Wat die Bybel sê oor… Hoop

217

Wat hou die toekoms in? Dit is die vraag op baie se lippe, en sommer ook ’n teken dat hulle nie baie positief voel nie. Die antwoord is eenvoudig: Daar is hoop – vertrou net op Hom!

Hoop is wat ons aan die gang hou

“Soos die môreson sal Hy opgaan en uit die hoogte op ons afstraal … om ons voetstappe te rig op die pad van vrede” (Lukas 1:78-79).

Wat sou die lewe sonder hoop gewees het? Jy sê gereeld: “Ek hoop jy sal gelukkig wees/die werk kry/die eksamen slaag.” Maar ware hoop is in die hemel gevestig.

Daardie woordjie het dalk swaar in die priester Sagaria se gedagtes gelê. Hoop vir ’n beter lewe as die een onder die Romeine. Hoop dat daar vorentoe iets sal kom wat vrede en vryheid sal bring.

Toe sy seun, Johannes, gebore word, weet hy daar is hoop. Hierdie seuntjie sal vir almal gaan vertel dat dit in die Een lê wat ná hom gekom het.

Lank voordat Thomas Edison kon droom van ’n gloeilamp om mense in die donker te laat sien, skakel God die hemelse lig aan. Sodat ’n donker wêreld kan sien.

In die Tweede Wêreldoorlog was daar die sogenaamde blackout-tye. Wanneer vyandige vliegtuie oor ’n dorpie gevlieg het, het sirenes afgegaan. Mense moes dan hulle ligte afskakel sodat die vliegtuie nie kon sien waar om die bomme te gooi nie.

Vandag is daar nie vliegtuie wat jou bombardeer nie. Maar daar is ’n Satan wat dit donker in jou wil maak deur sonde en wanhoop. Gelukkig is daar ook die liefdevolle Vader wat Sy lig oor ons skyn.

Ons het wel ’n vooruitsig, God is by ons

Dieselfde mag en gesag het ek ook van my Vader gekry. Daarby sal Ek vir elkeen wat die oorwinning behaal, die môrester gee (Openbaring 2:28).

Wonder jy ook soms hoekom God so ver voel en dat daar geen vooruitsig is nie? Het Hy homself dalk onttrek aan hierdie wêreld vol haat en ongeloof? Nee. Hy is hier, by ons.

’n Nederlandse verhaal beskryf ’n man wat met ’n lantern in die dorp rondloop. Hy stap van huis tot huis en selfs by die kerk in en uit. Toe mense hom vra wat hy doen, is die antwoord: “Ek soek God, ek kry Hom nie in ons huise of in die kerk nie!”

Miskien voel baie mense vandag nog so, dalk jy ook. Waar is Hy in ons huise, in ons verhoudings, in die politiek, in my eie lewe?

Die goeie nuus is, jy hoef nie met ’n lantern of ’n flits te gaan soek nie. Hy is nie weg nie! Inteendeel, Hy het juis gekom om hier te kom bly. “Emmanuel” beteken mos “God met en by ons”.

Jou omstandighede is dalk vandag moeilik en jy is moedeloos. Glo dat Iemand met jou saamloop en oral saam met jou sal gaan.

Kry moed, Hy ken die pad en loop voor!

Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” (Johannes 14:6).

Jy hoef nie te emigreer omdat jy geen toekoms hier sien nie. Jy hoef nie moed te verloor as dinge skeefloop nie. Jy het ’n Helper en ’n Gids wat altyd daar sal wees.

Hy kan en sal dinge anders maak in jou lewe.

Om jou lewe aan Hom oor te laat, beteken in die oorspronklike taal “rol jou lewenspad, soos ’n tapyt, voor die Here oop”.

Of dit nou is in jou beplanning vir die jaar, in jou verhoudings of by die werk – Hy loop voor. Hy rol die tapyt uit tot binne-in die hemel.

As ’n mens eerlik is, sal jy sê: Ek sal volg … maar asseblief, dan moet dit ’n goeie en mooi pad wees. Geen rebelse kinders, egskeiding, geldkrisis, misdaad of gevaarlike virus nie!

Moet egter nie teen die moeilikheidsgraad van dinge vaskyk nie, maar sien die Een wat daardie omstandighede klaar oorwin het.

Jy hoef nie verwese rond te sit sonder hoop nie. Stap saam met Hom hierdie dag, hierdie oomblik in. In die hande met die spykermerke is jy veilig en versorg – vir altyd.

Vorige artikelDaleen Boshoff: “Ek kry my troos tussen dobbelmasjiene”
Volgende artikel[PODSENDING] Kleiner gereelde etes help met gewigsverlies