en die idee dat die inperking net ’n kort rukkie sou duur, het gekeer dat ons paniekerig oor ons inkomste geraak het. Dewald was ook baie rustig, en dit het my gehelp om kalm te bly. Dis mos amper verby. Toe tref dit ons.

Drie weke word vyf. Gaan dit nog langer aanhou? Wat aanvanklik soos ’n vakansie gevoel het, het begin senutergend raak. Wat as dit maande lank só aanhou? Almal het bespiegel en die bangmaakstories was seker die ergste.

Dit het toe nie beter geword nie. Soos wat die verskillende bedrywe kon begin oopmaak, het die kunste gesluit gebly. Byeenkomste word beperk en die een ná die ander besprekings is gekanselleer. Natuurlik. Toe begin groot feeste hulle datums skuif. Later is dit afgestel.

Al het ek dit verwag, was die wind uit my seile toe ek hoor: “Jammer, ons het jou nie meer nodig nie.” As daar geen produksies is nie, het ’n mens beslis nie ’n produksiebestuurder nodig nie. Ek verstaan dit. Kunstenaars word ook nie meer bespreek nie, so agentekommissie was ook daarmee heen.

Aan die begin van die inperking het Dewald aanlyn konserte gehou. Verniet. Net om aan die gang te bly, en ook om na mense wat alleen was tydens die inperking uit te reik. Maar aanlyn konserte is nie winsgewend nie, selfs al sou ’n mens dit teen betaling doen.
Enige huishouding wat deur so ’n trauma gaan, sal sukkel. Ons het ook. Omdat my suster in daardie stadium by ons gebly het, het ons skielik van ’n huishouding met drie salarisse gegaan na ’n huishouding met geen inkomste nie.

Die aanvanklike lekker familietyd, het ook ’n stresvolle werk geword. Ons het ’n skedule opgestel om ons driejarige seuntjie besig te hou – wat doen ’n mens vir soveel ure per dag met ’n peuter?

Vir twee uur op ’n slag het ek met hom gespeel sodat Dewald kon doen wat hy wou. Dan sou ons ruil. Dit het toe ook nie by vyf weke gebly nie. Nie vir kunstenaars nie. Binne ’n paar dae het ons lewe ingrypend verander.

Ek en Dewald spaar altyd vir ’n jaar lank om een keer per jaar oorsee te kan gaan – dit sou beslis nie kon gebeur nie. Eerstens het ons nie geld daarvoor gehad nie, en tweedens is reise beperk. Dit was die maklike deel.

Vier jaar gelede het ons ons eerste huis saam gekoop. Dit was so ’n groot mylpaal. Om ’n huis te besit, voel veilig. Dis jou plek. Ongelukkig kon ons dit nie meer bekostig nie, en moes die huis verkoop.

Dewald moes ook sy meenthuis wat hy vir ’n inkomste verhuur het, verkoop. So ná ons groot stap vorentoe, is ons weer terug in ’n huurhuis. Maar dis ook nie die einde van die wêreld nie.

Min of meer in dieselfde tyd het ons gehoor dat ons driejarige seuntjie se skool nie weer gaan oopmaak nie. Nooit weer nie. Wanneer skole wel sou oopmaak, moes ons ’n ander plan in plek hê. Opsigself ook nie so erg nie, maar die uitdagings het begin ophoop …

Die grootste skok was toe ’n wonderwerk gebeur waarvoor ons vir soveel jare gebid het. Ek was swanger. Regtig? Nou? Vir die eerste paar weke was ek so senuweeagtig en bekommerd dat ek glad nie opgewonde was nie.

Hoe op aarde sou ons alles baasraak? Ons sit sonder ’n inkomste, vir wie weet hoe lank nog. Ons het ons huis verloor, en nou moes ons boonop nog regmaak vir ’n nuwe baba. Ek en Dewald het op ons knieë gegaan en geweet dat net die Here ons hierdeur kan dra.

