Hou op om jouself jammer te kry!

282

Dis miskien lekker om jouself jammer te kry. Tog moet jy nie perspektief verloor nie. Alles is nie ’n mislukking nie. Aanvaar verantwoordelikheid vir jou keuses, werk deur die issues en gaan aan met jou lewe.

MAANDAG

Dis normaal om jouself jammer te kry

Is dit nie partykeer lekker om sommer net ’n pity party te hou nie? Kom ons wees nou maar eerlik, ons put tog ’n soort bevrediging daaruit.

Jy voel dalk dat jy onregverdig behandel is. Of dat jou waarde misken word. Dat die lewe en ander mense teen jou gedraai het. So laat jy die negatiewe emosies oor jouself en jou situasie spoel.

Dis nie ’n skande om jouself jammer te kry nie – wie anders gaan tog so baie simpatie met jou hê? Dis doodnormaal en ons almal doen dit van tyd tot tyd.

Die groot ding is, moenie perspektief verloor nie. Dis belangrik om te onthou dat dit nie jou hele lewe is wat ’n flop is nie. Dit is maar net ’n hoofstuk in die hantering van ’n gevoel van mislukking of miskenning. Jy moet daardeur werk en dan met die lewe aangaan.

’n Fase van selfbejammering is nie so permanent soos chemiese depressie nie, dis tydelik. Maar jy moet versigtig wees en dit nie kans gee om jou hele gevoelslewe langdurig te oorheers nie.

Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word (1 Petrus 1:6).

DINSDAG

Mense gee simpatie, maar net tot op ’n punt

Selfbejammering is nie ’n baie sosiale aktiwiteit nie! Wie wil nou heeldag luister na iemand se geteem oor die situasie waarin sy onskuldig en hulpeloos vasgevang is?

Is hartseer en ellende al waaroor jy deesdae praat? Is dit die eerste ding wat mense onthou as hulle aan jou dink? As jy begin agterkom dat almal jou vermy, is dit tyd om briek aan te draai.

Enigiemand wat deur ’n moeilike tyd gaan, is geregtig op simpatie. Maar mense troos net só lank en dan hou hulle op – terwyl jy dalk nog steeds ’n behoefte daaraan het. Dan moet jy versigtig wees om nie te veel simpatie uit mense te probeer melk nie.

Moenie toelaat dat die negatiewe situasie al die mooi en goeie dinge oorheers nie. Dis nie die moeite werd dat jou hele lewe ten gronde gaan as gevolg van een ramp nie.

Niemand verwag van jou om te vergeet nie. Maar die mense wat jou liefhet en daagliks saam met jou moet leef en werk, vra net dat jy op ’n manier probeer aangaan.

Ek weet op wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou (2 Timoteus 1:12).

WOENSDAG

 As jy net oor probleme praat, sal almal jou vermy

Navorsers sê dit neem ons een tiende van ’n sekonde om ’n blywende eerste indruk van iemand te vorm. Maar mense se vinnige oordeel is dikwels wreed, onregverdig of heeltemal misplaas. Dalk het jy dit al aan jou eie bas gevoel?

Die navorsers meen ons vel blitsig ’n oordeel oor mekaar se voorkoms, persoonlike warmte, geloofwaardigheid, bekwaamheid en vriendelikheid. En dit nadat ons mekaar net vir millisekondes in die oë gekyk het!

Sonder om ’n woord met die persoon te praat, besluit ons of sy van die karaktereienskappe besit waarna ons in ander soek.

Soms kan selfbejammering natuurlik uit jaloesie spruit. Dis wanneer jy jouself wysmaak dat ander altyd beter doen, beter kanse in die lewe kry, eerste raakgesien word. Met so ’n ingesteldheid sal jy nooit tevrede en vergenoegd kan wees nie.

As jy so reageer, sit dit mense gou af en raak hulle verveeld. En jy kan daardie goeie eerste indruk maar totsiens soen!

Wat wel ander mense se respek afdwing, is wanneer iemand wys sy werk aan die situasie en sien dit as ’n uitdaging.

Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad (Psalm 139:23-24)!

DONDERDAG

 Selfbejammering blokkeer daardie noodsaaklike persoonlike groei

Een van Sigmund Freud se grootste studente, dr. Rudolf Allers, het selfbejammering as een van die skadelikste menslike emosies geïdentifiseer. Sy navorsing wys dit is nie net ’n cliché dat jy jou eie grootste vyand kan wees nie.

Dis dan ook terapeute se grootste uitdaging om deur iemand se selfbejammering te dring. Dis broodnodig, want dit staan tussen die persoon en genesing.

