Oorwinning ten spyte van terugslae!

230

Sy help ander om die onmoontlike moontlik te maak. Lewensafrigter LILY RENNIE wys mense waartoe hulle in staat is. Sy vuur hulle aan om nie net vorentoe te beur nie, maar om waarlik bo uit te kom.

Aan die voet van die Soutpansberg het ons deur beesmis geloop, koeie gemelk en toffies by klein kafeetjies gekoop. Ons was vry.

Dis ook hier waar ek geleer het wat in my steek. Om vir die eerste span netbal te speel was vir my vreeslik lekker. Ek het elke dag 300 doele gegooi.

Jare van harde werk het my gewys wat kan gebeur as ’n mens jou alles gee en weier om op te gee.

Later jare het ’n klippad vir my gewag, maar ek kon terugdink en onthou wat ek op die netbalbaan geleer het.

Vandag is ek waarlik gelukkig en tevrede, maar ek ken swaarkry …

Ek was 21 jaar oud toe ons getroud is. Ons het bitter swaar gekry en op straat opgeëindig. Nadat vriende ons uitgeskop het, het wildvreemde mense ons ingeneem.

Ek was swanger en nie meer lus om te baklei nie. Niks wou uitwerk nie. Ons was moedeloos.

Ek het opgegee en in daardie oomblik het God in liefde oorgeneem. ’n Wete dat dinge gaan verander, het in my hart kom lê.

Teen die tyd dat my dogtertjie gebore is, het ons weer op ons eie voete gestaan. God het op wonderbaarlike maniere vir ons voorsien.

My gesin se liefde en ondersteuning dra my elke dag …

Hulle is waarlik daar vir my – en ek vir hulle. Dis ’n konstante liefdesverhouding. My gesin is my veilige plek. Ons ondersteun mekaar veral as die lewe ons uitdaag.

My man was lief vir my deur daar te wees in ’n tyd dat ek regtig geen beheer gehad het oor wat met my gebeur nie.

Nie een van ons kyk wat ons uit die verhouding kan kry nie, maar eerder wat ons vir mekaar kan gee.

Ons geniet dit om lief te wees vir mekaar en om waarlik daar te wees vir mekaar.

Al is daar struikelblokke, bly dit my keuse hoe ek voel … My lyf was yskoud … My kop het geklop. ’n Lang pad na herstel het voor my gelê nadat ek geval het en my nek gebreek het.

’n Diepe aanvaarding van omstandighede bring vrede en helderheid van verstand. Waar ’n mens is, bepaal nie wie jy is nie.

Soms bevind ’n mens jouself in ’n donker kamer sonder ’n uitgang.

Ek het in daardie oomblik gekies om stil te raak en dit wat was te aanvaar. As ’n mens volkome laat gaan, vang jou oog die lig wat deur ’n skrefie skyn. Daar is die deur!

Die kosbaarste ding om te gee is om teenwoordig te wees …

Dis vir my belangrik om waarlik te sien en te hoor … Om mense ten diepste te verstaan.

Al stem ek nie saam nie, probeer ek steeds om deur ander se oë na die wêreld te kyk. Só tel ’n mens klein goedjies op en waardeer ’n mens ander se siel.

Dis my keuse om te gee. My teenwoordigheid is ’n geskenk.

Deur lewensafrigting wil ek mense regtig help om deur dit te breek deur dit wat onmoontlik lyk.

Om hulle te leer om hulle vlerke te sprei, om hoog te vlieg en te sien wat moontlik is wanneer hulle dit doen.

Ek wil ander mense lei om te bly glo …

My hartsbegeerte is om in die toekoms daar te wees vir ander. Om ander in liefde te ontvang en teenwoordig te wees in die oomblikke dat hulle dit regtig nodig het.

Ek wil ander help en verseker dat die omstandighede waarin hulle hulleself nou bevind, hulle nie vir die res van jou lewe ongelukkig hoef te maak nie.

Mense moet weet dat hulle omstandighede hulle nie definieer nie, hulle is meer as dit. My intensie is om so bewustelik moontlik te lewe en ’n bydrae te maak wat lewegewend is.

Die diep wete van wat moontlik is, motiveer my …

Liefde is my grootste motivering. My liefde vir my man, my kinders en my werk spoor my aan om alles te gee.

Hoewel iets prakties vir my moet sin maak, laat ek my intuïsie toe om my te lei.

My liefde vir ander, gee my energie. Energie om die pad te stap, weer te probeer en op te staan wanneer ek val.

Dit motiveer my ook wanneer iemand regtig wil saamwerk, en die keuse kan maak om ’n groot tree vorentoe te gee …

Dan is enigiets moontlik.

Ek is gebore vir tye soos hierdie … moeilike tye …

Of dit nou traumaberading of lewensafrigting is, ek wil mense help om sin te maak van die lewe.

My eie ervaring deur die jare het my swaard skerp gemaak om nou ’n verskil te maak. Ons sit baie keer vas in ’n moeras van moeilike omstandighede.

Ons sê dikwels vir mense om nie op te gee nie, maar sonder om vir hulle te sê hóé hulle dit kan regkry om fiks vir die lewe te wees.

Ek wil mense graag met die regte gereedskap toerus – nie om net te oorleef nie, maar om waarlik te floreer!

Wat ’n voorreg om ’n toeskouer van wonderwerke te wees …

Dit voel asof ek ’n kaartjie in die voorste ry gekry het!

Ek sien hoe die wonderwerke reg voor my oë gebeur. Mense se sienings, keuses, lewens en verhoudings met hulle familie, kinders en kollegas word getransformeer.

Dis ’n kombinasie van ’n roeping en ’n beroep om mense te help om van krag tot krag te gaan. Ek hou die meeste daarvan om met mense, besighede en projekte te werk wat reeds gevestig is en nog hoër hoogtes wil bereik.

Daar is geen beter gevoel nie as die wete dat ons saam die onmoontlike kan bereik.

Vorige artikelHOE OM … weer te vertrou
Volgende artikelGelowiges moet as één funksioneer