Hoe kan jy jou omstandighede verander?

1097

Jy is die skepper van jou eie toekoms. Stroop dus alles af wat jou spoed kan breek en leef van vandag af Sy visie vir jou uit.

Wonder jy ook hoe ’n man wat 25 jaar geneem het om God se belofte te ontvang, die vader van gelowiges genoem kan word?

Die tyd kon soveel minder gewees het as Abraham en Sara vroeër besef het wat God se plan was.

Die Here het geantwoord: “Ek gaan nog tydens julle lewe iets doen wat julle nie sal glo as dit vir julle vertel word nie” Habakuk 1:5

Toe hulle dit eindelik aanvaar het, het alles begin gebeur. Hulle moes dit op ’n daaglikse grondslag herhaal: “Ek is Abraham, vader van die nasies.” “Ek is Sara, ma van ’n menigte nasies.”

Hierdie konsekwente belydenis, dag ná dag, het in ’n rekordtyd resultate opgelewer.

Onthou, hulle het nie geneul en gepleit nie, maar hierdie stellings bly herhaal. Al was dit nie altyd lekker om dit te doen nie.

Die gevolg was Isak, wat “lag” beteken. Vandag is ook jou tyd om te lag, jou Isak-tyd.

Jy dink dalk, ja, maar ek doen dit ook. Ek glo vir en verwag nou al baie lank iets positiefs in my lewe, maar niks gebeur nie.

Die vraag is: Hoe doen jy dit? Is dit ’n gekla en geneul, of praat jy uit geloof? Gebruik jy jou eie taal of praat jy God se taal?

Onthou, Hy móét Sy beloftes eer. Kry vir jou woorde uit die Skrif wat verband hou met wat jy nodig het. Haal dit daagliks aan. Maak nie saak wat jou omstandighede is nie, spreek die Woord oor dit wat jy nodig het.

Ons raak soms desperaat en benoud. Maar dan moet ons onthou wie ons Herder is.

Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is Psalm 23:1–2

Maak dit jou slagspreuk in elke situasie van die lewe. Plak dit teen jou yskas of jou spieëlkas, enige moontlike plek in die huis.

In ’n TV-program is die verhaal vertel van ’n jong vrou op soek na haar ma. Haar pa het haar misbruik. Die meisie het later vigs gekry. Sy het geglo sy sal beter voel sodra haar ma weer in haar lewe is.

Dit het wel gebeur, maar die ontmoeting was ’n antiklimaks. Haar ma het meer magteloos as bly gelyk.

Ek wou vir die meisie skree: Jou ma is nie verantwoordelik vir jou sielerus nie, my skat! Kan ek dit dan maar vandag vir jóú ook sê? Die Here is jou Herder, die res maak nie saak nie.

Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek Romeine 7:15

Worstel jy ook soms hiermee? Jy weet jy moet voorbereidings tref, maar jy is sowaar nie lus daarvoor nie.

Ons moet egter een iets onthou: Besluite bepaal die toekoms. Ons kan nie aanhou die verkeerde pad kies of die verkeerde gewoontes vestig, en dan die regte resultate verwag nie.

Jy is nie wat jy voel nie, dit maak nie saak hoe sterk daardie gevoel in jou is nie.

Daardie siening van “ag, ek is nie nou lus nie” hoef jou nie terug te hou nie. Wees vasbeslote om te doen wat gedoen moet word, maak nie saak hoe jy voel nie.

Ons almal beleef dieselfde uitdagings. Dit is ook nie net kinders of jongmense wat hiermee sukkel nie. Kom ons wees eerlik, ons as volwassenes swig ook maar voor al die versoekings.

Besluit vandag om op te maak vir verlore geleenthede en raak daardie negatiewe emosies baas!