Hou op teen verandering baklei!

96

Iemand het eenkeer gesê dat verandering die enigste konstante is. Eerder as om teen die lewe se verrassings te skop, kan jy leer om dit reg te hanteer en jou bestaan ’n fees te maak.

Verandering gebeur dikwels onverwags. Dit kan onsekerheid en selfs vrees tot gevolg hê, maar dit is deel van die lewe en jy kan kies met watter gesindheid jy dit wil hanteer.

Jy kan weier om dit te aanvaar en in selfbejammering of depressie verval. Of jy kan deur die normale emosies werk en aanbeweeg. Jou persoonlikheid kan ook jou reaksie beïnvloed. Byvoorbeeld as jy perfeksionisties is, angstig is of dalk deur te veel aanpassings gelyktydig geraak word.

Kies om te let go en beplan doelgerig vir jou ’n nuwe werklikheid. Onthou, sonder verandering sou jy nooit geweet het waartoe jy in staat is nie.

Elke verandering bied ons ’n geleentheid om te groei en nuwe dinge te beleef. Gryp dié geleentheid aan en doen moeite om verandering beter te verstaan, en om die vaardighede aan te leer om verandering met groot sukses te kan hanteer.

Mira Kirshenbaum glo alles gebeur met ’n rede. Sy sê dat wanneer ons die ware betekenis van gebeure in ons lewe vind, dit ons vrymaak van die verlede en ons help om vorentoe te beweeg. Deur verandering ontdek jy dikwels jou beste en ware self.

Leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God. (Kolossense 3:10)

Verandering is onafwendbaar deel van die lewe

Net toe jy dink jou lewe is lekker op dreef, gebeur iets wat alles omvergooi: jou man word verplaas, jou kind verlaat die nes of jy beland in finansiële nood. Of erger nog – ernstige siekte of ’n ongeluk tref jou of jou gesin, of iemand na aan jou sterf …

Min mense sou enige van hierdie situasies as positief ervaar. Hoewel ons verkies dat dinge dieselfde moet bly omdat dit ons so gerieflik pas, is verandering onafwendbaar deel van ons lewe.

Verandering is nie gemaklik nie. Weerstand teen verandering is ’n natuurlike menslike reaksie. Mense klou aan die gevestigde wyse van doen vas, want dit bied sekuriteit. Dit het ook ’n ingrypende invloed op die emosionele belewenis van mense.

Een van die geheime van die lewe is om verandering te omarm en om nie daarteen te baklei nie. Sê eerder dat jy opgewonde is om te sien waarheen dit jou gaan neem.

Selfs dinge wat op die oog af na iets negatief lyk, soos die beëindiging van ’n verhouding of die verlies van jou werk, kan dalk ’n reënboog aan die einde van die hobbelrige pad hê.

Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting. (Jeremia 29:11)

Hou op tob en maak vrede met jou situasie

Mense wat radikale veranderings aan hulle eie lyf gevoel het, stem saam met kenners dat verandering ook ’n positiewe kant het. Dit is, as jy leer om dit reg te hanteer.

Begin deur die feite te aanvaar. Onthou, deur te ontken dat jou lewe nie meer dieselfde as vroeër is nie, verleng jy net jou eie ellende.

Veranderde omstandighede lei onwillekeurig tot ’n soort rouproses met fases soos ontkenning, woede en opstand. Aanvaarding is die heel laaste stap in dié proses.

Dit is beter om die situasie te aanvaar en die nodige aanpassings te maak, eerder as om te tob oor hoe dit kon gewees het.

Dus, as jou man se werk hom verplaas en jy vriende en familie moet agterlaat, hou op treur en begin met praktiese beplanning vir ’n lewe in ’n nuwe woonplek. Net so kan ’n siekte tot op ’n punt behandel word, waarna jy moet vrede maak met jou situasie en die beste maak van die stuk lewe wat jou tog gegun word.

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou … (Filippense 4:6-7)

Moenie te veel na ander se raad luister nie

Besluit om te besluit. Onthou, ons is almal bang vir die onbekende wat voorlê, maar as jy jouself ken, is die reis wat voorlê dalk minder skrikwekkend.

As jy eers al die feite aanvaar het, moet jy sekere besluite neem. Moet dit nie voortdurend uitstel nie.

Só bly jy nie hink tussen verskillende opsies nie en kan jy met jou lewe aangaan.

