Oorgawe bring genesing vir ons gesin

1132
werner joubert en gesin

WERNER JOUBERT van Survivor en sy vrou, Juné, se plan vir ’n tweede kind wou net nie uitwerk nie. Angs het hulle harte vasgegryp. Vandag, nadat hulle ’n dogtertjie aangeneem het, is God se Vaderliefde ’n werklikheid danksy die manier hoe Hy hulle gesin saamgestel het.

Jou hart kwyn van verlange. Sonder enige kommunikasie met jou familie, sit jy vir twee maande op ’n eiland en wonder of jy weer pa geword het.

Ek het ’n dag nadat die betaling aan die maatskaplike werker gedoen is om die aannemingsproses te begin, na die Filippyne vertrek vir die verfilming van die TV-reeks Survivor.

Kort ná my terugkoms het ons die oproep ontvang. Oor ’n week sou sy in ons arms wees.

My hart het in daardie oomblik verskriklik vinnig geklop. Ons het dadelik begin om haar kamer mooi te maak. Elke keer wat ek daar sou instap, het ek daarvan gedroom om haar vas te hou. Iets wat vir so lank onmoontlik gevoel het, vertel Juné.

Juné se liefste vriendinne het in ’n rekordtyd ’n baba-tee gereël en almal het saam met ons uitgesien na haar koms. Uiteindelik!

’n Mens probeer om nie te veel te hoop nie, maar jy kan nie help nie. Jy sien uit om weer te hoor jou vrou is swanger. En dan kom dáárdie dag in die maand en sy is wéér nie swanger nie – vir drie jaar lank. Telkens stort ’n mens se wêreld in duie en die groot hartseer oor nog ’n teleurstelling is van voor af daar.

Jy raak angstig as jou gesinsbeplanning nie uitwerk nie. Die gaping tussen die eerste en tweede kind gaan so groot wees, vertel Juné.

Natuurlik het ons probeer om ons harte en geloofsvertroue te beskerm, maar dit raak baie moeilik soos die jare aanstap.

Daar was een dag wat ons onder ’n boom gesit en letterlik getreur het. ’n Treurhuil – onbedaarlik en aanhoudend. ’n Vriendin – wat al self nege jaar wag om swanger te word – het oor die foon na die trane geluister. Ondanks haar eie pyn was sy altyd daar.

Dit was rof.

Dit is ’n reuse-uitdaging om nie met ’n swaarmoedige hart te vra nie, hoekom ons? Jy sukkel om geduldig te bly en frustrasies maak jou met tye swak en moedeloos.

Jy wéét Sy wil is die beste en jy sal berus daarby. Of jy sal ten minste probeer. Maar ’n mens se emosies raak buite beheer en ’n weerloosheid bekruip jou in die wagtydperk, vertel Juné.

Aanneming was nog altyd in ons agterkop. Miskien eendag. Soos die jare verbygegaan het, was dié gedagte al hoe meer op die voorgrond.

Op pad terug van nóg toetse en teleurstellende uitslae, het ek die Here reguit gevra om die rigting vir die toekoms aan te dui. Dit was ’n vinnige gebed wat uit net een sin bestaan het. Gaan ons weer swanger raak, of is aanneming die antwoord? Die wag het ons gebreek.

Honger, het ons besluit om ontbyt te eet by ’n plekkie wat gewoonlik daardie tyd van die dag doodstil is. En toe ons gaan sit en links kyk, was die antwoord reg voor ons. Slegs enkele minute nadat God gevra is om te wys hoe die pad vorentoe sal lyk. Saam met ons in die restaurant was ’n paartjie met ’n aangenome seuntjie.

Die antwoord was so duidelik. Trane van verligting het oor ons wange gestroom. Daardie paartjie het die geloof gegee om die groot stap te neem.

Dit was die eerste bevestiging. Van daar af was daar verskeie tekens. Die seisoen het uiteindelik gedraai. Daar was weer hoop. ’n Nuwe vooruitsig.

