Rhona Erasmus: “Liefde is die grootste seëning in my lewe”

85

Hierdie mamma, besigheidsvrou en motiveringspreker het geleer om haar tekortkominge te omhels. RHONA ERASMUS, ’n Mevrou Suid-Afrika-finalis dra verskeie hoede … Een daarvan is as kenner van Finesse se rubriek en weeklikse podsendingreeks #WerkendeWondervrou.

’n Groot droom het voor ’n klein swartbord begin.

Met penne, potlode, notaboeke, bordkryt en natuurlik ’n klokkie het ’n klein meisie skool-skool gespeel. Haar jonger sussie het soet na die “juffroutjie” in die grootmens-hakskoene gesit en luister.

Daardie meisietjie was ek. Om skool-skool te speel was vir my die lekkerste speletjie in die hele wêreld.

Ek wou my hele lewe lank twee dinge word … ’n mamma en ’n juffrou.

My ma en ouma was onderwyseresse. My oupa was ’n dominee – ’n geestelike onderwyser. Dis definitief in my gene, maar ek weet dis in my hart.

Boelies het my geleer opstaan vir my waardigheid.

Nadat ons van die platteland af Pretoria toe verhuis het, het die leerders by die nuwe skool my afgeknou. Teen fisieke afknouery kan ’n mens nog opstaan, maar emosionele boelies los ’n letsel.

Ek was ’n regte plattelandse meisietjie en het soos ’n vis op droë grond in die stad gevoel.

Hoe minder ek gesien of gehoor is, hoe kleiner was die kans dat ek geboelie sou word. Daarom het ek myself begin onttrek en my talente onder ’n maatemmer weggesteek.

Daar het ek besef dat ek teen boelies moes opstaan om my waardigheid te behou.

Ek is bevoorreg om waarlik lief te hê.

My man het my geleer dat ’n mens nie altyd kry wat jy verdien nie, maar eerder waarin jy glo.

Ek is ’n vrou met groot drome, maar my man en seuns kom altyd eerste.

Dis heerlik om ’n huis te hê waar ek waarlik onbaatsugtige liefde en aanvaarding kan ervaar.

Ons lewens is baie besig, maar daar is steeds onbeplande stilstaan-oomblikke. Oomblikke waarna ek gaan terugkyk en as herinneringe gaan koester.

Die liefde van my gesin is waarlik die grootste seëning in my lewe.

My hart klop vir kinders, maar ook vir mammas.

Later het ek besef ’n mens hoef nie noodwendig in die onderwys-opset te wees nie. Daar is ander maniere om my passie vir vroeë kinderontwikkeling uit te leef.

Vandag besit ek twee besighede waarin my liefde vir kinders duidelik sigbaar is: Midstream College Babahuis en ’n Pienkvoet-Pret-franchise.

Dis vir my baie bevredigend om deur my eie lewenservarings mammas te motiveer en te inspireer.

Ek glo ook dat mammas en vroue mooi na hulleself moet kyk … Só het die idee van die Trouvaille Boutique Dagspa ontstaan en ’n werklikheid geword.

Om waarlik ’n verskil te maak, maak my gelukkig.

Dit gaan oor meer as om iets vir iemand te gee, maar eerder oor die positiewe impak wat ’n mens maak – of dit nou direk of indirek is

Ek is ’n giver van aard en daarom is daar vir my niks lekkerder as om te gee nie, hetsy dit my tyd, passie, liefde of kennis is.

Ek wil graag my twee seuntjies met hierdie waardes grootmaak.

Deur my voorbeeld hoop ek regtig dat hulle ook ’n lewe sal kies waarin hulle waarde tot die samelewing kan voeg.

Vroue is sterker wanneer hulle saamwerk en mekaar ondersteun.

Alleen is jy net ’n druppel in die see, saam is ons ’n oseaan. Ons is vriendinne en susters wat in mekaar moet glo, mekaar moet verdedig en vir mekaar moet bid.

Ek glo dat dit my roeping in die lewe is om sonder oordeel ander vroue te ondersteun.

In moeilike tye het ek self die krag van ondersteunende vroue ervaar.

Ons verstaan mekaar en moet eerder saamstaan om mekaar in moeilike tye te dra.

Dis een van my drome om ’n generasie meisies te leer om mekaar te ondersteun.

Vandag kyk ek na myself deur God se oë …

Eers moes ek my tekortkominge omhels en nie meer verskonings maak nie.

Ek het geleer dat ’n mens nooit van iemand anders kan verwag om jou te vervul en gelukkig te maak nie.

Om op twee-en-twintig te trou en 11 maande later te skei was ’n moeilike pad, maar dit het my baie wys gemaak. Dit was ’n kronkelpad wat ek moes stap totdat ek by ware liefde uitgekom het.

My man se voorbeeld het my geleer dat ek slegs ’n goeie eggenoot vir hom kan wees as ons verhouding met God sentraal staan.

Ek is baie opgewonde oor #WerkendeWondervrou.

Benewens die Finesse-rubriek is #WerkendeWondervrou voortaan ook ’n podsendingreeks.

Dit word elke Vrydag om 13:00 eksklusief op die Voelgoed[1]platform uitgesaai.

Ek wil vroue die waarheid oor sukses, skoonheid en liefde leer, maar ook hoe belangrik dit vir ons is om daar vir mekaar te wees.

Met hierdie rubriek wil ek elkeen aanmoedig om ondersoekend hulle eie kronkelpad tot by die liefde te stap.

Dis ’n bevrydende pad waar ek nie net romantiese liefde ontdek het nie, maar selfliefde en ’n onbeskryflike Hemelse liefde.

Liefde maak ons nie swakker nie, maar sterker.

Vorige artikelMoenie dat mense jou misbruik nie
Volgende artikelKen hy jou behoeftes en begeertes?