Ons goeie vriende het jare gelede Rock of Hope as ’n plek van veiligheid vir babas en kinders op die been gebring. Dewald is hulle ambassadeur en ons is ook baie betrokke as vrywilligers. Ons sal gaan help om die kindertjies te bad, voer en doeke omruil – wat ook al nodig is.

Toe ons dit ná drie jaar steeds nie kon regkry om ons gesin uit te brei nie, het ek en Dewald dit begin oorweeg om deur Rock of Hope ’n lyfie aan te neem.

Die vrugbaarheidspesialiste het gesê ons kans om natuurlik swanger te raak is baie skraal, en hulle het IVB aanbeveel. Ons het nie die geld daarvoor gehad nie, en ná baie gebede vrede daarmee gemaak dat ons nie nog ’n biologiese kind sal kan hê nie.
Maar die Here se plan was anders. Al het ek nie daardie eerste maand so gedink nie, kan ek nou sien dat sy tyd perfek was. Ons vriende by Rock of Hope was ook van die eerste mense met wie ons die nuus gedeel het.

Hulle het gedink ons kom bespreek ’n aanneming, maar toe vertel ons hulle van die wonderwerk wat gebeur het. Aan die begin van my swangerskap het ek en my suster Covid-19 gekry, maar gelukkig net baie ligte simptome gehad.

As ek nou daaraan terugdink, weet ek dat ek beslis nie op my eie sou kon staande bly nie.

Een middag, in die rowwe tyd, toe ons nie geweet het hoe ons kop bo water gaan hou nie, het ek pas by die huis stil gehou nadat ek by Rock of Hope gaan help het.

Een van die stigters het my gebel en gesê ek moet agter in my motor se kattebak kyk. Daar was ’n hele boks vol kos. Later toe ek doeke vir my seuntjie nodig gehad het, was dit weer Rock of Hope wat gehelp het. Ons het gedink ons help hulle, maar op die ou einde het hulle ons die meeste gehelp!

Dit is beslis iets wat die pandemie oor en oor vir ons bevestig het. Ons dien ’n groot Here. As ons nie aan Hom vashou nie, sal ons nie hierdeur kom nie. Ons hoop lê steeds daarin dat Hy sal voorsien.

Ek het ook drie ander groot lesse gedurende die pandemie geleer. Die eerste een is dat ek te ongeduldig is. My man, my suster en my seuntjie is drie verskillende mense, en ek moet met elkeen van hulle meer geduldig wees.

Wat maak dit nou saak as daar ’n speelding op die vloer lê? Dit kan maar ’n rukkie daar bly. Alles hoef nie dadelik opgetel en weggepak of skoongemaak te word nie. Ek het ook geleer dat dit soms nodig is om hulp te vra.

Vroeër sou ek self planne gemaak het, maar nou was dit nie meer altyd moontlik nie. Ek moes vra vir ’n pak doeke toe dit nodig was. Terwyl ek siek was en almal mos isoleer, kon niemand winkels toe gaan nie. Ek moes vra dat iemand vir ons brood en melk bring en dit by die hek los.

Die laaste ding wat ek geleer het, was deernis. Ons was almal in dieselfde pandemie, maar het op verskillende maniere gesukkel. Mense wat kon aanhou werk, was op hulle beurt oor ander dinge bekommerd.

Vir sommige was die finansiële impak klein, maar ander dinge moeilik. Ons almal se verliese was anders, maar ewe erg. Jy kan nie jou omstandighede met ander s’n vergelyk nie, want jy het nie regtig ’n idee wat hulle moet trotseer nie.

Behalwe vir ons tweede seuntjie, is daar vir my nog ’n “baba” uit die pandemie gebore. Dis ’n konsep waaraan ek al lankal gedink het, en ook weer opnuut oorweeg het toe ek hoor dat ons verwag.