Daar kom so vinnig genesing as jy jou hart na God toe draai. Wanneer ’n mens kies om liewer die uitdaging – ’n nuwe rigting – te aanvaar. Vir die eerste keer in maande was daar ’n diep tevredenheid.

Ons gáán weer ouers word!

As Pa het ek dadelik geweet dit is óns dogtertjie. Die maatskaplike werker het om die draai gestap gekom en Juné se gesig het boekdele gespreek. Sy het ’n oulike rokkie aangehad en haar koppie was met ’n kopband versier.

Dit was amazing om in daardie oomblik te weet Juné is Talitha se ma. Dis onmoontlik om onaangeraak te bly en die trane het gevloei. Sy was net ses maande oud, maar sy was onmiddellik ons dogter, asof sy uit ons vlees gebore is.

Jy wonder soms of dit werklik so gaan voel, maar jy vind gou genoeg uit.

Die liefde wat in jou hart gebore word, is onwerklik. Daardie liefde daag my uit, want dit is opregte Vaderliefde. Hy het ons ook aangeneem. Hy is nie ’n vêr-Pappa nie. Hy het die weeskinders van die wêreld sonder voorbehoud Sy eie gemaak.

Ek vergeet soms ons is nie haar biologiese ouers nie. Sy voel dan soos ons eie.

Ons seuntjie, Kaleb, was van die begin af deel van gesprekke oor ’n sussie wat anders sou lyk. Hy was baie opgewonde. As deel van die aansoek, was ons vir ’n onderhoud, waarna ons ’n babahuis besoek het. Kaleb het sommer dadelik gevra watter sussie neem ons huis toe.

Deesdae kondig hy vir almal in die openbaar aan dat Talitha sy sussie is. Ons moes ook ons ouers voorberei op dié groot besluit. Alhoewel dit ons proses was, wou ons ons ouers saam neem op die reis. Hulle love Talitha en bel haar gereeld.

Aanneming bly ’n uitdaging. Maar die berg is nie so hoog en onmoontlik soos jy dit vir jouself voorstel nie. Solank jy daardie passie en liefde in jou hart dra, is dit ’n genotvolle proses van saamgroei as gesin. Dit is doenbaar!

Daar was ander gesinne wat hulle stories gedeel het en baie vrae beantwoord het. Ander aanneemmammas het gehelp om ’n groter vrede te bring. Dis nodig om ’n pad saam met ander gesinne te stap.

Niemand van ons wil hoor dat jy nie kan swanger raak nie. Dit is dinge wat ’n mooi gesinsprentjie vertroebel.

Maar vandag weet ons, God se hart ís vir familie. En selfs wanneer dinge nie gebeur soos ons gedroom het nie, maar ’n mens steeds vertrou, sien jy Sy hand in jou familie.

As Mamma, kyk ek terug na wat my ideale plan was. Wanneer dit nie realiseer nie voel dit of alles in jou breek. Dit wat ons nou as gesin het, is soveel meer ideaal. Dis asof ek nog altyd hierdie droom gehad het om vir Talitha te hê en dit nooit geweet het nie. Sy pas perfek in ons hartsbegeertes.

Sy was eintlik van die begin af plan A vir ons gesin. Dit is emosies wat jy nie kan beskryf nie. Ons kan beplan, maar as ons totaal oorgee, is daar ’n waarborg dat dit die beste uitkoms sal hê. Dit weet my moederhart nou.

Ewigheidstydlyne is nooit in ons hande nie. Talitha was vir ons bestem. Maak nie saak wat jou stryd is nie, as jy aan die groter plan vaskleef, word daardie moeilike tye meer verdraagsaam.

Hy is getrou om te wys en te leer.

As ons, ons harte in die Here se hande plaas en Hom toelaat om ons te vorm, sal daar groei plaasvind. Berge word in harte geskuif. ’n Mens moet net oorgee.

Die seer om nie weer ’n biologiese kind te kan hê nie, is vergete. Dit is totaal genees.

Talitha sal vir altyd ’n spieël bly, een wat ons na God toe wys.