STEPHAN JOUBERT: “Moenie die dinge doen wat maklik is nie, doen wat reg is …”

151
Stephan Joubert

Wanneer die teoloog en skrywer STEPHAN JOUBERT praat, sit mense regop en luister. Sy kennis is indrukwekkend, maar dis sy nederigheid wat selfs dieper tref. Stephan en Jan van der Watt se nuwe Afrikaanse vertaling van die Nuwe Testament DIE NUWE NUWE TESTAMENT het ook onlangs verskyn!

Wanneer jou lewe soos ’n gladde stroom verloop en alles mooi netjies in plek val, kan dinge gevaarlik raak.

Toe dit in my lewe gebeur het, het ek op ’n dag met ’n skok besef: “Stephan, as jy hiér bly, gaan alles net oor jou gaan. Jy gaan die eer kry, en die Here kry niks.”

Dit was nie ’n plek waar ek wou wees nie.

My lewe lank het ek nog nooit vreeslik ambisie gehad nie. Ek wou net doen wat ek geglo het binne my potensiaal was: ’n Predikant by ’n kleinerige gemeente.

Maar die lewe het anders uitgewerk.

Toe ek as die jongste teologieprofessor begin naam maak het, het my loopbaan in alle rigtings ontplof. Plaaslik en oorsee. Skielik was ek oral in aanvraag. Almal wou iets van hierdie nuwe “prof. Joubert” hê.

“Is dit nou dít?” het ek my afgevra.

Of ’n mens dit nou so bedoel of nie, daar kom ’n selfbehaag[1]likheid en arrogansie oor jou, en die dag as jy dit besef, weet jy: Nou is ek op onvaste grond.

Dit het my getref êrens op ’n bankie in die sneeu in Duitsland.

My vrou, Marietjie, het langs my gesit. “Hierdie is die einde van ’n era,” het ek stilweg vir haar gesê. “Ek gaan bedank uit al my poste … en wag op die Here.”

Wat ek daarmee bedoel het, was dat die tyd aangebreek het vir minder van my en meer van Hom. Om onsigbaar te word, sodat mense nie meer vir my sal raaksien nie, maar die Een in my.

Dit was ’n groot keerpunt, en die begin van ’n nuwe pad. My tweede helfte, waarin ek kon begin regmaak in die areas waar ek in die eerste deel van my lewe verbrou het.

Ek is een van die ouens wat nog altyd aan dié kant van die draad was …

Vanaf my heel eerste gebede as ’n klein seuntjie was ek diep bewus van ’n Hoër Hand in my lewe.

Hierdie passie kan jou soms egter oorboord laat gaan. Op hoërskool was ek byvoorbeeld die tipe ou wat my rugbyspanmaats benoud laat wonder het of ek vir ons gaan begin bid sodra die skrum sak.

Ek was nie baie lief vir die kerk nie. Dit het vir my te veel gevoel soos die Colosseum van ouds.

’n Plek waar jy bang moet wees. Waar goeie mense vir die leeus gegooi word. Waar daar kwaai ooms was wat meer oor sonde weet as oor God. ’n Plek waar sisteme belangriker is as liefde.

Mettertyd het die besef gekom dat daar ’n virus is wat net godsdienstiges blyk te tref. Ek noem dit die “harde hart”-virus, wat jou laat dink en optree in terme van “ons en julle”.

As jy hierdie virus onder lede het, is jy geneig om mense links en regs te oordeel: “Kyk hoe lyk julle … kyk hoe praat julle … kyk wat doen julle …”

Ek was ook daar, en soms pootjie dit my nog steeds. Toe ek nou die dag swak diens in ’n winkel kry, was ek dadelik weer op my perdjie. Verontwaardig. ’n Ontploffing van woorde het gevolg.

Toe ek uitstap, voel dit asof daar ’n hemelse hand swaar op my skouer druk, maar ek ignoreer dit. Die swaarheid wou nie weggaan nie. Uiteindelik moes ek maar terugdraai en om verskoning gaan vra.

Ons leer nie verniet “pas jou hart op” nie.

