‘Ons storie … God se storie’

96

Die mediahuis Carpe Diem Media inspireer lesers al vir 25 jaar lank met topverkoper–boeke, jou gunsteling–vrouetydskrif Finesse, én die digitale platform Voelgoed. Maar hierdie mylpaal het ook baie uitdagings en lesse gebring. COENIE SCHOEMAN, die uitgewer, deel sy storie …

Wanneer jy vir iets ’n naam gee, skep jy ’n identiteit daarvoor – ’n manier waarop mense daaroor sal dink. Daarom is ’n besigheid se naam so belangrik, want die naam vertel ’n storie …

“Carpe Diem” se betekenis word gewoonlik weergegee as “gryp die dag”. Die Latynse werkwoord beteken egter om te pluk (soos vrugte van ’n boom af), te oes, of selfs te geniet.

Vir verskillende mense het dit verskillende betekenisse. Sommige verwys daarna as ’n een-keer-in- ’n-leeftyd kans, vir ander is dit weer om die beste uit elke dag te haal. Hoe jy ook al daarna kyk, ek is mal daaroor!

My eie lewe spreek van geleenthede gebruik – of selfs geleenthede skep. Ek is baie optimisties van geaardheid en hou van entrepreneurskap. Nuwe dinge. Kanse.

Al beteken dit ook soms dat ’n mens ’n paar risiko’s en probleme die hoof sal moet bied. “Carpe Diem” beteken nie alles sal goed gaan nie. Dit beteken jy moet iets doen, anders gaan daar niks gebeur nie. Dis jou keuse.

Nie alles wat ons al aangepak het, het uitgewerk soos ek graag wou hê dit moes nie. Elke nuwe boek of inisiatief doen ook nie noodwendig goed nie, maar sukses en mislukking loop hand aan hand.

Wat ons wel wil doen, is om betekenisvolle inhoud te skep wat mense inspireer, en wat hulle ook geniet. Finesse was met sy ontstaan (en is steeds) juis op Christenvroue gemik. Iets anders as die gewone vroue- en skoonheidtydskrifte wat destyds beskikbaar was.

Die produkte wat ons uitgee, het my roeping geword. ’n Platform vir skrywers, mentors en kenners om hulle kennis, motivering en wysheid te deel.

“Finesse gaan nie langer as ’n jaar hou nie,” het mense destyds gesê, want wat weet ons van die tydskrifbedryf af?

Dit was dalk ’n wilde sprong, maar nie roekeloos nie. Daar gaan baie navorsing en gebed in elke besluit in.

My plan was nooit om ’n uitgewer te word nie, ek het teologie studeer. Ná ’n preekreeks in Vereeniging het ek verwag om beroep te word, en nie om ’n werksaanbod te kry nie …

“Jy moet binne ’n week besluit,” het CUM se eienaar gesê. Daar was nie veel tyd vir tob nie.

Daardie week het gelyktydig soos ’n ewigheid en ’n oogwink gevoel. Gedagtes oor wat die Here se roeping vir my was, het in my kop afgespeel. Die prentjie van dominee-wees het helder gebly – tussen al die ander opwindende en uitdagende vooruitsigte.

Ek het die aanbod aanvaar en op ’n Maandagoggend my eerste treë in die uitgewersbedryf gegee.

Vir ’n ruk lank was ek ook ’n tentmaker-dominee en dit het my perfek gepas. Dit was die beste van twee wêrelde – werk en preek.

Op ’n manier was dit goed om as werkende persoon die lidmate se frustrasie saam met hulle te voel. Maar ná ’n jaar of wat, was dit tyd om voltyds ’n loopbaan in die uitgewersbedryf te volg.

Carpe Diem Media is eers later gebore – wat in elk geval onmoontlik sou wees sonder die regte spanmaat. ’n Vriendin het my aan Venessa voorgestel. Ek was dadelik dolverlief. Ses maande later is ons getroud!

Gelukkig was ons jonk en dapper, want min mense sou vir ons lewe van destyds kans gesien het. Venessa was swanger met ons tweeling toe ek besluit het om ’n eie uitgewery te begin.

Uit ’n klein stoorkamer in Venessa se dieetkundepraktyk. My rekenaar het sommer op bokse gestaan. Dis malligheid, het almal gedink. Die ekonomie was sleg, ons het verwag, en die boekwêreld was taai.

