Mense wat dagdroom is kreatief en innoverend

79

As jy van kleins af ’n dagdromer is en dikwels daarvan beskuldig is dat jy sit en niksdoen, ontspan! Dagdromers is kreatiewe mense wat innoverend dink. Hulle is ook kranige probleemoplossers, want soms spruit die oplossing van ’n probleem sommer uit die droom.

Robert Francis Kennedy het gesê: “Daar is diegene wat na dinge kyk en vra: Hoekom? Ek droom oor dinge wat nog nooit was nie en vra: Hoekom nie?”

Maak net seker dat jy jou droom met God bespreek en by Hom hoor presies hoe jy dit moet uitleef. Só kry jy vrede wat dit makliker maak om die uitkoms te laat gaan. Met wysheid kan jy onderskei tussen waar jy die moontlike moet doen en waar jy moet oorgee en vertrou.

In Bruce Wilkinson se boek Die Droomgewer sê hy dat ons drome ’n groter betekenis kan kry as ons dit vir God gee. Die risiko bestaan egter dat Hy dit kan verander en daarom moet ons nie meer geheg wees aan ons droom as aan Sy wil nie.

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou … (Filippense 4:7).

Vorige artikelLiefde, eerder as oordeel, kan mense heelmaak
Volgende artikelHoe om … vrede te maak met jou lyf