“Sukses gebore uit moeilike omstandighede”

129

Ralf Schmitt ken wêreldverhoë. As musiekvervaar– diger het hy al saam met Andrea Bocelli en Shakira gewerk. Maar hierdie keer was dit anders. Hy moes sorg dat die Ndlovu Jeugkoor op America’s Got Talent sukses bereik. En hulle het. Ongeag hulle moeilike omstandighede.

Ek is glad nie ten gunste van kunskompetisies nie. Kuns moet kuns wees. Daar is nie veronderstel om wenners en verloorders te wees nie.

Maar hierdie ding moet deurgesien word.

Ons het heeltemal te lank en te hard vir ’n deurbraak gewerk – dalk is hierdie ons groot kans?

Toe ek aanvanklik by die Ndlovu Care Group betrokke geraak het, moes ek net ’n paar personeellede help om ’n liedjie te sing. Soms verwonder ek my steeds daaraan dat dit die begin van ’n jeugkoor was. Nogal ’n professionele een waarvan die lede geld vir optredes verdien.

Elke jaar kom sing hoopvolle kinders in stukkende klere ’n paar reëls tydens ’n oudisie. Vir sommige is dit ’n laaste kans om ’n klein bietjie vreugde in hulle armoedige bestaan te vind. Daarna is dit my besonderse voorreg om noot vir noot te sien hoe hulle weer mens word. Iemand wat in ’n toekoms glo. Net nog ’n doodgewone kind met oë wat blink.

Met my beperkte voorstedelike verwysingsraamwerk het ek aan die begin gesê koorlede mag nie ouer as 18 wees nie. Dis mos wanneer jy die skool verlaat? Wel, nie as jy in een van die armste gemeenskappe in ons land bly nie. Ook nie as jy dalk ’n paar jaar moes af vat om na jou boetie en sussie te kyk nadat julle ouers dood is nie. En ook nie as daar skaars geld vir kos is nie …

Om die ouderdomsperk van die Ndlovu Jeugkoor te lig, was nie ’n genoegsame oplossing nie. Ons het gou agtergekom dat die meeste van ons oud-lede ná skool chill. Dit is bloot ’n sagter woord vir werkloos, rigtingloos, sonder studiegeld, en sonder hoop. Ons moes ’n plan maak om hulle te behou.

Deesdae werk ’n hele klomp van die ouer koorlede voltyds vir ons. Een het ’n kode-14-rybewys gekry en is nou ons busbestuurder. ’n Ander een is my assistent, en ’n paar help met die garderobe – elke koorlid het vyf kostuums wat gewas, gestryk en gebêre moet word.

Ter wille van finansiële volhoubaarheid, het ons ’n Zoeloe-weergawe van Ed Sheeran se Shape of you opgeneem. Voordat ek mense kon oortuig om ons vir hulle gesellighede te bespreek, moes hulle seker kon sien en hoor wat ons doen? Min het ek geweet dat dit America’s Got Talent (AGT) se aandag ook sou trek.

Ons is vir ’n oudisie genooi, en ek het gedink ons is reg daarvoor. Inteendeel, ons is net so goed, indien nie beter nie, as baie internasionale kore wat ek al gehoor het. Maar ek het baie gou agtergekom dat daar wel ’n groot, groot verskil is …

Anders as by ’n spogskool waar die meeste leerders ’n stampvol paspoort het, het nie een van my koorkinders onverkorte geboortesertifikate gehad nie. Sommige het nie eens geweet waar hulle ouers is nie, en ander s’n was reeds dood.

Gelukkig is ons deel van die Ndlovu Care Group. ’n Groep maatskaplike werkers het ingespring en gesorg dat elke kind se dokumentasie reg is om eers ’n paspoort, en dan ’n visum te kry. Soveel mense het ons op soveel maniere gehelp. “It takes a village to raise a child” kon netsowel gewees het: Dit verg ’n woonbuurt om ’n jeugkoor op ’n vliegtuig te kry!