Om ’n sagte hart, ’n hart vir mense, te hê, is die eienskap waaraan ek nou nog die hardste werk in my karakterontwikkeling.

My fokus is nie meer op geestelike groei nie, maar op geestelike impak …

My fokus het ’n bietjie verander. Ek probeer eerder om mense op my skouers te tel, sodat hulle kan groei, verder kan sien en meer kan bereik.

Dit geld oral in die lewe. Ons kan almal ’n ontsaglike positiewe impak maak deur hoe ons kies om in alledaagse situasies op te tree. Dit tref my nou die dag opnuut toe ek ’n petroljoggie groet terwyl hy die motor volmaak.

Hy glimlag skielik breed en vang my onkant met dié opmerking: “Jy het my dag gemaak!”

“Hoekom?” wil ek nuuskierig weet.

“Because you called me sir.”

“Nou wat noem ander mense jou?” vra ek, en moet net keer toe hy ’n rits lelike rassistiese name begin aframmel.

“Maar watse mense noem jou so?” wil ek weet.

Die joggie reken dit moet seker kerkmense wees, want oor die radio in die motor het daar net gospelmusiek gespeel. Hy wens alle wit mense was eerder soos ek, voeg hy na ’n ruk se gesels by.

Maar eintlik weet ek die oplossing is dat ons almal eerder meer soos Jesus moet wees. Dis eintlik ironies dat hoogmoed die sonde is wat Hom die meeste pla, en die kerk die minste.

Iemand het eenkeer gesê ons kan Suid-Afrika binne 24 uur verander as ons minder bid en meer die antwoord op ons eie gebed word. Sulke waar woorde.

Hoe dieper my geloof word, hoe meer glo ek soos ’n kind …

Dis asof my twee doktorsgrade my nie veel oor geloof geleer het nie. Ek het baie meer by die Heilige Gees geleer, en deur mense en situasies fyn dop te hou.

Een van my doelbewuste keuses is om daagliks in verwondering te leef. Om nuuskierig te wees, nooit op te hou vrae vra nie en elke dag iets van die lewe te vier.

Navorsing het bepaal dat kinders onder ses jaar gemiddeld 300 vrae per dag vra. Dít teenoor volwassenes, wat daagliks by slegs ses vrae vassteek.

Wanneer mense dus ’n sogenaamde geestelike waarheid kwytraak, vra ek dikwels: “Hoekom?” Nie omdat ek probeer snaaks wees nie, maar omdat ons net iets nuuts leer of tot ’n nuwe insig kom as ons buite ons normale denkpatrone gaan ondersoek instel.

Breinnavorsing is een van my stokperdjies, en so weet ek dat die brein die hele tyd besig is om jou lewe in kaarte te giet. Sodra iets bekend raak, raak dit veilig, en sodra dit as “veilig” geklassifiseer is, gee jy min of geen aandag daaraan nie. Daarom hou ek daarvan om dinge op ’n buite-die-boks-manier aan te pak sodat mense (en ekself) weer notisie sal neem, aandag sal gee, sal luister en leer.

Ek probeer om elke dag ten minste een nuwe ding uit die Woord te leer, uit ’n ander boek en by ’n mens.

Dit hou my daarop ingestel om te groei in my verstaan van die wêreld en sy mense – want dit is hier waar ek die graagste ’n impak wil maak.

Moenie die dinge doen wat maklik is nie, doen wat reg is …

Nederigheid gaan nie oor wie reg is nie, maar oor wat reg is. Dit is een van die groot kopskuiwe wat ek moes maak.

Dis maklik om ’n kortpad na ’n antwoord of oplossing te kies, maar die maklike pad is nie altyd die regte pad nie.

Dit geld vir baie dinge.

“Gee jou hart oor,” word daar dikwels gesê … maar wat van jou kop? Hoekom moet ons dit vir onsself hou?

Vir my is dit belangrik dat ons harte én koppe saam gebruik moet word.

