“Ek bepaal self my waarde”

1234

Carina Nel wat deesdae te sien is as die rykmansdogter, Alexa, in 7de Laan laat nie toe dat die klein dinge in die lewe haar vreugde steel nie. Of sy werk, reis of selfs gewig verloor – als pak sy aan met ’n huppel in haar stap.

“Al verander die woestyn in ys, sal ek saam met die kamele huis toe skaats.” Dit is wie ek in my twintigs was. Iemand met onbeheerbare dryfkrag.

My siening is deesdae baie anders. Harde werk is steeds belangrik – ek sal seker altyd ’n “pliggie” bly, maar ek hoef nie elke dag ’n wenresep te volg nie, en niks oppervlakkig gaan my geluk steel nie.

My gewig het nooit my blydskap gesteel nie en dit was nog nooit my begeerte om my lyf in ’n stywe modelnommertjie in te wurg nie.

Gesondheid bly my eerste prioriteit. Oefening is vir my baie lekker, maar die lewe raak soms net te besig. Daar is nie altyd tyd om vyf keer ’n week in die gim te draai nie.

En daar is beslis lekkerder dinge om te doen ná ’n lang werksdag. Soos om saam met my man, Deon, voor die TV te lê en aartappelslaai te eet.

7de Laan was beslis die begin van ’n nuwe hoofstuk. Dit was ’n groot geleentheid en het soveel deure vir my oopgemaak. ’n Mens kan net dankie sê. My drome is bewaarheid. Hoe anders dan? Te danke aan ouers en ’n man wat my bystaan en toelaat om ’n droom te hê. Daarvoor kan ’n mens net dankbaar wees.

Dit het ses maande se wag gekos! Toe kom die oproep dat die rol van Alexa in 7de Laan myne is. Dit maak ’n mens mal as jy nie weet of jy die rol gaan kry of nie. Maar ek het vas geglo dis my rol.

My rol in Generations was ’n ware leerskool, maar in die vermaaklikheidsbedryf is jy nooit van werk gewaarborg nie. Dis maar op en af – ’n teaterstuk hier en daar. Maar ná al die gewag het ’n vaste werk en sekuriteit oor my pad gekom.

Dis ’n tawwe werk om ’n permanente rol in ’n sepie te speel. Ek speel ook nie net die rol van Alexa nie, maar is ook as Amanda te sien.

My eerste liefde bly teaterwerk. Dis waar alles vir my begin het. Om soveel tyd, bloed en sweet in te sit vir ’n produksie van net twee uur is nie vir enige een nie. Maar om die gehoor se reaksie en waardering te sien, bly altyd my gunstelingdeel.

Dit hou ook my aktrise-brein vars – dieselfde rol kan ’n mens dreineer.

Om van ’n nul ’n kwadraat te maak, hard te werk en mense te vermaak, gee vir my ’n gevoel van behoort. Dis natuurlik altyd lekker om my ouers trots te maak. My familie is my rots.

Uitdagende rolle is soveel meer lonend. Dan weet ek waartoe ek in staat is. Om realistiese probleme uit te beeld en sodoende ’n verskil te maak, maak my werk uit en uit die moeite werd.

Die vermaaklikheidsbedryf verwag dat jy dapper en bemarkbaar bly. As jy werk wil kry, moet jy na jouself kyk. En soms moet jy saam met jou karakter verander, al beteken dit dat jy 12 kilogram moet afskud.

Alexa is ’n rykmansdogter, baie preuts en sedig. Om haar verhaal geloofwaardig uit te beeld, moes ek gewig verloor. Daar moes ’n merkbare verandering in my voorkoms wees.

Hoewel my rol as Alexa my baie gemotiveer het, het dit ook oor my gegaan. Ek wou vir myself goed lyk.

Soms sien ek myself as ’n prinses in my eie sprokieswêreld. My man het my by ’n kasteel in Skotland gevra om te trou – dit was die mooiste oomblik van my lewe.

