‘Selfvertroue en dissipline is gelyk aan sukses’

314

Swemmer KAYLENE CORBETT het vanjaar aan die Olimpiese Spele deelgeneem om ondervinding op te doen. Haar selfdissipline, vertroue en geloof het haar na verstommende nuwe hoogtes geneem. Sy is opgewonde oor die moontlikhede wat vir haar wag.

“Jy gaan nog eendag by die Olimpiese Spele swem.” My afrigter het dít gesê. Ek was nog klein en het nie eens geweet wat die Olimpiese Spele is nie.

“Ja-ja,” het ek min wetend saamgestem en gelag. Danksy maande se oefening, die toets en vaslê van verskillende asemhalingspatrone en dolfynskop-kombinasies het ek meer gereed as ooit tevore gevoel.

Om in beheer van my energie, fokus en mededingingsvlak te voel, gee my gemoedsrus, maar daar was steeds dinge buite my beheer – soos die ander deelnemers se vermoë.

My doelwit vir die Olimpiese Spele was om ’n plek onder die agt topswemmers te behaal en om soveel ondervinding moontlik op te doen.

Dit was vir my ’n onverwagse seën om ’n vyfde plek te behaal!

Dis ’n besonderse talent wat aan my toevertrou word. Wanneer my voete in vinne verander, my arms in wawiele en my siel eindeloos vry voel, besef ek dat die Here se seën oor my spoel.

Swem gaan vir my oor soveel meer as wen!

Dis die wete dat ek nie alleen swem nie … dat my Skepper my dophou, my oppas en lei en dat my vaartbelynde lewe na ’n spesifieke bestemming op pad is. Hierdie wete maak my geestelik sterk en geen ander motivering is nodig nie.

Vroeë oggende, laat aande – soms is dit ’n uitdaging. Elke oggend se opstaan is makliker as ’n mens weet waarvoor jy werk en waarheen jy op pad is.

My deelname was ’n kosbare oomblik wat my grootste verwagtinge oortref het. Met elke slag, proe ek die spanning … totdat my vingers aan die rand van die swembad raak.

Ek is vyfde!

Op daardie oomblik het ek besef dat dit die moeite werd was om myself uit te daag; om die kans te vat, om op te daag en my heel beste te gee.

My ouers en my ondersteuners is my standvastige fondasie en my rots. My pa het ’n WhatsApp-groepie gestig waarop die hele familie my kon aanmoedig. Dis vir my so spesiaal om hulle boodskappe en gebede te lees.

Wanneer ek reis, raak my pa baie benoud as sy dogtertjie die vreemde aandurf. Hy is in ’n flat spin wanneer ek op die vliegtuig klim, maar hy ondersteun my voluit. My ma is die rustiger een – ook goed so, want iemand moet my pa help bedaar.

My ouers is my grootste fans en so passievol oor dít wat vir my belangrik is. Hulle is ongelooflike ouers. Ek sou nooit so ver in my sportloopbaan gekom het as dit nie vir my ouers was nie.

Dis belangrik om elke dag gedissiplineerd te leef en te volhard. Tussen my onderwysstudie aan die Universiteit van Pretoria deur moet ek op my voorbereiding vir toekomstige kompetisies fokus.

My dae bestaan uit sessies in die gimnasium, sessies saam met my afrigter in die swembad en besoeke aan my dieetkundige en fisioterapeut.

Gelukkig is die universiteit baie tegemoetkomend. Daar is ’n goeie verstandhouding tussen die dosente en die studente-atlete.

Party dae is ek regtig moeg. Om elke dag vier tot vyf uur te swem en te oefen is nie maklik nie – veral in die winter.

’n Mens kan net so lank opgewonde oor iets wees en dan moet jy gefokus bly. Gelukkig hou ek van dít wat ek doen.

Swem gee my innerlike vrede, al voel ek uitgeput. Om 05:50 gaan die genadelose skrilgeluid van my alarm af.

Kreun-kreun sleep ek my lyf tot in die badkamer waar my oefenklere vir my wag. Ek spat koue water oor my gesig om wakker te word.

Dan herinner ek myself aan die hoekoms – hoekom elke dag se alarm my wakker skree; hoekom ek die een voet voor die ander sit; en hoekom opgee nie ’n opsie is nie.

Alle sport is vir my lekker, maar as ’n landdier floreer ek nie. ’n Vis is wat ek is en die kompetisie laat my lewendig voel. In die water voel ek vry – asof enigiets moontlik is.

My selfvertroue en dissipline groei soos die kompetisie versterk. Ek het in Hartswater grootgeword – later het ons Port Elizabeth toe verhuis.

Vir my het dit gevoel asof my klein dammetjie na ’n rivier oorgespoel het. Maar dit is ook goed so, want in daardie rivier leer jy om teen sterker strome en tussen groter visse te swem.

Van jongs af het ek geleer dat baie dinge moontlik is as ’n mens selfdissipline toepas. Dit maak nie saak hoe talentvol ’n mens is nie, sukses kan slegs bereik word as jy doelgerig leef.

Wanneer ek voel hoe die harde werk die moeite werd was, verskyn daar ongetwyfeld ’n glimlag op my gesig en ’n rustigheid in my hart.

Om daagliks van ’n groter liefde bewus te wees, laat my minder kla en opnuut dankbaar voel. Soos wat dit inspanning verg om voorbereid by ’n kompetisie op te daag, verg dit inspanning om ’n goeie verhouding met jou Skepper te hê.

Niks wat die moeite werd is, kom ooit maklik nie, maar in geloof ontvang ek ’n bonatuurlike liefde – heeltemal verniet!

Geen medalje, trofee of rekordtyd gaan God liewer vir my maak nie.

Hy is lief vir my – nes ek is.

God se grootste eienskap is dat liefde sy karakter definieer en staan vir wie Hy is. Die oomblik toe ek dit besef het, het ek vry gevoel.

Vorige artikel‘Die vroue van die plantasies inspireer my’
Volgende artikelWat die bybel sê oor … liefde