Moenie te veel na ander se goedbedoelde raad luister nie. Dit is jy wat met die uiteindelike besluit sal moet saamleef.

Oor sekere dinge, soos hoe om ’n afleggingspakket te belê sodat jou finansies nie in chaos gedompel word nie, of hoe om met ’n liggaamsgebrek saam te leef, moet jy ’n kenner raadpleeg.

Om dit makliker te maak om ’n weldeurdagte besluit te neem, kan jy ’n joernaal hou van jou daaglikse gevoelens en vrese. Op hierdie manier leer jy jouself ken.

Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God. (Kolossense 1:9-10)

Leer uit jou foute en probeer weer

Neem aksie! Suksesvolle mense is nie dié wat nooit foute maak nie, maar dié wat uit hulle foute leer en weer probeer! ’n Daadwerklike, uitvoerbare plan van aksie kan verhoed dat ’n verandering in ’n krisis ontaard.

Maak egter voorsiening vir die onverwagte deur ’n tweede of selfs ’n derde alternatief gereed te hê. Dalk werk jou eerste plan nie uit soos jy gehoop het nie, en dompel dit jou van vooraf in ’n emosionele warboel.

Aanpassing bly moontlik deur net die volgende vrae eerlik te antwoord:

Wat kan ek aan my omstandighede verander?

Wat is dit wat ek nie kan verander nie?

Wat het ek hieruit geleer?

Hoe kan ek oor die situasie dink sodat ek kan aanbeweeg? Watter vaardighede het ek wat ek kan gebruik om aan te pas en watter moet ek ontwikkel om toekomstige situasies beter te kan hanteer?

Onthou, jy kan nie vooruitgaan voordat jy nie die werklikheid aanvaar het nie.

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is … (Romeine 12:2)

Stel doelwitte en beloon jouself wanneer jy mylpale bereik

Stel doelwitte. Aksie sonder doelwitte is doelloos. Doelwitte help om jou gemotiveerd te hou om aan te hou probeer.

Verandering kom voortdurend en op alle gebiede voor: as mense trou, verhuis, van werk verander, bevordering of ’n nuwe bestuurder kry, iemand aan die dood afstaan of siek word.

In enige situasie kan ons doelwitte stel: om teen ’n sekere datum ’n gestorwe geliefde se klere uit te sorteer, om jou eie tande te kan borsel ná ’n ernstige ongeluk of om binne twee maande ten minste een vriendin in die nuwe omgewing te maak …

Vier dit wanneer jy ’n mylpaal bereik en beloon jouself vir jou deursettingsvermoë, moed en opofferings. Belonings kan enigiets wees van ’n nuwe boek tot ’n lekker lang bad by kerslig, ’n bos blomme of ’n fliek.

Probeer om jou belonings só te struktureer dat dit ’n viering kan wees van die mylpaal: nooi ’n vriendin vir tee, hou ’n ete of bel jou kinders. Deel dit wat jy bereik het met iemand of iets, al is dit net met jou dagboek of jou hond.

Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. (Filippense 3:13)

Moenie dat verandering jou onkant betrap nie

Haal die angel uit verandering. Bou ’n ondersteuningsnetwerk. Navorsing wys dat ons makliker voortgaan met aksie as ons dit deel. Die spreekwoord sê immers dat gedeelde smart halwe smart is, en gedeelde vreugde dubbele vreugde!

Jou vriendinne en familie wil jou ondersteun, maar weet nie altyd hoe nie. Vra hulle om jou te help met spesifieke goed soos om die kinders te versorg. Sluit aan by ’n ondersteuningsgroep, waar moontlik – dis terapeuties en leersaam.

Leer, leer, leer … Kennis is dikwels jou beste wapen om te verhoed dat verandering jou onkant betrap. As ’n geliefde gediagnoseer word met ’n ernstige siekte of gebrek, bemagtig jouself deur alles daaroor uit te vind. As jou kind sterf, kan jy dalk inspirasie put uit dit wat ander oor hulle kinders se dood geskryf het.

Bepaal jou prioriteite. Moet jy dadelik ’n nuwe werk soek, of eers ’n besigheidsidee ondersoek? Basiese besluite oor die volgorde waarin jy dinge gaan aanpak, kan baie spanning verminder.

Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie. As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word. (Prediker 4:9-11)

Vorige artikelMaak jou kind selfstandig groot
Volgende artikelDesiré Gardner: “Oorgee beteken nie om op te gee nie”