Al is die koor groter, het ons besluit om net 24 lede op ’n keer te neem. Dit raak baie moeilik om met ’n groter koor te reis. Selfs verhoë raak beknop met meer lywe wat sing en beweeg. Ons het nie geweet hoe ver ons in die kompetisie sou vorder nie, wat beteken het dat sommige lede dalk nie oorsee sou kon gaan nie.

Keer op keer het die koorlede my verstom. Ons het ’n etos in die koor wat deurslag vind in alles wat ons doen: ’n Wond vir een, is ’n wond vir almal. Maar ook: Glorie vir een, is glorie vir almal. Dié wat dalk sou moes agterbly, sou nooit by die sukses en glorie uitgesluit wees nie.

Gelukkig het ons na die volgende rondes deurgedring. Almal het dus ’n kans gekry om saam te reis en oorsee op te tree. Benewens ons eie mense, het die Amerikaners ons ook baie gehelp.

Vir die eerste twee uitdunrondtes moes ons elke keer vir net vier dae Amerika toe gaan. Doodmoeg moes ons optree, en nog moeër terugvlieg! ’n Goeie kombinasie van dissipline en adrenalien het ons deurgedra. En gelukkig het elke reis makliker verloop. Aan die begin het ek gesukkel om die hele koor op n bus te kry. Deesdae boek elkeen sommer aanlyn in en kry my op die vliegtuig.

“Ons kry jou by die taxi rank, meneer,” spot hulle oor die lughawens waar hulle nou so tuis is. My hart blom trots elke keer as ek sien hoe hulle met blinknuwe tekkies tussen die ander reisigers beweeg. Hulle dae van stukkende skoene en platsak wees, is vir eers verby. Ná al die swaarkry en harde werk, verdien hulle elke seëning wat na hulle kant toe kom.

Sukses bring egter nie net vreugde nie. Vir die finale rondte, moes ons vir ses weke in Amerika bly. Al was daar baie goeie tutors, is dit nie altyd moontlik om op die hoogte van skoolwerk te bly nie. Daarom moes ons ons matrieklede tuis los, al was dit baie swaar.

Bekommernis oor ’n moontlike bakleiery tussen die koorlede wat so lank saam in ’n hotel moet bly, en onder baie druk moet presteer, was onnodig. Hulle het die hele ervaring fluit-fluit hanteer. Van die ouer koorlede het spontaan as mentors vir die jongeres begin optree. Ons het nog nooit vantevore sulke sterk jong lede in die koor gehad nie. Die hele koor werk eenvoudig wonderlik saam.

Het ons gegaan om te wen? Ons het gegaan om ons bes te doen. En ons het. Die nadraai van AGT sal nog lank met ons wees. Skielik is ons program so vol dat koorlede meer verdien as wat hulle met ’n voltydse werk sou kon kry. Ek is so ongelooflik dankbaar daarvoor.

Al is hulle agtergrond minder bevoorreg, is hulle net gewone jongmense. Jongmense wat hou van tegnologie en labels – en nou kan hulle ook daarin deel. Oor die algemeen, is ons Suid-Afrikaners meer eenders as verskillend. Ek beleef dit elke dag. My ervaring in die ryk, voorstedelike skole is dieselfde as my ervaring by Ndlovu. Behalwe dat ek dalk meer by Ndlovu se lede leer as wat hulle by my leer.

Nog iets wat my sal bybly, is die ongelooflike hoë standaarde van ons plaaslike werk. In die kunste, in wetenskap, in sport. Ons presteer op internasionale vlak, met baie minder hulpmiddele as wat die Westerse wêreld byvoorbeeld het. Ons is regtig oukei!

Sedert ons AGT-sukses, probeer ons om vir ander jeuggroepe ook geleenthede te skep. En hoop te gee. Een koor het drie vlugte later, ’n groot deur vir ander Suid-Afrikaners oopgemaak. Want ons kan.