Ek het besef dat ek nie sommer net in ’n winkel sou kon inloop om babagoed te koop nie. Ons moes regtig al ons sente omdraai. En ’n mens het nie regtig geweet wanneer dit weer gemaklik sou wees om sommer gou iets te gaan koop nie.

Numa Baby is ’n aanlyn baba-en-kinderklerewinkel wat tweedehandse kleertjies verkoop. Alle nuwe mammas wil so graag mooi klere vir hulle babas aantrek, maar dis so duur! Hulle groei ook so vinnig dat jy baie goed dalk net een keer vir hulle kan aantrek.

Boonop is dit baie goed vir die omgewing om te herwin – nog iets wat my na aan die hart lê. By Numa kan jy iets vir ’n fraksie van die winkelprys koop, en ook jou deel doen om besoedeling te bekamp.

Van my goeie vriende het ingespring om te help klere bymekaar maak. Al koop ek klere aan, het ek so baie donasies ook gekry. Alles net genade.

Omdat Dewald toe nie gewerk het nie, het hy homself geleer hoe webontwerp werk en die aanlyn winkel gebou.

Aanvanklik het die winkel baie goed gedoen, maar so effens stiller geword na die einde van my swangerskap toe. Dit was moeilik om by alles uit te kom, maar ek het beslis nog groot drome vir Numa.

Daar was al heelwat verskillende geld-seisoene in ons lewe, en dit het nie regtig iets aan wie en wat ons is verander nie. Met min geld is ons gewone en gelukkige mense, en met meer geld is ons steeds gewone en gelukkige mense.

Vir vier maande lank aan die einde van verlede jaar, het ek ’n tydelike aanstelling gekry wat ons baie gehelp het. Al het ons steeds nie ’n vaste inkomste nie, werk ons so mooi moontlik met ons finansies.

Dewald het ’n kunstenaarsiel, maar ’n besigheidsbrein. Gelukkig. Ek vertrou die besluite wat hy neem. Op die oomblik vat ons dit steeds net dag vir dag. Nuusberig vir nuusberig. Elke einde van die maand se betalings op ’n keer.

Ons het regtig nog nie eintlik ’n uitkoms nie, maar beraam planne en vra hulp soos ons dit nodig kry. Nie ek of Dewald is bitter oor enigiets nie. Natuurlik droom ons nog oor die toekoms – en ons sal hard werk om dit ’n realiteit te maak.

Deur alles, was Dewald my rots. Hy het elke keer net op die regte tyd die regte ding gesê om my weer moed te gee. Iets wat ek onthou en wat vir my uitstaan, was toe hy gesê het: Geen pandemie is groter as ons God nie.

Elke keer wanneer ek bekommerd raak, herinner Dewald my daaraan dat die Here ons elke dag vashou. Dat Hy baie lief is vir ons, en Hy sal ons hierdeur.

Al probeer ek baie hard om elke dag positief te wees, is dit nie altyd moontlik nie. Dis net menslik. Ek gun myself daardie donker dae, en hou selfs dan aan die Here se beloftes vas. Hy sal ons nooit verlaat nie.

Is ons spyt oor ons loopbaankeuses? Glad nie. Ons het nog nie een oomblik gevoel dat ons talente ons in die steek gelaat het nie. Wat gebeur het, was buite ons beheer. Natuurlik is dit ’n jammerte dat die kunste so swaarkry.

Daar is heelwat dinge wat ek mis. Soos om vinnig iemand te ontmoet vir koffie – en vir hulle ’n drukkie te gee! Baie ding gaan ook verander. Vertonings soos wat ons geken het, gaan nie meer voortleef nie. Ons sal nuwe planne moet maak.

Wat in die wêreld gebeur het, kon niemand voorspel het nie. Hoe jy daarop reageer, kan jy egter wel beheer. Uiteindelik moet ons opstaan, aangaan en die groter prentjie probeer raaksien.

Vorige artikelDie boodskap wat jou lyftaal oordra
Volgende artikelHOE OM … jou swakpunte te erken