Gustav Gous: “Die dood maak my nie meer bang nie”

452

GUSTAV GOUS lewe wyd, diep, hoog en vinnig. As spreker en bedryfsafrigter gebruik kliënte oor die wêreld heen sy tegnieke om hulle gevoelens, gedagtes en gedrag te bestuur. Toe hy weens Covid–19 byna dood is, moes hy sy eie raad volg – want angs is dodelik.

Dis heeltemal te vinnig. Op die skermpie langs my bed klim die lesing op die hartklopmonitor tot bo 200. My lyf gaan dit nie maak nie. Vroeër die dag was dit 40.

Dis amper die ergste … om die heeltyd te sien hoe my immuunsisteem spook om teen die virus te baklei.

Ek is op die rantjie van die dood. My suurstofvlakke is te laag, ek sukkel om asem te kry. Die benoudheid druk op my bors. Dit voel of ek langs ’n afgrond staan waar die wind my enige oomblik kan afruk.

Iets van hierdie gedagtes en gevoel is bekend – wat is dit? O, ja, Kilimandjaro. Op die kruin, was die suurstof dodelik min. Maar ek het dit gemaak. Komaan, Gustav, jy kan weer. Vergeet die vrees, en fokus daarop om gesond te word.

’n Paar weke tevore was ons almal met vakansie in die berge. Dinge het baie vinnig verander. Die moegheid was nie bloot ’n normale einde-van-die-jaar gevoel nie. Dit was die begin van die geveg van my lewe.

My vingers is swak, maar ek kry dit reg om Spotify op my foon oop te maak. Opgewekte musiek help my baie om donker gedagtes te keer. Stadig maar seker motiveer die ritme en melodie my. Asem in, asem uit. Dit hou my gemoed hoog.

Ek lê meestal op my maag – dis deel van die behandeling. Maar dit raak gou onuithoudbaar. Dis ’n groot verligting om weer op my rug te lê. Ek is wawyd wakker. Bokant my, raak die plafon al hoe helderder, totdat dit verdwyn.

Al wat oorbly, is ’n helder, lieflike lig. Nie ’n skerp lig nie. Net helder. Ek kan daarvoor kyk sonder dat my oë seerkry. Voor die lig, vlieg ’n duif verby. Dit is een van daardie een-in-’n-miljoen oomblikke. As my kamera net naby was.

Maar ek besef ook: Hierdie is die grens tussen lewe en dood. Hy kom my haal. Dis altyd wat gebeur wanneer mense die lig sien. Hierdie is die einde vir my. Dan verander iets. Die duif kom nader. Vinnig. Die duif daal op my neer en ek voel ek word vervul, voller en voller tot oorlopens toe vol. Soos ’n glas wat vol raak en dan oorloop. Ek loop oor.

Uit my uit, en van die bed af, deur die hospitaal loop hierdie lewegewende vloeistof. Dit voel asof daar ’n poort van die hemel af oopgaan en die Here se magtige teenwoordigheid ontbloot. Ek beleef Sy verruklike teenwoordigheid.

Want soos altyd, het ek nie gebid vir genesing of vir ’n Woord nie, maar vir Sy teenwoordigheid. Dit maak nie saak wat gebeur nie, as Hy daar is, sal dit oukei wees. Daardie vrede wat alles verstand te bowe gaan, vul my. Ek weet ek gaan oorleef.

Hierdie was nie veronderstel om met my te gebeur nie. Ek was fiks, gesond en het die nodige protokolle gevolg. Maar Covid-19 steur hom nie noodwendig aan wat jy dink nie, enigiemand kan siek word.

My hele gesin was siek – wie waar aangesteek het, sal ons nooit weet nie. Gelukkig was hulle almal net effens siek met baie ligte simptome. My 76-jarige skoonma ook. Dis net ek wat in die hospitaal beland het – die onwaarskynlikste een. Voor hierdie episode, was ek nog net twee keer in die hospitaal vir sportbeserings.

Ek is nie ’n siek ou nie. Maar op 2 Januarie 2021 moes ek eenvoudig hospitaal toe gaan. In my gees het ek geweet dit is tyd om hulp te kry. Natuurlik hoop ’n mens dit sal sommer vinnig oorwaai, maar in die hospitaal het dinge heelwat erger geraak.

Al is die dood deel van die lewe, was ek regtig nooit lus om dood te gaan nie. Wie sal vir my vrou en kinders sorg en lief wees? Wat sal met hulle gebeur as ek nie meer daar is nie? En wat as ek nou stoksielalleen hier in die hospitaal doodgaan?