Die tweeling is gebore voordat ons huis klaar gebou is, en vir ’n ruk het ons vier net ’n klein Mazda-bakkie as voertuig gehad. Elke sent is in die besigheid ingeploeg!

En asof dit nie erg genoeg was nie, het ons in daardie tyd ook besluit om Finesse te loods.

Venessa was in daardie stadium nog ’n dieetkundige met ’n private praktyk. Sy het nooit kon droom of dink om voltyds in die tydskrifwese betrokke te raak nie.

Maretha Martens, die eerste redakteur, het besluit Venessa moet verantwoordelikheid neem vir skoonheid, mode, resepte en gesondheid in die tydskrif!

Ná Maretha het Liesel Krause-Wiid die leisels oorgeneem. Dit was ’n maklike oorgang, want Liesel is ’n opgeleide predikant en met haar ander voet het sy in die skoonheidswêreld gestaan waar sy betrokke is by haar ma se besighede.

Toe Liesel egter voltyds by die familiebesigheid betrokke raak, moes Finesse ’n ander redakteur vind. Vir Liesel was die antwoord voor die hand liggend – Venessa moet redakteur word.

Vir Venessa was dit ’n baie moeilike besluit.

Sy het nie opgewasse gevoel vir die taak nie. Maar sy het op soveel plekke bevestiging gekry dat sy dit moes doen – ook sy verklaar onomwonde dat die Here haar nooit alleen gelos het met hierdie groot taak nie.

Vandag is JC en Chanté, ons tweeling, ook betrokke by die uitgewery. JC is verantwoordelik vir ons nuwe besigheidsontwikkeling, en Chanté help met die funksies, verhoudingsbou en ook Doen Goed, ons liefdadigheidsbeen.

As gesin het ons het ’n paar reëls, soos om nie by die huis oor werk te praat nie. Dis belangrik om te keer dat werk nie jou hele lewe oorneem nie.

Verder moet ons al vier ruimte maak vir mekaar se persoonlikhede. Maar dis juis hoekom ons ’n goeie span is – elkeen bring ander kwaliteite. En ons vertrou mekaar.

Een ding waarvoor ’n mens beslis nie bang moet wees nie, is om kanse te waag. En te vertrou!

In die beginjare, was dit maklik om boeke te verkoop. Tydskrifte was ook nog baie populêr. Deesdae is die bedryf egter wêreldwyd onder druk.

Behalwe dat die koste van papier en verspreiding net al hoe meer word, verkies baie lesers die gerief van aanlyn inhoud. Die internet en sosiale media is beslis een van die redes waarom ons bedryf soveel verander het.

As jy vorentoe wil beweeg, moet jy vorentoe kyk. Ek dwing myself nog altyd om oopkop na die volgende vyf of tien jaar te kyk. Doen navorsing, praat met kenners, vra raad … en bid.

Ek doen nie dinge net roekeloos nie, maar in geloof. Die Here vou nie jou besigheid in watte toe net omdat jy ’n Christelike boodskap het nie.

Jy moet net so hard werk soos enigiemand anders. Dieselfde moeite doen, dieselfde besigheidsbeginsels toepas, dieselfde risiko’s loop. Jy kan ook nie net terugsit en wag nie, jy moet die inisiatief neem. En vertrou!

Destyds het ek ’n huis op ’n veiling gekoop sonder om eers die binnekant daarvan te sien. Toe die bod op my toegeslaan word, het ek so gebewe dat dit moeilik was om die dokumente te onderteken. Dit was destyds verskriklik baie geld.

Vandag is ek so dankbaar vir daardie kans wat ek gewaag het, want dit is waar ons eie kantoorgebou nou staan.

As ek terugkyk, was daar keer op keer ’n swaar tyd voor elke nuwe groeiseisoen. Dit is juis die swaar tye wat jou aanmoedig om meer in te ploeg, wyer te dink en inisiatief te neem. En God te vertrou!

Daarom is dit so belangrik om te weet waarom jy iets aanpak. As jy dit byvoorbeeld net vir geld of aansien gaan doen, gaan jy makliker moed opgee.

Wanneer dit swaar gaan, moet jou droom groot genoeg wees om jou te dryf. As jy nie meer opstaan met ’n wil om te gaan werk nie, is jy in die moeilikheid.

’n Roeping is die een ding wat jy nie net in jou loopbaan moet hê nie, maar ook in jou persoonlike lewe!

