Marissa Kleynhans: “My hart moes oopgebreek word”

121

MARISSA KLEYNHANS vertel hoe sy ’n buitengewone geskenk op ’n donker plek ontdek het. Sy is die ma van twee woelwaters, joernalis, skrywer en onderwyseres. Haar hart moes oopskeur, sodat die lig kon inskyn.

Dit voel soos iemand se dood, maar sonder ’n begrafnis.

Ná ’n huwelik van agt jaar, loop ek ’n laaste keer deur die huis waarvan ons albei gedroom het. Deur die erf waar ons kinders in die swembad kon baljaar, in hoë bome kon klim en klouter en waar ons gesellig saam met vriende gekuier het.

Maar dis ook in hierdie huis waar ons verby mekaar begin leef het … Waar te veel dinge gesê is en waar die waarheid onder die mat ingevee is.

Die pad as enkelouer het wyd voor my uitgestrek.

My twee kinders het verward by ons nuwe klein plekkie ingestap. Geen swembad, geen bome nie, net ’n klein, dooie tuintjie.

Ons Woolies-brood moes plek maak vir ’n bruin brood van die kafee. Daar was heelwat aanpassings wat gemaak moes word. Ons het geluk in mekaar gevind – in kampeer in die sitkamer, lang storievertelaande en RSG-stories.

My seuntjie se lang armdrukkies en my dogtertjie se bolwang-glimlaggies motiveer my om vas te byt, hard te werk en groot te droom.

Tydens die donkerste tyd, het ek ’n wonderwerk ontdek.

’n Bonatuurlike lig het die regte pad vir my verlig.

Die pyn ná die egskeiding het my laag vir laag oopgeskeur totdat ek rou en seer was. Ek het dele van myself gesien wat ek nog nooit vantevore gesien het nie. Vir die eerste keer het ek besef waartoe ek in staat is.

Soms mis ek hom, maar dan stuur ek vir hom liefde saam met die wind. Ek bid vir hom, maar ek het hom laat gaan sodat ek waarlik alleen kan wees. Nie eensaam nie, maar gelukkig in die eenvoud van die waarheid.

Ek het geleer om eerlik met myself te wees.

’n Mens moet die liefde volg as hy jou roep, hoewel sy weë steil is. Om oopkop te bly is vir my baie belangrik.

Ek herken die gevoelens van ongemak en seer en is eerlik met myself oor die impak wat hierdie lewensveranderde fase op my en my kinders se lewe het.

Wanneer ’n mens nie die vreugde smaak wat jy gehoop het die huwelik sou meebring nie of opgee op die drome wat julle saam gedroom het, kan die rouproses lank en seer wees. Maar my rouproses het in ’n ontdekkingsproses verander.

’n Egskeiding hoef ’n mens nie te breek nie.

Dis ’n onbekende plek … ’n donker plek. Maar dis juis in hierdie onrustige plek waar God my kom rustig maak het. Hy het my ’n toekoms vol hoop en verwagting beloof.

Om te leer om die groot vyf te knyp tot my oë traan en elke rand te versent is beslis ’n uitdaging, maar in die eenvoud het ek en my kinders geluk gevind.

Ná ’n jaar se sielskoors begin die wolke oor my kop wegtrek. My hart het oopgebreek, sodat die lig kon inkom. Ek is gereed om aan te beweeg.

Vorige artikel[PODSENDING] Kleiner gereelde etes help met gewigsverlies
Volgende artikelDemi Lee Moore: Moeilike tye mag ons nie onderkry nie…