“Ek wil daar wees vir mammas”

306

Charné Cronje, ’n mamma van twee woelwaters, is die eienaar van Mammas 24/7. Haar droom is om vroue te help moed skep wanneer alles te veel raak of ’n platform te gee waar hulle kan aanklop vir raad.

Tydens my swangerskap het my voete soos vetkoekdeeg gerys en ek het rondgewaggel soos ’n pikkewyn. Maar met my kinders se geboorte het ek besef dat ek weer deur dit alles sou gaan om daardie lyfies te kon vashou.

Maar dis moeilik om ewe skielik sonder ses uur se ononderbroke slaap te funksioneer en oor alles onseker te voel. Ek wou breek.

Om vroue te motiveer en om vir hulle te sê ek verstaan, gee vir my soveel vreugde.

Mammas moet weet hulle is nie alleen nie. Al voel die situasie oorweldigend. Nuwe mammas en vroue oor die algemeen moet leer dat hulle vry is om groot drome te hê vir hulle kinders, hulle eggenote en hulleself.

Dis ’n groot verantwoordelikheid om 24/7 van hulp vir ander vroue te wees. Ek herinner myself daaraan dat ek met dieselfde vrae as hierdie mammas geworstel het. En nou is ek daar vir hulle.

Kinders grootmaak is beslis nie kinderspeletjies nie, maar met die regte ingesteldheid en ondersteuning kan jy dit sommer groot pret maak.

Ek het ook besluit om verder te studeer om myself te bemagtig. Ek was dapper en het my sommer vir twee grade ingeskryf: ’n BA-graad in bediening, asook in Bybelse berading.

Elke mamma voel soms asof sy besig is om haar kop te verloor.

Ons voel almal soms magteloos, moedeloos en net ’n bietjie mal. Dan vergeet ons om te droom, want ons is so vasgevang in vandag se uitdagings.

Hoewel daar nie iets soos die perfekte kind of ouerskapstyl is nie, is daar wel perfekte oomblikke – oomblikke waarin my gesin gelukkig is. Dit maak alles die moeite werd.

Die lewe is nie altyd maklik nie. Maar niks wat die moeite werd is, was al ooit maklik nie. Mammas moet wel leer om dinge nie vir hulleself moeiliker te maak as wat dit reeds is nie.

Soms moet jy net ’n bietjie ontspan en nie alles oordink nie. Aanvaar jouself, gee jouself ’n bietjie tyd af. En dis oukei as jou hemp vol teekolle en jou hare vol pampoen en kaaskrulle is.

Ek is verskriklik opgewonde oor die boek #GelukkigeGesin – 201 wyshede oor getroudwees en kinders, waarvan ek die gasredakteur is.

Vorige artikelVoel pragtig, selfversekerd en sensueel
Volgende artikelWEN! ’n Droomwegbreek by Mount Sheba