“Ons brug van dood en moedhou”

121

Wat ’n doodgewone Vrydagoggend moes wees, het vir die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark in ’n nagmerrie verander. In die mees onwaarskynlike ongeluk, het een van die skool se loopbrûe bo–op ’n groep leerders geval. Vir ’n paar skrikwekkende oomblikke was Chantelle van den Berg tussen die twee sementblaaie vasgepen …

Die stilte. Dit is iets wat ’n mens vir niemand kan beskryf nie. Daardie eerste oomblik van doodse stilte ná die harde slag. Dis donker. Al die foto’s is van buite af geneem.

Onder die brug was ’n ander wêreld. Een sonder lig, sonder asem, met die dood om die draai.

Is dit hoe dit voel om dood te gaan? Of is dit hoe dit voel om te probeer oorleef?

Toe begin die gille. Histeries. ’n Mengsel van vrees, afgryse, skok en pyn. Ek sit vas. Dis moeilik om te sien. My enkel pyn verskriklik. Dis ’n goeie teken. Pyn beteken lewe.

Here, gee vir my asseblief ’n tweede kans. As dit U wil is. Hierdie is nie in my hande nie … Bid almal só wat besig is om dood te gaan? Is ek besig om dood te gaan?

Vlak asemteue sukkel ruk-ruk deur my bors. Dalk my laastes. Dit het geklink soos ’n bomontploffing, maar dit kan tog nie wees nie.

Iets anders het gebeur. Alles is deurmekaar. Ek is deurmekaar. Wat gaan aan? Eina! Here, asseblief … Links van my, in die lig wat deur ’n opening val, is iemand se been.

Dit lyk of hy die ding wat op ons lê, probeer oplig. My hand gryp in die voet se rigting, en kry iets raak gevat voordat ek skree: “Help my!”

Versigtig lig ’n paar hande my skouers op en begin my uitsleep. Alles pyn. Die son is skielik so skerp. Asem. Ek sukkel om asem te kry. “My vriendin! Kry haar, sy is nog daar onder,” roep ek. Iemand probeer verduidelik dat hulle besig is om almal te help. Hulle sal haar nou daar uitkry. “Sê asseblief vir my sussie ek is lief vir haar,” smeek ek oor en oor vir enige iemand om te hoor. As daar iets met my gebeur, sy moet dit asseblief weet …

Dit was 1 Februarie 2019. Ek is toe nie dood nie, maar niks sal ooit weer dieselfde wees nie. ’n Jaar later is dié tragedie nog helder in my gedagtes – die stof, die benoudheid en die seer. Maar glad nie meer met dieselfde vrees nie.

Die eerste paar weke ná die ongeluk, in die hospitaal, is ’n deurmekaarspul van pyn, operasies, hartseer en liefde. Soveel liefde.

Daar was honderde pakkies en boodskappe. Elke gedagte en gebed het my gehelp om te herstel. Aan die begin was ons nie van al die beserings bewus nie. Van my rugwerwels was beseer, en sommige ribbes gebreek, my bekken was op ’n klomp plekke gekraak, en my stuitjie ook. My linkervoet was ook ernstig beseer.

Vandag, meer as ’n jaar later, is ek steeds besig om te herstel. Natuurlik sou ek wou hê dat alles sommer net “reg” moet wees, maar hierdie is ’n proses.

Van buite af mag die proses dalk wreed lyk, maar daar is soveel genade en vrede in my hart oor die pad vorentoe. Die klomp klein wonderwerke wat tussendeur gebeur, help my om die groter prentjie te sien.

Destyds, in die hospitaal, was die dokter in trane toe ek wou weet: “Wat van my matriek?” Dit was my laaste skooljaar. My drome het beslis nie ’n lang lys beserings ingesluit nie.

