‘Om foute te maak is een van die beste leermeesters’

263

LUCIA DRAMAT, radio– omroeper, skrywer, motiveringspreker en lewensafrigter, leer uit haar foute en beskou mislukkings as ’n geleentheid om te groei. Haar positiewe ingesteldheid is iets wat beslis met ander gedeel moet word.

Dis ’n cliché, maar mislukkings is my leermeester. My vertroue in die leerproses het my deur die jare gevorm. Teleurstellings wou dalk my toekoms steel, maar dít sou ek mos nie toelaat nie.

Ek bevind my in memory lane – ’n klein grootoogdogtertjie opgedress in Ouma se pelsjas en bykomstighede. Die hele fandamily moes maar sit en kyk … Hulle was my audience. Om ander te vermaak was nog altyd een van my groot liefdes.

Op laerskool het ek ’n oudisie vir Craze TV afgelê. Dit was glad nie suksesvol nie. Ek het daaroor gegiggel, geleer om myself meer te vertrou en steeds my hart gevolg. Niks sou hierdie klein nonnatjie se drome versmoor nie.

God het drome in elke mens se hart geplaas. Daar is ’n rede vir die brandende begeerte wat in my hart groei. Dis my verantwoordelikheid om te sorg dat dit nie net ’n droom bly nie.

Elke keer as ek ’n stappie nader aan die eindresultaat kom; ’n doelwit bereik; en vordering sien, voel ek hoe die begeertes van my hart ’n werklikheid word.

Wanneer jy ander motiveer, voel jy self gemotiveerd en vervuld. Veral as ’n mens ’n geloofsprong neem en besef dit was die moeite werd om die kans te vat.

Dis beslis nie per toeval nie … ’n Mens se drome het ’n rede. En daardie rede gee betekenis aan elkeen se bestaan.

Vooruitgang in ander se lewens het my visie verander. In my vroeë twintigs het ek opgetrek Johannesburg toe. Vir ’n jaar lank het ek ’n oorsese paartjie se kinders opgepas.

Om uit my gemaksone te beweeg was die beste besluit nog.

Ewe skielik was ek omring deur mense wat selfversekerd is en hulle drome najaag – hulle was waarlik in beheer van hulle lewens.

My drome het verander. Ek het nuwe vriende gemaak en anders oor die lewe begin voel.

Ek het besef ’n mens sit nie in jou omstandighede vas nie. Daar is soveel moontlikhede en geleenthede daar buite.

Die bewuswording van ’n heel ander soort lewe as die een waaraan ek gewoond was, was mind-blowing. Ek was mal daaroor!

My man is my grootste ondersteuner en my beste vriend. Ná agt jaar se huwelik van lag en huil, beplan en stry, val en opstaan, is ons steeds goed vir mekaar. Ongeag alles wat in ons lewens gebeur, was my man nog altyd daar – hy gee my sekerheid in moeilike tye.

Elke seisoen was ’n uitdaging, maar ons groei saam, leer saam uit ons foute en hou aan om mekaar te ondersteun. Tydens tye van onsekerheid word ons verhouding soveel sterker, want ons vertroue in mekaar neem toe.

Ek is so dankbaar dat God ons liefdeseenheid aanhou seën. Hy genees, herstel en laat ons huwelik nie net groei nie, maar blom.

Ek volhard om drome met gelukkige eindes te droom. En glo my … ek droom groot. Ek ken al die uitdagings, maar ook die beloning en voordele van vasbyt.

Wanneer ’n mens geïnspireer word, omhels jy pyn en plesier in die strewe na jou doel. En dis presies wat ek doen: om terug te kyk na my lewe en te besef dat elke idee, persoon, plek en fout my gehelp het.

Ek is mal daaroor om mense aan te moedig en te sien wen. As spreker, radio-aanbieder, skrywer, lewensafrigter en blogger is ek vandag in staat om elke geleentheid te gebruik om mense te motiveer.

Sodoende streef ek na persoonlike vervulling en natuurlike vooruitgang vir ander.

As ’n mens jou doel ken, kan jy dit werklik bereik.

Wanneer ek verwarring, vrees en twyfel in selfvertroue, hoop en aksie kan verander, dan weet ek my werk is gedoen.

Dis ’n soort seëning wat my sommer hoendervleis gee. Elke keer as ek die kans kry om my passie vir verandering met ander te deel, gryp ek die geleentheid aan.

Soms kry ’n mens eers maande later positiewe terugvoer. Mense besluit om op sendingsreise te gaan; verdriedubbel hulle besighede; ander besluit om die verlede agter te laat en vorentoe te kyk.

’n Mens word nooit moeg daarvoor om hierdie soort vordering en verandering te sien nie en dit is ’n eer om ’n baie klein deel van die verhaal te wees.

My foute het my geleer wat ek vandag weet.

Hoewel jou planne kan misluk, beteken dit nie dat jy ’n mislukking is nie.

Nadat my besigheid een groot mislukking was, het vrees my lewenslus probeer steel. ’n Mens kyk dan sommer neer op jouself. Maar toe gebeur daar iets in my binneste.

Ek het myself begin herinner aan dit waarin ek goed is, wat ek geniet en wat ek reeds in die lewe bereik het.

Terwyl die onsekerheid my gekeer het, was ek dikwels spyt – spyt dat ek ’n geleentheid deur my vingers laat glip het. Dit het my geleer dat foute nie my menswees definieer nie, maar dat ’n mens eerder daardie foute as lesse moet gebruik.

Ek wil blom en floreer. My eerste boek, 21 Days in full bloom, is onlangs bekendgestel. Hierdie boek was lank ’n droom van my.

Dit was ongelooflik om die geleentheid te kry om dit ’n werklikheid te maak.

Om deur die land te toer en my boek te bemark, en verandering in ander se lewens moontlik te maak is die volgende groot stap.

Dis ’n interaktiewe boek wat mense kan gebruik om ’n nuwe hoofstuk in hulle eie lewe te begin skryf – dit verfris jou denke, versterk jou emosies en motiveer jou om waarlik te blom. Só leef ek my roeping uit terwyl ek ander help om te floreer.

Vorige artikelWanneer jy… sukkel om jouself te aanvaar
Volgende artikelVertrou, ondersteun, help en leer by mekaar