Keer dat bekommernis jou lewe oorneem

116

Dalk lê jy ook nagte wakker en tob oor alles wat verkeerd kan gaan. Op die lange duur steel bekommernis jou vreugde. Doen wat jy kan, rus genoeg en aanvaar die onvermydelike dinge.

MAANDAG

Jy bekommer jou soms oor onnodige dinge

Jy stres oor alles. Dat jou man iemand anders bo jou sal verkies. Dat jy nie jou kinders reg grootmaak of dat hulle nie gelukkig is nie. Jy is bekommerd dat jy nie jou werk goed genoeg doen nie of oortollig verklaar kan word.

Die wêreld is deurmekaar en baie onseker, dis waar. En jy is bang dat jy nie alles sal kan hanteer nie. As daar net iets kleins verkeerd gaan in ’n dag, keer dit die hele appelkar om.

Wanneer jy egter so angstig en gestres voel en toelaat dat jou vrese oorneem, verloor jy die vrede in jou binneste.

Onthou, bekommernis is nie noodwendig die werklikheid nie, maar jou waarneming en reaksie op wat jy as jou werklikheid beskou.

Daardie adrenalien wat jy tydens ’n stressituasie afskei, kan soms nodig wees om jou tot aksie aan te spoor. Dit is egter nie ’n goeie motiveerder nie, want vrees bring ’n mens net so vêr.

Wanneer jy die probleem groter as die oplossing maak, is jy besig om negatief, in plaas van positief, te dink.

Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie (Matteus 10: 29).

DINSDAG

Wat sê die Bybel oor bekommernis?

Wanneer ons gedurig en oor alles stres en nagte wakker lê en tob, is dit eintlik ’n mosie van wantroue in God. Ons sê daarmee dat ons nie glo dat Hy almagtig is en ons in die holte van Sy hand hou nie.

Die Bybel is egter vol van voorbeelde hoe daar in die verlede vir Sy kinders voorsien is. Dis ook propvol beloftes waar Hy belowe dat Hy ons liefhet en net die beste vir ons wil hê.

Dit beteken nie dat niks slegs met ons sal gebeur nie; ons leef in ’n onvolmaakte wêreld. Niemand is gevrywaar van pyn en seerkry nie.

Dit hou egter in dat ons nooit alleen deur ’n moeilike tyd sal gaan nie. Daar is Iemand wat altyd by ons sal wees.

Of jy jou oor teëspoed bekommer of nie, dit sal geen verskil maak nie. Die emosionele energie wat jy gebruik om vir elke oplossing ’n potensiële probleem te soek, kan egter baie beter aangewend word.

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus (Filippense 4:6-7).

WOENSDAG

Stres jy aanmekaar oor “wat as?”

Daar was ’n man wat aan almal vertel het hy is besig om ’n boot te bou. Hy het ure agter die toe deure van sy skuur spandeer.

’n Paar jaar nadat hy die projek begin het, kon een van sy vriende dit nie meer hou nie. Hy het ongenooid daar ingestap. Daar was niks.

“Waar is jou boot?” het hy sy vriend gevra.

“Ek beplan dit nog. Voordat ek begin, moet ek elke detail uitwerk. Ek moet seker maak ek doen niks verkeerd nie, want wat as dit nie reg is nie?” het sy vriend geantwoord.

Dis goed om voorbereid te wees, maar ons kan nie altyd die uitkoms beheer nie. Navorsing het bewys dat die meeste bekommernisse nie oor dinge gaan wat regtig verkeerd is nie, maar oor wat moontlik kan verkeerd loop.

Ons wonder: Wat as … mense nie van my hou nie? Wat as … iets verkeerd loop? Wat as … ek nie perfek is of dinge perfek doen nie? Wat as … daar môre nie genoeg geld is nie of my projek faal? Wat as … my tiener met die verkeerde maats deurmekaar raak?

Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God! (Psalm 42:12).

DONDERDAG

Angs en kommer steel uiteindelik jou vreugde

Bekommernis is ’n kenmerk van ons vinnig veranderende wêreld en niemand kan regtig heeltemal daarvan loskom nie. Dit kan egter intens toeneem indien jy nie jou denke konstruktief en met wilskrag beheer nie.

Soms stres ’n mens oor onbenullighede. Klein dingetjies wat jy toelaat om buite verhouding te groei en jou gedagtes heeltemal oor te neem.