Kyk maar na hoe ons neig om die Bybel te lees. Vir party mense is dit soos Die Groot Verseboek, en dit bly ’n “toe boek” totdat ’n krisis tref. Dan gaan slaan ons dit naarstig oop, soek ’n vers wat klink na die antwoord of verduideliking vir ons situasie, en pas krisisbeheer toe totdat die probleem verby is.

Daarna kry dit weer ’n lêplek langs die bed of op ’n boekrak.

Om net hier en daar ’n versie te gaan uithaal en dit op ’n situasie toe te pas, sonder om die groter konteks te lees of te probeer verstaan, is ’n kortpad wat ons soms kan mislei.

Dis eintlik so goed my vrou skryf vir my ’n lang brief en elke aand gaan lees ek net hier en daar ’n paragraaf. Dit sal moeilik wees om alles wat sy vir my wil sê, in te neem as ek rond en bont lees.

Vir my is die Bybel eerder ’n aaneenlopende verhaal, en dit wat ek elke dag daarin lees, probeer ek om ook na buite uit te leef.

So het dit vir my ’n oop boek geword. ’n Lewende boek. Dit maak dit baie meer opwindend.

Ek en Jan van der Watt pak saam groot projekte aan en werk al byna vier dekades saam …

Ons is ook saam by e-kerk betrokke. E-kerk vervang nie jou plaaslike gemeente nie. Dit is net nog ’n manier om kerk in die wêreld te wees.

Om professors in teologie te wees, is dieselfde as om onderwysers te wees … maar ons is onderwysers vir God.

Of dit nou is om by die universiteit klas te gee, nuwe Bybelvertalings te doen, boeke te skryf of op die preekstoel te staan … dit bly uiters belangrik om ’n begeerte by mense te skep. Die begeerte om meer van Jesus te leer.

As ons dit regkry om mense se gedagtes stil te maak … hulle gemoed oop en hulle hart ontvanklik, dan weet ons, ons is op die regte pad.

Dit is verskriklik lekker om te hoor dat mense die Bybel makliker verstaan en sodoende Jesus beter leer ken. Dit is tog die einddoel … dat Jesus se boodskap van liefde meer prominent in gelowiges se lewe sal wees.

Jesus se boodskap was radikaal anders as dié van die leermeesters van Sy tyd. Die skrifgeleerdes het gedurig mense se lewe met allerlei wette probeer rig en struktureer.

Jesus se boodskap aan die ander kant was bevrydend. Dit is tog die grootste boodskap – dat ons vrygemaak is deur Sy liefde.

Daar is ’n wye keuse van Afrikaanse vertalings van die Nuwe Testament op die mark …

Hoekom nog ’n vertaling? Sodat ons God self kan hoor praat in die taal waarin ons almal – oumense en jongmense – leef en droom. ’n Vertaling wat as gesinsbybel deur die hele gesin gelees kan word.

Ná ’n eerste, meer populêre vertaling van die Nuwe Testament in 1997, Die Boodskap (CUM), het ons deelgeneem aan die vertaling van die volledige Bybel in 2002, dieBybel@kinders (Carpe Diem Media).

Omdat Bybelvertaling ons passie is, was die idee met Die Nuwe Nuwe Testament om die gaping tussen letterlike en vryer vertaling met ’n maklik leesbare Afrikaans te vul. Dít sonder om ooit weg te beweeg van die grondteks.

Om die dinge wat in Grieks eienaardig is en ons nie so maklik verstaan nie, steeds te kan begryp, lees hierdie vertaling asof die oorspronklike skrywers dit van die begin af in Afrikaans geskryf het.

Die doel hiermee is om God se Woord in ’n vinnig veranderende wêreld op ’n eietydse, vars manier aan die woord te hou. Om die hartklop van die Nuwe Testament in normale, elkedagse Afrikaans uit te druk.

Op ’n dinamiese, maar verantwoordelike manier wil hierdie vertaling die 27 Nuwe-Testamentiese boeke goeie Afrikaans laat praat – keurige, daaglikse spreektaal.

’n Nuwe Bybelvertaling is ’n taak wat nie sonder eiesoortige uitdagings is nie …

Grieks en Afrikaans sê nou maar eenmaal nie dinge op dieselfde manier nie.