Ek wou hard leer, goeie punte kry, matriekafskeid toe gaan, en ’n onderwyser word. Snaaks hoe ’n mens die een dag nog wonder oor die perfekte lap vir ’n rok, en die volgende dag hoop dat jy eendag weer sal kan loop.

Ná die ongeluk, was daar baie struikelblokke – maar om daarby vas te haak, is ’n keuse. Ek is daardie oggend onder die brug uitgesleep met die wete dat daar beslis kinders gaan dood wees. Dat ek een van die gelukkiges was. En dat ek sou moes uitvind hoekom?

Desperaat om sin te maak uit die tragedie, was my doelwitte amper onmenslik. Om matriek te slaag, dieselfde jaar nog. Om weer te loop, én te gaan swot. Rondom my, het my gesin elkeen op hulle eie manier probeer om te help waar hulle kan. Terwyl hulle self ook die trauma moes verwerk.

My ma het ’n paar keer per dag met my skool toe gery. Dan het sy my rolstoel van die kar af langs al die tydelike skooltente op die rugbyveld verbygestoot, tot by die een waar my klas was. Dikwels, om my ’n uur of wat later weer te kom haal. Want dan was die pyn en die moegheid net te veel.

Terwyl ons in die tente skoolgegaan het, was alles vir my redelik toeganklik met die rolstoel en krukke. Die dag sou egter kom dat ons terug sou trek skoolgebou toe, en dan sou dit ’n ander storie wees. Dit het gouer gebeur as wat ons verwag het, en saam met my ma en pa het ek die moeilike besluit geneem. ’n Ander skool was al uitweg. My hart was al weer gebreek. Snaaks hoe moeilik dit is om afskeid te neem van ’n plek waar jy so seergekry het … ]

Aan die einde van my ramp-jaar, het ek teruggekyk met vrede en sonder enige bitterheid. Mense is skepties oor my uitkyk. Hulle beskou my positiewe gesindheid as die een of ander naïwiteit. Wat hulle egter nie weet nie, is dat die Here lank voor daardie tragedie reeds met my begin werk het. Hy het my voorberei sodat ek eendag ander mense kan help om ’n triomf in hulle eie trauma te ontdek.

Net voor die brug bo-op ons in duie gestort het, het ek ’n skermskoot van my slimfoon geneem. Op daardie presies oomblik, het ek 911 treë vir die dag gegee. “Hier kom ’n ramp!” het ek spottenderwys gesê.

Later, in die harwar, het my vriendin se ma amper haar horlosie op die skoolterrein verloor toe dit van haar arm afval. Toe sy die horlosie optel, het dit op 9:11 gaan staan.

En in die hospitaal, het iemand vir my ’n wit klippie kom gee met Psalm 91 vers 1. Ek het aan daardie teks vasgehou.

Dit maak nie saak wat op aarde gebeur nie – en slegte goed gebeur gereeld! – die Here beskerm Sy kinders. Nie altyd op die manier waarop ons wil hê nie, maar beslis in die gees.

My lyf is nog effens stukkend, maar my siel is gesond. 911 beteken nie ’n ramp nie, maar oorwinning.

Natuurlik was alles nie maklik nie, maar daar was elke keer iemand wat my moed ingepraat het – familie, onderwysers, vriende, selfs my biokinetikus!

Danksy vasbyt en ondersteuning was ek toe by my matriekafskeid, het ek matriek geslaag, toelating tot universiteit gekry, en kan ek weer loop. Daarom wil ek graag dieselfde vir ander mense doen. Daar wees.

Ná my graad in pastorale sielkunde, wil ek onderwys gaan studeer. Ek wil myself so goed moontlik bekwaam om kinders te help wat trauma beleef het en sukkel om die lig te sien.

Ons elkeen se pyn en lewenspad lyk anders, maar ons almal het mekaar nodig om saam die storms te trotseer. Onder daardie donker brug, het ek gesmeek vir ’n kans om ’n verskil te kan maak. Nou gaan ek dit doen.