Jy laat toe dat dit jou lewe in so ’n mate oorheers dat jy aan niks anders kan dink nie. Jy laat dus toe dat dit jou vreugde en vrede steel!

Dale Carnegie het gesê: “It is worrying about insomnia that does the damage – not the insomnia.” Dit kan ’n mens van toepassing maak op baie kwessies waarmee ons elke dag te doen het.

Hoekom doen ons dit aan onsself?

Dink mooi hoe erg dit waaroor jy wakker lê nou regtig is. Die oomblik wat jy anders oor die situasie begin dink, sal jy sommer verlig voel. Nou kan jy weer jou lewe en mense geniet.

Wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie (Matteus 6:27-29).

VRYDAG

Verander jou gedagtes en raak ontslae van spanning

’n Ma vertel: “Ek raak gou ontsteld as iets fout gaan. So het ek my kinders by hulle pa en sy nuwe vrou gaan haal ná ’n naweek-kuier. Toe ek uitvind dat my seun ’n aangebrande pot moes skuur, was ek onmiddellik ontsteld. Wat as daar nog erger dinge in die toekoms met hulle gebeur? Ek was gespanne, bekommerd en kwaad, maar het nie geweet wat om daaraan te doen nie.”

As jy bekommerd is oor iets en nie weet hoe om te reageer of wat om aan jou situasie te doen nie, moet jy anders oor die situasie dink.

Die enkelma moes haar denke verander. Miskien het die situasie haar seun iets geleer wat sy hom nog nie geleer het nie.

Sy het besef dat sy altyd die opsie het om met hulle pa te praat as sy werklik dink dit is nodig.

Verder het sy besluit om eerder te fokus op wat sy hulle leer en wat sy dink hulle moet leer, as op wat met hulle gebeur. Inteendeel, sy kon dit wat met hulle gebeur gebruik om hulle iets te leer.

Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig (Efesiërs 4:23-24).

SATERDAG

Draai só elke dag bekommernis nek om

’n Mens is geneig om jou meer te bekommer as jy moeg en oorwerk is. Daarom moet jy gereeld rus. Moet egter nie wag tot dit te laat is en jy heeltemal ingee nie. Rus betyds, voordat jy te moeg word.

Leer om te ontspan, al is jy besig. In plaas van jaag; haal diep asem, kyk om jou rond en probeer om elke oomblik en elke ervaring te geniet.

Organiseer en beplan goed voor jy iets sommer net halsoorkop doen. Fokus op dit waarmee jy op die oomblik besig is en moenie alles op een slag probeer doen nie.

Doen dinge in volgorde van belangrikheid en probeer om probleme onmiddellik op te los en dit nie vir later te los nie. Op dié manier word dit dadelik afgehandel en is daar minder tyd om te tob oor wat moontlik kan verkeerd gaan.

Entoesiasme en optimisme is ’n goeie teenvoeter vir moegheid en bekommernis. So ’n ingesteldheid is egter net moontlik as jy uitgerus is en vrede het oor wat in die toekoms lê.

Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees! (Romeine 15:13)

SONDAG

Hanteer ’n krisis en beweeg dan aan

Hou nou op dink en tob en begin doen! Dit beteken nie jy moet alles half doen nie, bloot dat jy jou bes moet gee. Hoe meer dinge reg loop, hoe minder is daar mos om oor bekommerd te wees. En as daar soms ’n mislukking is, maak dit nie so baie saak nie, want jou rekord is goed.

Moenie toelaat dat klein dingetjies jou hele dag verongeluk en jou geluk steel nie. Hoe erg kan dit wees as die hond by die hek uithardloop?

Besef dat dít waaroor jy jou bekommer heel moontlik nie sal gebeur nie. Dan het jy kosbare tyd en energie gemors. Jy steel ’n stuk van jou eie lewe!

Werk saam met die onvermydelike. Indien iets gebeur wat jy nie kan verander nie, aanvaar dit as deel van die realiteit. Hanteer dit en beweeg aan.

Besluit hoe belangrik iets is en hoeveel bekommernis dit verdien. Weier om jou meer daaroor te bekommer as wat dit werd is.

Moenie saagsels saag nie. Dus, moenie oor die verlede tob nie, niks konstruktief kan daarvan kom nie.

Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie (Matteus 6:34).

Vorige artikelStres jy aanmekaar oor “wat as?”
Volgende artikel[VIDEO] Moenie jou aan ongevraagde opinies steur nie