Gestel iets verskrikliks het gebeur: Jou kind is dood of jy is gemolesteer. Solank jy in hierdie denkwyse bly verval, kan jy nie vorentoe beweeg nie. Dit verlam jou en blokkeer enige emosionele groei. En jy doen dit aan jouself!

Die verlammende patroon moet dadelik gebreek word. En dít kan eers gebeur as jy erken jy is vasgevang in daardie patroon. Nou kan jy jouself begin help en aanbeweeg.

Dis nie ’n maklike proses nie. Gelukkig verwag niemand van jou om oornag te vergeet wat gebeur het nie. Maar om agter die gebeure weg te kruip en jou hartseer die heeltyd te voed, sal jou ook nie beter laat voel nie.

Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie … Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is … Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee (Filippense 4:11-13).

VRYDAG

 Hou op om soos ’n passiewe slagoffer te dink

Een van die wortels van selfbejammering is twyfel of ’n mens iets sal regkry of bereik. So baie vroue glo nie in hulleself en hulle waarde nie. Besluit dat jy minstens gaan probeer, en as jy misluk, daaruit sal leer.

Oppas ook as dit met ’n klomp skuldgevoelens gepaardgaan. Reken so gou moontlik daarmee af, of sien ’n berader, want dit sal jou net dieper in die gat intrek.

Selfbejammering wat uit die een of ander kompleks stam, is natuurlik baie moeiliker om te oorkom. Iemand wat dink die lewe het die dobbelsteentjies vir haar verkeerd laat val, sál altyd aan die kortste ent trek. En daaroor bly kla. Totdat sy self die dobbelsteentjies vat en oor en oor gooi tot sy later bo uitkom.

Daar kan niks positiefs uit gereelde pity parties kom nie. Hou op om soos ’n slagoffer te dink, dan sal jy die hindernisse wat die lewe voor jou plaas baie makliker kan oorkom. Dan is jy op die pad na persoonlike groei.

Ontwikkel ’n ingesteldheid waar teëspoed jou net meer vasberade maak om sukses te behaal. Dan sal niks jou kan keer nie!

Wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie” (Hebreërs 13:5-6).

SATERDAG

Besluit self of jy pessimisties of optimisties wil wees

Natuurlik voel ’n mens nie altyd lus om op te staan as die lewe jou gepootjie het nie. Tog kan die slegte bui nie so aanhou nie – besluit om vandag uit daardie gat te klim.

Kyk rondom jou. Wat is daar waarvoor jy dankbaar kan wees? Dit hoef glad nie groot goed te wees nie, die kleinste dingetjie tel. Dit maak nie saak as dit voel of jy na strooihalms gryp nie – dis ’n begin!

Dink mooi oor wat jou so in ’n gat wil laat klim. Dalk lyk dit nie meer so erg as jy dit eers in die regte perspektief sien nie.

Te veel selfbejammering kan veroorsaak dat jy jouself as ’n hulpelose slagoffer begin sien. Dan sal jy nie besef hoe jy self tot die omstandighede bygedra het nie, en ook nie daarvoor verantwoordelikheid aanvaar nie.

Elkeen van ons het ’n verantwoordelikheid in enige situasie. Al is dit net om jou rug reguit te maak en jou onskuld te bewys. Of om jou uit die situasie te verwyder!

Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ’n stortvloed van woorde gebruik nie … julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra (Mattheus 6:7-8)

SONDAG

Hoe meer jy tob, hoe meer negatief raak die situasie

Daar is baie wat jy kan doen om anders oor jou omstandighede te dink. Hou op delf in die verlede en die negatiewe situasie bedink.

Dis menslik en natuurlik om te wil verstaan hoekom iets gebeur het. Tog, wanneer jy te veel daaroor tob en die redes probeer uitpluis, raak die gebeure al hoe groter, tot dit alles oorheers.

Maak ’n lys van jou positiewe eienskappe. Voeg gereeld eienskappe by en kyk daarna. Onthou, God maak nie flops nie. Jy is ’n Koningskind met ’n spesiale taak en missie wat net jy kan uitvoer.

Gebruik jou talente en geestelike gawes om iets vir ander te beteken. Dit laat jou beter voel oor jouself en help om op ander dinge te fokus.

Hou op verskonings maak. As die eerste keer nie werk nie, leer daaruit en probeer weer!

Die Here ken al ons swakhede en weet presies wat elkeen van ons nodig het. Wanneer dinge nie goed gaan nie, kan ons aan Hom vashou en vertrou dat Hy ons toekoms in Sy hand hou.

Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie (Hebreërs 4:15).

Vorige artikelHoe om jou vrees vir verwerping te oorkom
Volgende artikelHOE OM … emosionele bagasie agter te laat