Wat die Bybel sê oor … dankbaarheid

245

Om in dankbaarheid te lewe en ons seëninge te tel, is ’n belangrike daaglikse aktiwiteit. Soms raak ons egter so vasgevang in alles wat ons moet doen dat ons vergeet om dankie te sê.

Wees dankbaar vir elke dag deur God geskenk

Lewe elke dag met dankbaarheid. Beskou dit as ’n nuwe dag uit sy hande – ’n geskenk propvol moontlikhede en verrassings net vir jou. Gister is vir goed verby. Loof die Here, want Hy is goed.

Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie (Psalm 118:1)!

Maak hierdie beloftes jou eie: Eerstens, Hy is aan jou kant. Tweedens, jou lewe gaan daaroor om sy verlossingsdade te verkondig. Derdens, Hy is jou Vader.

Vir baie mense lyk dit asof Hy so ver is – totaal onbetrokke by ons as mense. En soms lyk dit of die afstand net groter word. Maar die psalmis se woorde, “U is my God”, is die vertrekpunt om elke dag nuut te leef. Hy word eerste geplaas.

Jesus maak sy Vader se karakter so duidelik vir ons – Hy het die mens se sondes kom vergewe en ons vrygemaak sodat ons weer nuut kan begin.

’n Nuwe lewe in Hom daag ons uit tot ’n ander patroon van lewe – afhanklikheid van Hom, liefde vir sy werk, gelei deur die krag van sy Gees.

Hierdie nuwe pad van vryheid, insig en vreugde is nie vry van pyn nie. As dit pynloos was, sou baie mense lankal dié pad aangedurf het.

Hy bly altyd, selfs in die moeilike tye, getrou

In tye van oorvloed vergeet ons dikwels om dankbaarheid te toon. Swaarkry leer jou dat God altyd getrou bly. Dit leer jou wat dit werklik beteken om vry te raak, vergewe te word en nuut te lewe.

“Nee, my lot is swaarder as julle s’n: die Here het teen my gedraai” (Rut 1:13).

Onthou, elke dag is ’n kosbare geleentheid om tot sy eer te leef. Vandag is ’n nuwe begin, ’n nuwe kans – alles tot sy eer.

In Rut kry ons ’n familiesage waarin die hoofkarakters ’n skoonma en haar skoondogter is. Hulle verhouding is gebou op die genade van hulle Vader.

Naomi was, nadat sy haar man en seuns aan die dood afgestaan het, op pad terug na haar volk, haar kultuur en lewenspatroon.

Sy was oortuig dat die Here teen haar gedraai het. Sy keer terug na ’n bekende plek, juis vir ’n nuwe begin vir haarself, saam met God en ’n nuwe verhouding met ander. Dis mos hoe ons ook soms voel – dat Hy teen ons gedraai het.

Maar Hy is getrou. Ons wonder dikwels: Kan die gebrokenheid van gister vandag se genesing bring? Ons kan net positief antwoord as sy redding ons werklikheid is. Vergifnis kom van God. Dit bring vrede en genesing.

Vertrou, Hy sal voorsien wat jy nodig het

Ons Vader voorsien in ons daaglikse behoefte. Sy voorsiening aan ons is persoonlik. Hy gebruik ook ander hiervoor. Ons besef dat ons van sy magtige hand afhanklik is en is dankbaar vir sy genade.

Ons vertrou op die Here: … op sy heilige Naam vertrou ons. Hou u liefde oor ons, Here, want ons stel ons vertroue in U (Psalm 33:20-22).

Paulus het geleer dat Hy sal voorsien, veral in tye van twyfel en onsekerheid. Hy het geweet sy Vader skenk aan hom oorvloed in sy behoeftes:

Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring. Aan Hom kom die eer toe tot in alle ewigheid! Amen (2 Timoteus 4:18).

’n Man het eenkeer na die see gegaan, en was gefassineer deur hoe die branders aanhou rol – uitstroom en terugtrek, oor en oor.

Hy het op sy knieë in die sand gesit en God gedank vir iets waarvan daar meer as genoeg, eintlik te veel, is. Jesus se krag deur sy Gees voorsien aan ons behoeftes, Hy is altyd by ons.

Ons kan altyd op ons Vader se krag staatmaak. Soos die waterdruppels in die oseaan is sy beloftes en sy genade onmeetbaar en oneindig groot.

Vorige artikelMaak vrede met die dood
Volgende artikelMoenie uithonger of ooreet nie