Soos die meeste bruide, het ek outomaties baie gewig vir my groot sprokiesdag verloor. Toe raak die getroude lewe darem net te lekker. Ongelukkig het al daardie gewig en nog meer hulle pad terug na my heupe gevind.

Lekker kos en iets soets bly maar ’n groot liefde. Hoewel ek nooit onaantreklik gevoel het nie, was daar tog ’n begeerte om weer gemaklik in kort rokkies en broekies te pas.

Gesondheid is vir my baie belangriker as vinnige gewigsverlies. Ek het geen spesiale dieetmiddels gebruik nie. Die gewig wat ek verloor het, was natuurlik ’n uitdaging op sy eie. Ek moes alle suiker en stysel uitsny, baie water drink en die sweet het geloop.

My geheim was my waterinname. Hoe meer water daar gedrink is, hoe meer het die vetjies begin wegsmelt. My dieet het uit baie vrugte en groente bestaan. Dit was noodsaaklik om steeds alle voedselgroepe in te neem.

Ek is nie van nature maer nie en moet dus my gewig steeds dophou. In die week eet ek reg, oor naweke eet ek waarvoor ek lus raak.

7de Laan hou my nogal besig. In die week begin ons vroeg en maak eers laat klaar. Naweke is dit road shows en fotosessies.

Dis darem nie net werk, eet en slaap nie. Ek en my man toer gereeld die wêreld vol. En daar is darem niks beter as ’n cappuccino en stuk kaaskoek in ’n gesellige koffiewinkel saam met my ma nie.

Dis vir my deesdae lekker om in die spieël te kyk. Al is my lyf nie perfek nie.

Ons word daagliks geprogrammeer dat slegs ’n sekere gewig aanvaarbaar is. ’n Model sal ek nooit wees nie. Dis nie my liggaamsbou nie, dis nie in my gene nie, maar ek is tevrede met myself.

Ons moet ophou om so baie druk op onsself te plaas. Ons hoef nie te lyk soos ander wil hê ons moet lyk nie. Solank jy net van jouself hou.

Ek hoef ook niemand te beïndruk nie. Dit gaan oor wat in my hart is en wat my gelukkig maak.

Om “nee” te sê was nooit vir my maklik nie. En om almal gelukkig te hou, kan nogal uitputtend raak, glo my. Uiteindelik is dit jou lewe. Die lewe is hopeloos te kort om op ander se geluk te fokus.

Soms oordink ek alles, maak ek moes leer om ’n stresbol te wees gaan jou nêrens bring nie.

My loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf bly ’n daaglikse avontuur. En daar is nog baie rolle wat ek sal wil vertolk.

Ek sal glad nie omgee om vanjaar weer ’n rol in ’n teaterproduksie te speel nie.

Ons beplan ook ’n oorsese vakansie. Ons werk glad nie deur ’n reisagentskap nie. Dit neem wel baie tyd in beslag, maar dis vir ons lekker om dit self te reël.

Ons hoop ook dat die ooievaar by ons ’n draai sal kom maak. ’n Babatjie is ’n groot droom waarvoor ons altwee gereed is.

Al het ek nou baie gewig afgeskud, bly ek vet pret en altyd gereed vir my volgende avontuur.

Of ek nou die wêreld saam my man verken, in ’n nuwe karakter se lyf moet klim of net my grense verbreed.

’n Mens leef net een keer. Jy hoef jouself nie in die spreekwoordelike koelkas te gooi wanneer dit by eetgewoontes te kom nie.

Van die kleinste sel tot elke stukkie selluliet, elke vrou bly uniek. Brandmaer beteken nie sexy nie – versorg jouself, leef gesond en bepaal jou eie waarde.

Ek bepaal my eie waarde. My beste is dalk nie altyd dié beste nie, maar dit is goed genoeg vir my

Vorige artikelMarianne Kriel: Wat ek geleer het…
Volgende artikel[VIDEO] Hy weet wat jy nodig het [Reeks 1 Nommer 6]