Lynette Beer: “Ek glo in tweede kanse”

205

LYNETTE BEER, verhoudingskenner, motiveringspreker en aanbieder van die weeklikse podsendingreeks #SkoolVanDieLewe se kinderdae het haar voorberei vir haar lewenstaak. Haar passie is vir mense om mekaar beter te verstaan en om in ’n betekenisvolle verhouding met mekaar te staan.

My kleintyd se swaarkry het my geleer van deursettingsvermoë.

Die rustige “slaapdorp” Despatch is my geboorteplek. Daar het ons gesinnetjie die lewe geproe. Dis daardie swaarkryjare wat my gevorm het, maar dit het my ook geleer glo in tweede kanse en vergifnis.

My pa was nogal hardkoppig, maar hy het in my geglo. Hy het altyd vir my gesê: “’n Beer kom nooit tweede nie.”

Op pad hoërskool toe het ek daagliks verby ’n reisagentskap gestap. Ek onthou die plakkate van Mickey Mouse by Disney World in die ruit. Ek het altyd gedink dat ons te arm was vir sulke dinge.

Nodeloos om te sê was ek al twee keer by Disney World.

Dis die bitter smaak van armoede wat my gebring het tot by ’n plek van hoop.

Ek het ’n besluit geneem en daarvolgens begin lewe.

’n Sagte snik breek los terwyl ek na myself in die spieël kyk.

’n Kind is veronderstel om bly te wees wanneer jy vir ’n provinsiale span gekies word, maar ’n mens wil nie nog ’n finansiële las vir jou ouers wees nie.

Die hartseer het teen my wange afgerol, want daar was nie geld vir die toer Sasolburg toe nie. My ouers kon dit eenvoudig nie bekostig nie. Ek het skaars ordentlike nagklere gehad.

“Merinda Lynette Beer, jy sal nie eendag finansieel sukkel nie. Jy sal dit maak,” het ’n jong Lynette vir haarself in die spieël gesê.

Ek het stilgestaan – stil geword in my binneste. ’n Dringendheid het in my gemoed begin groei.

God se genade en voorsiening motiveer my elke dag.

Moedeloos het ek gestaan en kyk na die ekstra vyf sakkies koeksisters wat verkoop moes word.

My ma het aan my verduidelik dat ons die ekstra geld regtig nodig het en dat Liewe Jesus my sal help om dit te verkoop.

Ure later het ’n oom by ’n telefoonhokkie uitgestap. “Ek kan sien dat jy moeg is en nie meer lus is om te verkoop nie. Kom ek koop sommer al vyf pakkies,” het die oom gesê.

“Mammie, Mammie was reg. Liewe Jesus het my gehelp!” het ek geskree. Daardie dag het ’n groot stuk geloof in my hart losgemaak. Tot vandag nog is Sy voorsiening genoeg motivering vir my om my beste te gee.

As ’n mens waarlik verander, moet jy die verandering uitleef.

As laerskoolkind was ek baie gewild omdat ek ’n goeie storieverteller was.

My gunstelingstorie om te vertel was van ’n polisieman en dan het ek soos ’n matroos gevloek. Hoe meer daar gevloek is, hoe meer het my maats geskaterlag.

Tydens ’n jeugkamp het ek tot bekering gekom. Ná hierdie kamp wou ek nie meer vloek nie en het uit die aard van die saak baie van my “aanhangers” verloor.

Ek het toe begin om die evangelie met my maatjies te deel. Dit was natuurlik nie so gewild soos my vloekstories nie, maar van daardie dag af was niks ooit weer dieselfde nie … Ek was nooit weer alleen nie en met ’n bonatuurlike vreugde gevul.

My ouers het my die wonder van dankbaarheid geleer. My ma het elke dag haar liefde vir die Here uitgeleef. Indien ek nooit die Bybel sou kon lees nie, sou ek deur haar toegewyde lewe die Here kon vind.

Hoewel my mammie vandag nie meer met ons is nie, sien ek haar liefde en dankbaarheid in my eie oë.

Ten spyte van die feit dat my pa in ’n stadium baie moeilik was, was ons ’n hegte gesin waar daar baie liefde en toegeneentheid was. My pa is ook oorlede, maar die lesse wat hy ons geleer het, sal my altyd bybly.

My boeties bly ver, maar ons bel mekaar gereeld. Elke keer wanneer ons gesels, voel ek die goue draad van dankbaarheid deur die gesprek.

My kleintyddroom het later ’n wonderlike werklikheid geword.

Ek het altyd daarvan gedroom om voor gehore op te tree. Op laerskool het die filosoof Kahlil Gibran se profetiese boekie my hart aangegryp. Die advokadogroen boekie het in my ouma se huis gelê. Ek het dit begin lees en kon dit nie weer neersit nie.

Gibran het met my oor kinders, onderwys, vreugde, liefde en hartseer gepraat. Daardie dag het iets in my hart gebeur. Ek het besluit dat ek ook eendag met mense oor lewensveranderende dinge gaan praat.

’n Mens is ongelooflik geseënd om te sê dat jou kinderdroom ’n werklikheid geword het. Vandag staan ek as motiveringspreker en teoloog voor mense en leer hulle om hulleself en ander beter te verstaan.

My werksbevrediging woon in mense se lag en huil.

Geld vir studies was daar nie. Ek moes werk en studeer en het begin om tyddeel en polisse te verkoop.

Dit was bevredigend om die leer van sukses vinnig te klim, maar in 2007 het ontnugtering en teleurstelling my onkant gevang.

Ek moes die mense wat onder my gewerk het die waarhede van die lewe leer. Die eindresultaat was ongelooflik.

Hierdie waarhede het nuwe wêrelde oopgemaak. Ek het bedank, my spoghuis verhuur en my motor vir ’n goedkoper een ingeruil.

Vandag weet ek dit was die regte besluit. Niks gee my meer werksbevrediging as om mense se gesigte te sien wanneer hulle iets begryp nie, ongeag of hulle huil of lag.

Ek moes leer om waarlik in myself te glo.

In 1984 het ek ’n tyddeel-aanbieding bygewoon. ’n Pragtige versorgde vrou het die aanbieding gedoen. Ek het haar beny, maar was half mismoedig.

Die begeerte om ook so voor mense te kan praat het in my begin brand, maar Engels kon ek nie praat nie. Ná daardie dag het Engelse boeke my nuwe leesstof geword.

My een onderwyser het vir my gesê dat as ’n mens glo dat jy iets kan doen, kan jy dit doen. Nou ja, vandag praat ek voor mense en kan darem ook al ’n bietjie Engels praat.

Vorige artikel[PODSENDING] Benut jou bates vir groter finansiële voordeel
Volgende artikel[PODSENDING] Roetines vir ’n mooi vel