Só kry jy meer geestelike stamina

211

As jy iets kan droom, kan jy dit bereik. Al wat nodig is, is om beheer te neem oor jou gedagtes en aksies. Hou op uitstel en kry geestelike stamina om te bly volhard.

MAANDAG

Uithouvermoë is moontlik wanneer jy op jou droom fokus

Charles Spurgeon het gesê: “Met uithouvermoë het die slak ook die ark bereik.”

Deursettingsvermoë is om die prentjie van waar jy wil uitkom, voortdurend te onthou terwyl jy die legkaart bou. Dis die vitamiene wat ’n mens in staat stel om tot die einde toe te volhard. Deursettingsvermoë is nie om jou kop aanhoudend teen dieselfde klip te stamp nie. Maak ’n helder keuse wanneer genoeg genoeg is. Dit is ook nie om aan te hou kyk na ’n toe deur terwyl daar so baie ander oop deure is nie.

Ons lees van baie persone in die Bybel wat volhard het tot die einde. Paulus kon sekerlik by die geringste vervolging al opgehou het, maar hy het nie, hy het volgehou. Daarom dra sy briewe gewig.

En as Seun van God kon Jesus sekerlik sê “dis nou genoeg”, maar Hy het nie. Hy gaan soek by die Vader vir krag as Hy nie meer kan nie.

Die vrug hiervan is dat Hy uit die dood opgewek is, en daarmee die deur van verlossing vir ons almal oopgemaak het.

Toe sê hy vir my: “Hier is die boodskap van die Here aan Serubbabel: Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige” (Sagaria 4:6).

DINSDAG

Moenie skuil agter ’n gebrek aan wilskrag nie

Min mense is áltyd koel en kalm en in beheer van hulleself. Moet jouself dus nie kruisig omdat jy ’n skop onder die stert kort nie. Wilskrag is ’n vaardigheid, en enige iemand kan dit baasraak.

Die spreekwoord lui dat ’n lang reis by die eerste tree begin. Maar party van ons kry nie eens ons tone beweeg in die rigting van ’n tree nie!

Dis menslik om hier en daar wilskrag te kort om die nodige veranderings aan te bring.

Daar kan verskillende redes wees: Jy is dalk nie seker wat moet verander nie, en weet nie hoe om dit te doen nie. Of jy beleef baie spanning en sien nie kans vir verandering nie. Miskien is jou selfbeeld op ’n laagtepunt.

Dit is baie belangrik om te besluit in watter aspek van die lewe jy ’n goeie dosis deursettingsvermoë nodig het.

Dwing jouself dan om tot aksie oor te gaan met ’n duidelike plan. Daar is sekere stappe om wilskrag te kweek. Om hierdie stappe saam te vat, stel ’n plan van aksie op. Skryf alles hierop neer: doel, wat om te doen, moontlike probleme, oplossings, tydsduur en belonings.

Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het (Psalm 121:1-2).

WOENSDAG

Doelwitte help jou om te bly volhard

Wil jy jou lyf, huwelik of geestelike lewe verander maar sien op daarna? Konsentreer dan daarop om gemotiveerd te bly. Maak egter seker dat die mikpunt iets is wat jy graag wíl bereik, anders gaan jy halfpad uitsak.

Kenners reken dit is noodsaaklik om realistiese en haalbare doelwitte te stel. Wees spesifiek en moenie té veel té vinnig aanpak nie.

Hulle beveel aan dat jy ’n tydsaspek of keerdatum aan elke beoogde doelwit koppel. Dit sal help om die motivering hoog te hou.

Dis ook belangrik om jou doelwit te visualiseer. Wees spesifiek en skryf ’n paar idees en planne neer. Sodoende is daar iets tasbaars om na te kyk wanneer die wilskrag laag is.

As jy 10 kg wil verloor, plak ’n foto van die oorgewig jy op die yskas vas. Trek ’n grafiek en teken jou gewigsverlies aan.

Dit is die moeite werd om elke gedagte wat onbewustelik by jou opkom as ’n moontlike oplossing deeglik te ondersoek. Die meeste het potensiaal, anders sou jy nie daaraan gedink het nie. Dalk moet jy net ’n bietjie aan die metode skaaf.

Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos ’n bokser wat nie in die lug slaan nie (1 Korinthiërs 9:26-27).

DONDERDAG

Identifiseer moontlike probleme wat kan keer dat jy deurdruk

Maak voorsiening daarvoor dat dinge kan skeefloop, anders gaan jy totaal gedemotiveer wees as daar skielik ’n probleem opduik.

Dis beter as om jou tyd en energie oor ’n lang tydperk te vermors deur te wroeg oor wat kán skeefloop.

Stel ’n lysie op van die moontlike probleme en skryf langsaan alle moontlike oplossings neer. Besluit ook reeds watter aksie om te neem as die probleem wel opduik.