Die Nuwe Testament is oorspronklik in Grieks geskryf. Om dit vir ’n Afrikaanssprekende dus moontlik te maak om ook die Nuwe Testament te kan lees, moet die Grieks in goeie Afrikaans vertaal word.

’n Vertaling word as betroubaar gereken as die leser van die nuwe taal, dieselfde hoor en verstaan as wat die oorspronklike leser in sy eie taal gehoor het.

Sou dit vir hierdie twee persone moontlik wees om met mekaar te gesels oor wat hulle gelees het, moet hulle saamstem oor wat daar staan.

Die grootste kopkrapper is dat Grieks en Afrikaans as tale baie ver uitmekaar lê. Hulle behoort nie eers aan dieselfde taalfamilie nie!

Die uitdrukkings, die manier van dinge sê, en die woorde wat gebruik word om emosie aan te dui, is heeltemal anders as wat ons Afrikaanssprekendes sou gebruik.

Dit maak ’n vertaling moeilik, want jy kan nie sommer maar net die Griekse woorde met Afrikaanse woorde vervang nie. Dit het soms ander woorde en uitdrukkings genoodsaak.

Idiome is byvoorbeeld verskillend. In Romeine 12:20 word daar verwys na die uitdrukking om “vurige kole op iemand se hoof op te hoop”.

Ons druk dieselfde gedagte anders in die omgangstaal uit. Om te verstaan wat dit sou beteken, kan jy dit hier lees as om “vuurwarm kole op iemand se kop te sit”.

Dit is ook baie belangrik dat gevoel saam met ’n boodskap oorgedra word. Tale verskil egter in die manier waarop emosie uitgedruk word.

Die woord “liefde” in die Nuwe Testament het byvoorbeeld min met emosie, maar baie met lojaliteit en verantwoordelikheid teenoor ander te doen. In Afrikaans het liefde sommer baie ander betekenisse ook.

Die vertaler moet daarom baie seker maak dat hy die regte woorde in Afrikaans kies om te keer dat daar nie misverstande ontstaan nie.

DIE NUWE NUWE TESTAMENT is gewortel in die Griekse teks van die Nuwe Testament …

Die vertaalfilosofie is om die brontaal so getrou as moontlik in eietydse, gepaste Afrikaans weer te gee.

Ons grawe ons daarom deeglik in die Griekse teks in, om te wete te kom wat Paulus, Johannes en Matteus destyds gesê het.

So kry vandag se leser hierdie boodskap in goeie en verstaanbare Afrikaans.

Die betekenis van dit wat die verskillende Nuwe-Testamentiese skrywers in die verskillende Bybelboeke sê, word korrek en betroubaar weergegee.

Die fokus is op woordgebruik en skryfstyl wat nie soos verafrikaansde Grieks klink of voel nie. Om by goeie begrip uit te kom, moes Afrikaanse woorde gekry word wat die Griekse woorde die beste weergee.

As dit nie moontlik was nie, het ons die bedoeling van die Griekse woord met ’n frase probeer weergee, sodat die leser presies kan weet wat die Woord daar wil sê. Steeds is die teks so vertaal dat dit maklik lees.

Grieks gebruik lang sinne wat ’n Afrikaanse leser soms deurmekaar kan maak. Daarom is sinne verkort, op die manier waarop ons in Afrikaans gewoond is. Daar is seker gemaak dat die teks goed vloei en verstaanbaar is.

Dit wat in ons werk uitstaan, kan saamgevat word as taal wat maklik lees vir goeie begrip. Wat solied op die Griekse teks staan, sodat die Woord van die Here helder gehoor kan word.

Die Bybel is die lig vir ons pad en die lamp vir ons voet – daarom het ons probeer om die lig so helder as moontlik te laat skyn!

DIE NUWE NUWE TESTAMENT is eksklusief beskikbaar by Voelgoedwinkel én uitgesoekte gemeentes. R249 R299

Vorige artikelSCHEPPEL: ‘Om viool te speel in Afrikaans!’
Volgende artikelLEAH: ‘Meet jy jouself aan ander se opinies?’