Arno Jordaan: “Daar is ’n rede hoekom ek moes leef”

231

Dis eers in die hospitaal dat ek werklik tot verhaal kom. Ek sien weer hoe ek in die linkerkantste baan agter ’n lang ry motors aankruie, dan die rigtingwyser aansit om van baan te verwissel waar die verkeer vinniger vloei.

Maar dan is ’n vragmotor in die regterbaan skielik voor my. Die vragmotor beweeg teen ’n slakkepas, so stadig dat dit feitlik stilstaan.

Ek moet uitswaai voordat ek teen die vragmotor bots. Ek swenk links, terug na die baan waaruit ek so pas gekom het.

Dankie tog, ek het dit gemaak. Dis oukei.

Maar nee, toe nie.

Op die laaste oomblik tref my motor die agterkant van die vragmotor. Daar is ’n harde slag, ’n aaklige en onheilspellende geluid. Die volle impak van die botsing tref my.

Die Land Rover swenk na links en bars deur die heining langs die pad. Ek klou magteloos aan die stuurwiel, probeer desperaat om ten minste ’n mate van beheer te herwin.

Maar dit help net mooi niks. Ek dink nie. Gil ook nie eens nie. Daar is nie tyd nie.

Die Land Rover dobber oor die ruwe terrein. Meters ver oor ’n grasveld. ’n Drang om uit die wrak te kom, oorval my. Bewerig besef ek dat daar moontlik ’n brand kan ontstaan.

Dis stil om my, vreemd stil. Ná ’n rukkie kom die boer van die plaas, wat gesien het wat gebeur, aangestap.

By die hospitaal word X-strale geneem en glasskerwe moet uit my oog gehaal word. My duim het seergekry, maar ek weet aanvanklik nie hoe ernstig dit is nie.

Ek dink nie eens daaraan dat dit moontlik my kitaarspel kan beïnvloed nie.

Ek is heel kalm, maar toe daag my vrou, Lizanie, op. Skielik oorweldig al die emosies my en die trane loop oor my stukkende gesig.

Toe die besoekers weg is, die verpleegpersoneel hulle laaste ronde gedoen het en alles stil raak, is daar kans om te dink.

Wat het ek dalk verkeerd gedoen, begin die vrae. Wat kon ek anders doen? Waarna gaan ek in die toekoms oplet?

Daar is baie te leer uit so ’n ervaring. Opnuut besef ek hoe kosbaar die mense na aan my is.

’n Week ná die ongeluk kom die antwoord toe Lizanie my met die nuus verras. Ons gaan ’n baba kry!

Hierdie ervaring was ’n wekroep. Om met nuwe oë na my lewe te kyk en te besef hoeveel ek het. Daar is mense met wie ek sekere dinge moet opklaar en ek werk daaraan.

Ek weet nou hoe klein die mens is en dat jy sulke tye volkome en letterlik in die hande van die Here is.

– ARNO JORDAAN, sanger

Vorige artikelBly positief en bou ander op
Volgende artikelMichael Mol: Wat ek geleer het …