Wanneer jy… sukkel om jouself te aanvaar

248

Ons wil altyd maerder of ’n mooier wees! Ons kyk meestal ons goeie eienskappe mis en word gepootjie deur ’n ongesonde selfbeeld. Kitsdiëte, onrealistiese verwagtinge en om jouself gedurig te kasty, is nie die antwoord nie.

Watter inligting voer jy jou denke?

Kitsdiëte is aan die orde van die dag. In elke tydskrif lees ’n mens van nuwe metodes om te verslank en al hierdie metodes se sogenaamde deskundiges beloof gewigsverlies met die minste moeite.

As jy hierin glo, laat jy toe dat mense met jou kop smokkel en voer jy jou denke gemorskos!

Die mense wat kitsdiëte uitdink, gee heel waarskynlik nie eens om dat jou gesondheid daaronder ly en jou selfrespek ’n knou kry wanneer die vinnige gewigsverlies sommer weer verdubbel nie.

Goeie dieetkundiges sal vir jou sê die enigste manier om gewig te verloor en dit só te hou, is om ’n gesonde leefwyse te beoefen.

Wanneer jy op dié manier na jou liggaam omsien, doen jy dit op die beste manier moontlik – soos God van jou verwag.

Jou innerlike krag en vrede kry jy by Hom

Met jou veertigste verjaarsdag het jy dalk besef jy gaan nooit weer lyk soos toe jy twintig jaar oud was nie. Die plooitjies om jou oë, ekstra vetjies om jou heupe en dit wat effens begin hang, verklap jou ouderdom.

Maar as jy mooi daaroor nadink, sal jy besef dit is eintlik heel oukei! Noudat jy nie meer twintig is nie, voel jy gemaklik met jou lyf en met wie jy is, want jy weet God het jou oneindig baie lief.

Jy kan wel besluit om op veertig of vyftig of enige ouderdom die beste te lyk en te voel wat vir jou moontlik is.

Maar daar is nie iets soos vinnige gewigsverlies of ’n perfekte lyf nie.

Jy is van onskatbare waarde in God se oë

In Genesis staan daar dat God die mens as sy verteenwoordiger geskep het. Ons is na sy beeld gemaak om oor die aarde te heers.

Dit is ’n fenomenale posisie en verantwoordelikheid. God plaas jou nooit op ’n plek as Hy jou nie behoorlik vir die verantwoordelikheid toerus nie.

Daarom moet jy na jouself omsien en jouself gebalanseerd liefhê. Jesus het in jou plek gesterf, jy is ’n nuwe mens in Hom en daarin lê jou waarde.

Efesiërs 2:4-5 bevestig dit: Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak.

Aanvaar jouself – vir goeie verhoudings

Toe daar vir Jesus gevra is wat die belangrikste opdrag is wat ʼn kind van God moet uitvoer, het Hy met sy gewigtige antwoord geïmpliseer dat ’n mens jouself ook moet liefhê. Sy woorde was: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

As ons nie met onsself oor die weg kan kom nie, sal ons ook nie met ander mense oor die weg kan kom nie.

Selfverwerping en selfhaat is die oorsprong van baie probleme in verhoudings. Dit is juis God se wil dat ons goeie en gesonde verhoudings met mense sal hê.

In Joyce Meyer se woorde: “Ons moet onsself liefhê – nie op ʼn selfsugtige, selfgesentreerde manier nie – dit lei tot ’n lewenstyl van selfbevrediging, maar op ’n gebalanseerde, goddelike manier, ʼn manier wat God se skepping bevestig as essensieel goed en reg”.

Moenie te streng met jouself wees nie

Ons skeefgetrekte verwagting het baie te doen met wat ons in die media sien. Dit is belaglik dat jong meisies wat nie meer as 45 kg weeg nie, rokke adverteer wat vir 35-jariges bedoel is.

Die gemiddelde model is 1,71 m lank en weeg skaars 50 kg. In teenstelling hiermee is die gemiddelde vrou 1,63 m lank en weeg sowat 60 kg. Tog jaag ons die idee van ’n uitgehongerde skoonheid na!

Wanneer jy weer oorweldig word deur onrealistiese verwagtings oor jouself en jou liggaam, herinner jouself daaraan dat Hy jou liefhet net soos jy is, leef en eet gesond soos die Here van jou verwag, stel vir jou realistiese doelwitte wat jou voorkoms betref, en geniet wie jy nou is en hoe jy nou lyk

Vorige artikelProbeer die ‘minder is meer’- oefenbeginsel
Volgende artikel‘Om foute te maak is een van die beste leermeesters’