Groei beteken om aan te beweeg

436

Alles kom tot ’n einde, of ons daarvan hou of nie. Verhoudings, loopbane en lewensfases het almal ’n slothoofstuk. Die beste manier om dit te hanteer is: Leer uit jou ervarings, kyk vorentoe en groei!

MAANDAG

Sny dinge wat tyd steel uit jou lewe uit

Dit is in ons aard om voortdurend te ontwikkel en te verander. Die ironie is, dis net uit ongemak dat ons dit regkry.

Dis verandering wat groei bring, en verandering is nie (ge)- maklik nie.

Groei is nie ’n eindbestemming nie. Dis ’n reis vol verrassings en dinge wat geleer moet word.

God verwag van ons om nie te bly waar ons is nie, maar om al hoe meer uit te blink in liefde en geloof.

As ’n mens wil hê roosbome moet mooi blom, moet jy hulle gereeld snoei. Party van die takke en knoppe moet uitgesny word sodat die boom lig en lug kan kry. ’n Roosboom maak meer blomme as wat dit kan dra.

Ons moet dieselfde snoeiwerk in ons alledaagse lewe doen. Dinge soos tyd, energie, talent en geld is meestal te min.

Veral tyd! Daar is net nooit genoeg ure in ’n dag nie; daarom moet jy mense en aktiwiteite wat jou tyd onnodig in beslag neem en jou energie dreineer, uit jou lewe uitskakel.

“Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het (Johannes 15:2-3).

DINSDAG

Die verlede en vrees vir die onbekende hou ons vas

Wanneer ’n mens sukkel om die boek toe te maak, bly jy in vorige ervarings en huidige omstandighede vasgevang.

Het jy al ooit besef jy maak nou weer dieselfde fout? Of dat jy weer dieselfde soort verhouding gekies het, met dieselfde soort persoon wat jou voorheen ongelukkig gemaak het?

Dis nou maar eenmaal so: Ons maak dieselfde foute oor en oor.

Maar om jou kop elke keer teen dieselfde muur te stamp, maak dat jy nie kan groei en jou volle potensiaal kan bereik nie.

Jy bly soos ’n steeks donkie net op een plek vashaak.

Hoekom nie aanbeweeg en uit jou foute leer nie?

Die antwoord is maklik: Almal het issues uit die verlede.

Dié issues kom staan elke dag in ons pad. Al is dit tyd om aan te beweeg, is jy nie lus om dit te doen nie, omdat jy bang is vir die onbekende.

Besef jy dat daar reeds soveel mooi dinge vir jou beplan is? Jy moet net die eerste tree gee en dit in besit neem!

Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom (Jesaja 43:18-19).

WOENSDAG

Gebruik die tyd reg en ontgin jou potensiaal

As jy nie dit wat jou tyd steel, uitskakel nie, sal al jou pogings maar so-so bly – al het jy baie potensiaal.

’n Slimfoon kan baie tyd spaar, maar dit kan ook ’n dief wees wat tyd steel. As jy vir ure doelloos op Facebook rondkuier, gaan ’n deel van jou lewe verby wat jy nooit kan terugkry nie!

Fokus eerder jou kosbare tyd en energie op dít wat regtig belangrik is.

Jy lees dalk hier en dink: Maar ek wéét dit mos al lankal!

Nou hoekom doen jy dit dan nie?

Ons probeer almal om pyn te vermy. Dit is partykeer makliker om moeilike situasies in jou lewe liewer te vermy as om die probleem direk te pak. Elke slothoofstuk kom met pyn en innerlike konflik – selfs vrees!

Dit is belangrik om slothoofstukke as ’n normale deel van die lewe te beskou en nie as ’n probleem om op te los nie.

Wanneer jy die snoeiwerk in jou lewe as normaal sien, sal dit makliker gaan en sal jy nie elke keer daarvan weghardloop nie.

Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting (Jeremia 29:11)!

DONDERDAG

Aanvaar die realiteite en maak die groeiproses makliker

Ons weier baiekeer om die werklikheid te aanvaar vir wat dit is. Moenie toelaat dat mense jou lewenslus steel net omdat jy bang is om hulle gevoelens seer te maak nie.

