Frank Rautenbach: “Swaarkry bou karakter, al is dit swaar”

214

FRANK RAUTENBACH help mense om hulle swaarkry beter te verstaan. Uit sy eie hartseer, teleurstellings en drome wat nie waar geword het nie, kan hy met selfvertroue gesels oor karakterbou en menswees.

Ewe skielik was ek die bestuurder van die huurmotor en nie meer die suksesvolle man agter in nie. Die realiteit het my bors laat toetrek.

Ek het ’n CD, wat een van my vriende vir my gegee het, in die huurmotor se CD-speler gedruk. ’n Liedjie se woorde, “Heaven’s tall angels surround you. Breathe, baby, breathe, everything will be okay,” het lêplek in my hart gekry. Net daar het ek besef – ek is op presies die plek waar ek moes wees.

My loopbaan as akteur moes vir eers eenkant toe gestoot word. Daar is niks fout met ’n loopbaan as akteur nie. Die probleem begin as daardie loopbaan jou identiteit word – jou god en die rede vir jou bestaan.

Ek was kwaad vir God …

Een koue aand in November het ek ekstra verbitterd gevoel. Alles waarvoor daar in my twintigs en dertigs gewerk is, het verdwyn. ’n Week later het iemand vir my gesê dat ek nie luister nie – nie na my vrou nie en ook nie na my Skepper nie.

God moes na my luister, maar ek wou nie na Hom luister nie. Hy het gesê dat die manier waarop ek met my vrou praat, haar breek. En dat ek moet leer om na haar te luister. My vrou het begin huil.

Die besef dat ek ná ’n huwelik van 15 jaar nie na my vrou geluister het nie, het my geruk soos geen warrelwind my al geruk het nie. Haar trane het my nederig op my knieë gedwing.

Wat met my gebeur het, gebeur ook met so baie ander mense. Ons val in die lokval om aanvaarding na te jaag, in plaas daarvan om te doen wat ons doen omdat ons Skepper ons liefhet en ons vra om tot Sy diens te wees.

Ons dink as ons sukses behaal, dan is ons goed genoeg – maar wanneer is genoeg regtig genoeg? Dis ’n bodemlose put.

My identiteit word nie meer deur my sukses bepaal nie, maar eerder deur wat ek vir ander kan doen. Ek gebruik steeds my gawes om ander te inspireer. Om stories te vertel. Om ’n verskil te maak.

Ek het nooit besef dat daar uit my swaarkry soveel goed sou kom nie.

Nes die varsgebakte brood wat my vriendin een middag vir ons op die tafel gesit het.

Haar driejarige dogtertjie het geweier om daarvan te eet. “Dis gebreek,” het die meisietjie geskree. My vriendin het haar dogtertjie kamer toe gestuur en gesê sy kan eers uitkom as sy besef die brood is goed.

My lewe was nes daardie stuk brood. Dit het gebreek omdat dit so goed was. Hoe moeilik dit ook was, dit was waar ek moes wees.

In die vermaaklikheidsbedryf sou ek nie die tyd gehad het om te besef wie ek waarlik is nie. Ek moes terugvat wat myne was, my plek inneem, weer mens word en self tot die besef kom dat my lewe eintlik goed is. Swaarkry is soms broodnodig.

Vorige artikel[PODSENDING] Verseker jou finansiële toekoms [Reeks 1 Nommer 9]
Volgende artikelMaak jou ambisie jou tyd werd