Hierna is dit makliker om gefokus te bly op jou doelwitte en wanneer dinge skeefloop, weet hoe om dit te hanteer.

Betrek die mense om jou, maar moet hulle nie straf om jou doelwit te bereik nie. As kos ’n verleiding is, moenie vir manlief en die kinders ook op dieet sit nie. En gee liewer jou kredietkaart vir hom om te hou as jy geneig is om maklik geld uit te gee.

Kry mentors en vertel hulle van jou planne. Dan weet almal – die baas by die werk, die familie en ook ander mense wat kan help – wat jy beoog. As jou geestelike mentor weet wat jy wil doen, kan hy of sy dalk raad hê.

Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus (Filippense 3:14).

VRYDAG

Beloon jouself as motivering wanneer jy kan vasbyt

As jy die groot dieet wil aanpak, moet jou man weet dat hy eerder blomme huis toe moet bring as sjokolade.

Beloon sommer jouself ook. Dink aan iets lekkers wat jy kan doen ná daardie onaangename taak afgehandel is. Onthou: geen aksie, geen beloning.

Jou wilskrag gaan vinnig verdwyn as jy dag na dag voortploeter sonder ’n lekker bederf hier en daar. Maak nie saak wat die mikpunt is nie. Dit kan wees om skuld binne ’n kort tyd te delg of om 10 kg te verloor. Dit moet egter steeds ’n aangename tyd wees met ’n lekker vooruitsig.

Bederf jouself op oorspronklike en realistiese maniere. Dis dom om die 2 kg wat jy verloor het met ’n viergang-ete te vier. ’n Cappuccino met laevetmelk en ’n muffin is ’n beter keuse.

En koop gerus ’n bos blomme of ’n nuwe toppie nadat die eerste R1 000 op jou kredietkaart afbetaal is!

Die beloning moet prakties en lekker wees, maar steeds goed vir die uiteindelike doelwit. Al wat nou oorbly, is om by hierdie plan te hou en die resultate daarvan te geniet!

Wie hom laat leer, ken die pad na die lewe; wie teregwysing verwerp, dwaal van dié pad af (Spreuke 10:17).

SATERDAG

Hou op uitstel en kry meer deursettingsvermoë

Ons weet almal dat die spreekwoord, van uitstel kom afstel, waar is. As jy van nature ’n uitsteller is, kan dit moeilik wees om take af te handel. Maar dit kan gedoen word.

Ontwikkel ’n doen-dit-nou-filosofie. Sê dit oor en oor dat iets wat nou gedoen kan word, nie tot môre mag oorstaan nie.

Onthou dat alle suksesvolle mense hierdie filosofie nastreef. Hoe meer jy jouself aan hierdie nuwe manier van dink herinner hoe makliker gaan dit wees om in die gewoonte te kom.

Kry die regte motivering. Daar is waarskynlik iets wat dringend jou aandag vereis en soos ’n swaar rugsak op jou skouers druk. Dink net hoeveel beter dit gaan voel as daardie taak eers afgehandel is. As jy dit klaar gedoen het, is dit uit jou lewe uit en een ding minder om oor te bekommer.

Dink dit beter. Die taak sal soos ’n berg voor jou lê as jy dink dis moeilik. Besluit eerder dis nie so erg nie en bly fokus op hoe lekker dit gaan voel as dit afgehandel is.

Daarom … wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie (1 Korinthiërs 15:58).

SONDAG

Geestelike stamina verseker dat vasbyt ’n leefstyl word

Jy het dalk in die spieël gekyk en besluit jy is moeg om vet te wees. Maerword is jou voorland – dalk nie net 5 kg of so nie, maar baie meer as dit.

Jare later kan jy steeds jou slanke, sprankelende self wees. Die eetplan en oefenprogram kan ’n leefstyl word wat tweede natuur is.

Die aanvanklike motivering was dalk krisisbeheer – die dokter het gesê jy móés eenvoudig gewig verloor word.

Die deurbraak sal kom wanneer jy bewustelik besluite begin neem oor jou lyf.

Om onbewustelik dinge te doen, soos om ’n pak skyfies op te eet en dit amper nie te proe nie, spel selfvernietiging. Verander dus eerder daardie denkpatrone na bewustelike gedagtes.

So lyk ’n deurdrukfilosofie: Vind uit wat jou passie is. Dalk is dit gekoppel aan kos. Kry dan ’n werkbare konsep, soos dat kos heerlik én gesond moet wees.

Probeer om dit wat jy wil bereik, aantreklik aan te bied vir jouself en almal om jou. Besef ook dat dit vir altyd ’n leefstyl sal moet bly.

Elia het voor die hele volk gaan staan en gesê: “Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hóm; maar as dit Baäl is, volg hóm” (1 Konings 18:21).

Vorige artikel[PODSENDING] Kry weer lus vir die lewe!
Volgende artikel[PODSENDING] Maak gesonde keuses en verloor gewig