Aanvaar die gang van die seisoene in jou lewe. Daar is ’n tyd om te saai en ’n tyd om te oes. Elke seisoen kom mettertyd tot ’n einde.

Dis so dat die lewe te veel mense en dinge op ons pad bring. Weet waar om aan verhoudings te werk en waar om vriendskappe te laat gaan.

Jy moet besef dat sommige mense nooit sal verander nie. As mense naby aan jou jou lewe negatief beïnvloed, besluit of jy hulle regtig daar wil hê.

Die situasie wat tussen jou en vordering staan, sal tot ’n einde moet kom. Eers wanneer dit deurgedring het dat jy eenvoudig die situasie móét verander, kan jy dan sonder vrees vorentoe beweeg.

Dán sal jy ook die energie kry om tot daadwerklike aksie oor te gaan. Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou (Jesaja 41:10).

VRYDAG

Die regte stappe maak verandering maklik

Om iets af te sluit of te verander bly moeilik, al weet ons dit sal die beste wees. Maar daar is maniere om dit makliker te maak.

Maak die bedreiging ’n werklikheid in jou kop. Dink hoe jou lewe oor vyf jaar sal lyk as niks verander nie?

As jy byvoorbeeld in ’n verhouding is waar jy fisiek of emosioneel mishandel word, besluit of jy dié gedrag verder wil toelaat. Wat sal die uiteinde wees? Besluit wat jy moet doen om te kry wat jy wil hê.

Omring jou met mense wat jou sal ondersteun op die pad van verandering. As ander mense verkies dat die toestand moet voortduur, sal hulle invloed jou vorm om dieselfde te dink.

Visualiseer wat jy wil hê. Die brein is ontwerp om gedagtes en optrede in lyn met hierdie visie te bring, sodat jy daardie drome kan bewaarheid.

Besluit op ’n sperdatum. ’n Sperdatum sal jou help om jou drome te bewaarheid. Sorg ook dat daar negatiewe gevolge is as jy die sperdatum mis. Dit sal jou help om daarby te hou.

Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God. Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard (Kolossense 1:9-11).

SATERDAG

Sien raak watter mense jou terughou

Een van die grootste faktore wat keer dat ons mense uit ons lewens snoei, is dat ons nie die skurk in die verhaal wil wees nie.

Jy hoef nie! Laat hulle self kies. Besluit vooraf wat jy gaan duld en wat nie en stel jou grense dan duidelik.

Met ’n sterk selfbeeld sal jy nie toelaat dat mense jou misbruik nie.

As ’n vriendin stories oor jou versprei, kan die volgende gesprek die slothoofstuk heeltemal anders laat lyk:

“Susan, ek het gehoor jy skinder oor my. Ons is al jare lank vriende en ek wil graag jou vriendin bly, maar dit hang van jou af. Gaan dink daaroor. As jy vriende wil bly, laat my dan weet hoe ons hierdie saak kan regstel.”

“Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?” Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer” (Matteus 18:21-22).

SONDAG

Kyk die werklikheid in die oë

Om die slothoofstuk te skryf is dikwels ’n proses vol pyn en twyfel. Tog moet jy die werklikheid in die oë kyk en al die gevoelens ten volle ervaar.

Hanteer die positiewe én negatiewe gevoelens. Verteer dit soos kos – behou die goeie en elimineer die gif.

Moenie vals hoop koester nie. Om hoop te hê is gewoonlik ’n positiewe aspek in ’n situasie, maar dit kan ook jou grootste hindernis wees.

Dit kan jou aan iets laat vasklou juis omdat jy wens die situasie sal verander. Jy moet egter weet wanneer om te laat gaan.

Daar is egter ’n verskil tussen ware en vals hoop. Eersgenoemde hoop het geen gronde nie. Daar is geen werklike rede om te glo dat die situasie sal verbeter nie.

Om na strooihalms te gryp of kwaad te bly oor wat gebeur het, is maniere om die hartseer te probeer ontwyk.

’n Rouproses beteken jy moet die pyn verwerk en kan jou vorentoe dwing – na ’n stralende toekoms!

Ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus (Filippense 3:13-15).