Maar kinders van die Here gaan beslis nie alleen dood nie. Dit het ek self ervaar. Daar is ’n vriendelike, liefdevolle ontvangs. Met ’n persoonlike verhouding met die Here, sterf jy nie alleen nie – dit weet ek nou meer as ooit tevore.

Tog sal ek steeds aanhou baklei teen die onmenslike mediese protokolle wat in hospitale geld. Mense het hulle geliefdes nodig. Ondersteuning. Kontak met die buitewêreld. As dit nie vir my selfoon was nie …

Kom sesuur, tik ek op die skermpie. Die hospitaal vensters is getint. Bedags kan ’n mens nie na binne sien nie, en saans nie na buite nie. Maar net voor die son sak, behoort die ruite deursigtig te wees. Dan gaan my vrou en kinders in die parkeerarea kom staan.

Versigtig vou ek die papiertjie op waarop ek ’n paar woorde geskryf het. Eers die neus, en dan die vlerke. Net voor ses gaan staan ek voor die venster met die papiervliegtuigie in my hand. Hulle stop en klim uit. Ek maak die venster oop en waai met my arm daardeur.

Ek gooi die vliegtuigie uit. Dit land op die vensterbank onder my. Ons lag. Wat nou? Gelukkig is dit ’n winderige dag en die wind waai dit tot op die volgende vensterbank. En dan tot onder. Ons kuier ’n rukkie oor selfone voordat dit tyd is vir hulle om te gaan.

Terug in my bed, besef ek hoe belangrik geliefdes is. Veral wanneer jy swaarkry en siek is. In die toekoms, gaan ons nog ons koppe in skaamte laat sak oor almal wat dood is sonder dat iemand hulle hand vasgehou het.

Nadat ek die Here se teenwoordigheid gevoel het, was daar nog ’n lang pad om te stap. Al het Hy vir my gewys waar ek gaan eindig, is ek nie daar “afgelaai” nie – ek moes self loop. Dit was moeilik en seer.

En daar was ’n kort oomblik toe alles te veel was. Al het die Here vir my gewys dat die dood buite my bereik is, en dat ek nog werk op aarde het, was dit vir ’n paar minute moeilik om te glo. Alles was moeilik. Om asem te haal, om te baklei, om te lewe.

Het ek nie ’n goeie lewe gehad nie? Genoeg gedoen nie? Kan ek nie maar gaan nie? Gelukkig kon ek daardie gedagtes baie gou keer. ’n Mens moet jou gedagte bestuur, en sommige gedagtes bestuur jy deur hulle uit te smyt. Ander koester jy in jou geestesoog: Die liefdevolle gesigte van my vrou en drie dogters het my laat aangaan.

Die Here kan baie dinge vir jou doen, maar net jy self is verantwoordelik vir jou gedagtes en gevoelens. In die hospitaal het ek baie mense gesien wie se emosies uitrafel. Omdat Covid-19 amok maak met jou hartklop en asemhaling, kan angstige emosies dit regtig erger maak.

As gevolg van die pandemie, is die hele wêreld amper in ’n angs-neurose. Meer as ooit tevore moet ons mekaar moed inpraat. Mekaar help om op goeie goed te fokus, en die geleentheid in die verleentheid raaksien.

Al was ek siek, het ek besluit om op gesond word te fokus. Dis waaraan ek gedink het. Wat moet volgende gebeur? Die fisioterapeut se instruksies gevolg. Blaas. Hoes. Doen wat sy sê. Wees hier en nou besig met die dinge wat belangrik is.

Hierdie was nie ’n wedloop wat ek in een tree kon wen nie, maar tree vir tree. Met die hulp van die Here, my slim dokter, die mediese personeel, my ondersteuningstelsel, my eie immuniteit, en ook deur my eie emosies en gedagtes te bestuur.

Een of twee pasiënte het ek oor alles hoor kla. Ek was net dankbaar oor die ongelooflike personeel. Dokters wat jare geswot het en ure gewerk het om ’n verskil in die wêreld te maak. Dokters wat Covid-19 se kode gekraak het, wat weet wat om met pasiënte te maak.

Ek was verwonderd oor hoe ongelooflik ’n mens se lyf gemaak is om teen ’n virus te veg. Daarom het ek my bes probeer om dit makliker te maak, nie moeiliker nie. Verder was daar wêreldwyd mense wat vir my gebid het.

My vrou het ook tuis die fort gehou en gesorg dat ons kinders oukei is. Daar was soveel mense wat gehelp het, en ek glo dit is wat gemeenskappe moet doen. Sommer met praktiese goed soos gras sny, kos maak, en dalk help om ’n kar se pap battery aan die gang te kry.