Soos die tyd aanstap, besef jy dat die lewe uit soveel meer bestaan – daar is ook iets soos ’n nalatenskap. Ek het anders begin dink en my lewe en werksaamhede so ingerig om die wêreld ’n beter plek te los as wat ek dit gekry het.

Dit is nog altyd ’n uitdaging om Christenskap en besigheid te meng – dit is sleg om moeilike besluite te neem wat mense seergemaak kan laat voel. Ek streef daarna om daagliks my getuienis uit te leef met goeie, gesonde besigheidsbeginsels.

Dit is nie altyd maklik nie, en ek kry dit dalk ook nie altyd reg nie, maar my begeerte bly om God met ons besigheid te dien. Gelukkig hoef ek nie net op my eie krag staat te maak om dit te doen nie – maar op Syne.

My gevoel oor iets was al so dikwels reg. As perfeksionis en strateeg, is dit moeilik om te glo dat ek vir my gut feelings luister.

Die Heilige Gees het gewone, feilbare mense – Jesus se dissipels – so gelei en verander dat hulle nalatenskap vandag nog sigbaar is oor die hele wêreld.

Ek glo hierdie Gees van die Waarheid wil ook vir ons, gewone, feilbare mense, lei na die lewe wat God vir ons bedoel het tot daardie groot eendag wanneer ons saam voor Sy troon sal staan!

Die sakewêreld, en veral die mediabedryf, is nie ’n plek vir iemand wat nie van plan kan verander nie. Gister se manier van doen, werk eenvoudig nie meer vandag nie.

Om aan te pas is beslis nie maklik nie, en baie ongerieflik. Jy moet nuwe dinge leer, nuwe foute maak en nuwe planne uitdink.

Omdat gedrukte boeke en tydskrifte deesdae eintlik ’n baie kort rakleeftyd het, was dit nodig om ons uitgewery met ander platforms aan te vul. Daarom het ons die digitale platform Voelgoed geskep.

Voelgoed is méér as net ’n webblad – dis ’n leefstyl!

Aanvanklik was dit maar ’n gespartel om aan die gang te kom. Die personeel wat vir ons gewerk het, was lief vir tydskrifte en boeke – ek is beslis ook!

Maar dit help nie jy bly so verknog aan iets dat jy glad nie oorleef nie. Of nie meer jou boodskap by lesers uitkry nie.

Ek sê dikwels, selfs met al die ervaring in ons besigheid, voel ek soos iemand wat nuut by ons begin werk … Dit wat ons die laaste 25 jaar gedoen het, gaan nie noodwendig vir die volgende klompie jare werk nie.

Ons het nuwe soort inhoud nodig. Nuwe formate. Ook nuwe maniere van bemark. Ons moet dít wat ons doen, hóé ons dit doen, en selfs vir wié ons dit doen, heroorweeg.

Behalwe dat ons die nuwe tegnologie onder die knie moes kry, moes die besigheid aanpas. Ek het gou besef dat die aanlyn gedeelte nie iets is wat jy gou elke Maandag opdateer nie. Dis ’n voltydse werk.

Die afgelope tyd was ’n groot leerkurwe, maar daaruit is ook wonderlike nuwe geleenthede gebore!

Dit is nie altyd maklik nie. Gelukkig hoef ons nie in ons eie krag te bedien nie … maar in Syne.

Die Bybelvers wat vir my die basis van ons bediening is, is 2 Korintiërs 2:17: “Ons verkondig die woord in opregtheid, in verbondenheid met Christus, in opdrag van God en in verantwoordelikheid aan God.”

Carpe Diem Media is hopelik ’n nalatenskap vir ’n volgende geslag om hulle generasie mee te bereik, soos ons in ons tyd doen.

Totdat dit gebeur, is ek dankbaar dat ek my roeping deur die media kan uitleef. Vandag is ek so dankbaar vir elke boek en tydskrif wat ons kon uitgee, elke skrywer wat sy of haar boodskap aan ons toevertrou het, elke medewerker en personeellid wat saamgewerk het, elke leser wie se lewe ons kon aanraak …

Dit is ’n ontsaglike verantwoordelikheid, maar ook so ’n ongelooflike voorreg. Ons storie is niks anders as God se storie nie!

Vorige artikelBegin met ’n gesonde roetine
Volgende artikelLyding skei ons nie van God nie