’n Onlangse ondersoek het gewys dat ek geen permanente longskade opgedoen het nie. Waar my longe vroeër soos wolke gelyk het, kan ek nou lekker diep asemhaal. Daardie gevoel is onbeskryflik – dis soos water in ’n woestyn.

Om weer te kan oefen, is ’n ongelooflike voorreg. Natuurlik het ek spiermassa verloor, en moet in baie opsigte voor begin. Dit voel ook asof my bergklim-bene weg is, en ek baie meer onvas op my voete is. Maar dit is ’n proses, ek sal weer sterk en fiks word.

Deesdae ry ek gereeld by die hospitaal verby. Daar was ’n tyd toe ek binne gelê het en na buite gekyk het. Al die eetplekke en oefenplekke aan die oorkant van die straat was so ver buite my bereik.

Nou kyk ek van buite af in. My hart is vol dankbaarheid en vreugde. Dis amper asof ek van vreugde bars. Ek wil opnuut vir mense vertel dat dit nie sinvol is om hulle met nonsens op te hou nie. Leef.

En leef saam met die Here. Beleef Sy teenwoordigheid, en vestig ’n intieme verhouding met Hom. Al was hierdie dinge nog altyd vir my belangrik, is ek opnuut passievol daaroor. Glo vir my, wanneer jy by die grens van die dood kom, wil jy die Here daar saam met jou hê.

Baie ander mense het nie Covid-19 oorleef nie, ek weet. Hoekom hulle? Dit weet ek nie. Maar dit is ook nie iets waarvoor ek ’n antwoord gaan soek nie – watter verskil gaan dit maak? Al wat ek weet is dat ek nog leef – met ’n doel. So, nee, ek het nie survivor’s guilt nie, dalk eerder survivor’s responsibility.

Ek het myself lankal reeds daarmee versoen dat dood deel van die lewe is. Mense sterf, en nuwe mense word gebore. En wanneer iemand sterf, het die res van ons ’n verantwoordelikheid om die aflosstokkie by hulle op te tel. Dis wat ek doen.

Hierdie hele ervaring het my nuwe vuur gegee om regtig te lewe, om ’n verskil te maak. En om ander mense aan te moedig om ’n verskil te maak. Dit is in elk geval die beste manier hoe jy iemand wat dood is, kan eer – deur voluit vorentoe te lewe. Dít is jou verantwoordelikheid.

Al het ek oorleef, weet ek beslis nie vir hoe lank ek nog op aarde gaan wees nie. Niemand weet nie. Maar wanneer ek die dag sterf, wil ek nie hê ander mense moet gedemp voel deur my dood nie. Dit moet jou eerder inspireer.

Elkeen van ons is gebore as ’n oplossing vir ’n probleem – en die wêreld is vol probleme. Moenie jou talent selfsugtig vir jouself hou nie, deel dit. Leef dit. Jy hoef nie noodwendig ’n sendeling te wees om ’n verskil te maak nie – onderwysers, boekhouers, ingenieurs, almal kan ’n impak maak.

Ek het nog altyd voluit gelewe – drie lewens in een probeer druk! Dit gaan beslis steeds so wees, dalk net nog lekkerder. Want ek het my vrees vir die dood verloor. Behalwe daarvoor, het die ervaring my geleer wat regtig belangrik is.

Op die grens van die dood, bly belangrike dinge belangrik, en onbelangrike dinge bly onbelangrik. Die lewe is kort, kry jou prioriteite reg.

Tydens die vakansie in die berg, was ek moeg. Moeër as gewoonlik. Maar ek het dit geïgnoreer. Soos altyd het ek saam met die kinders geoefen, en tydtoetse teen ’n bult op gedoen. Daardeur het ek myself moontlik meer skade aangedoen.

Soms moet ’n mens effens briek aandraai en luister wanneer jou lyf vir jou sê hokaai! Ons almal het drie vlakke van energie: fisiek, geestelik en emosioneel. Al drie is nie altyd ewe sterk nie, en vul mekaar aan. Maar soms kan een heeltemal uitgeput raak sonder dat jy dit besef. Ek het vreemd genoeg, meer energie ná Covid, as voor dit.

Wat ek probeer sê is, moenie die dood gaan soek nie, maar moet dit ook nie vrees nie. So vreesaanjaend en pynlik soos wat hierdie hele ervaring vir my was, sal ek dit enige tyd weer doen – net om daardie kosbare teenwoordigheid van die Here te ervaar.

Vorige artikelMoenie spyt wees deur te vinnig te praat nie
Volgende artikelOm iemand anders of jouself te wees?