Wat die bybel sê oor … liefde

325

Omdat God met elkeen van ons deur sy onvoorwaardelike liefde ’n persoonlike verhouding wil hê, wil Hy ook hê dat jy sy liefde in jou huwelik sal uitstraal en uitleef.

Ondersoek jou manier van liefdesbetoning aan ander

Baie mense sê hulle het mekaar lief. Dis dalk waar, maar hulle leefwyse getuig nie altyd van dié liefde nie.

“Soen my, soen my weer en weer! Jou liefkosings is beter as wyn” (Hooglied 1:2).

Gee jou oor aan die kuns van liefhê. Laat jou liefde kosbaarder wees as goeie wyn.

Sommige mense se liefde is besitlik of verstikkend. Die ander party wil hulle daaruit loswikkel. Dan voel die ander party te na gekom. Ek is dan so lief vir my man!

Die hóé van jou liefde is hier ter sprake. Maak seker dat jou maat jou manier van liefhê kan waardeer en geniet.

’n Mens aanvaar maklik dat almal instinktief weet hoe om liefde te betoon. Ongelukkig bewys die resultate die teendeel.

Keer dat jou liefde ’n onderdrukkende ervaring vir die ander party word. Of ’n verstikkende, besitlike ervaring vir jou maat.

Hy laat Sy son oor alle mense skyn. In sy liefde het ons ruimte om onsself te wees. Moenie liefde in jou lewe as vanselfsprekend aanvaar en dit soos ’n gerieflike ou skoen hanteer nie. Koester en vertroetel dit.

Leef jou waardering teenoor jou maat uit. Dis ’n baie groot geskenk in jou lewe.

’n Suksesvolle huwelik verg liefde en harde werk

As jy toelaat dat hardheid en bitterheid by jou huweliksmaat en ook in jou eie binneste kom nesskop, kan jy maar weet jou huwelik gly afdraand en gaan baie gou in die moeilikheid beland.

Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself (Filippense 2:3).

’n Huwelik het nie ’n eie wil nie. Dit reageer, maar net volgens die twee hoofrolspelers se gesindheid.

As julle ’n besluit neem om getroud te bly en die huwelik te waardeer en te respekteer, kan dit nie anders as om ’n warm nessie te word nie. Daarin kan die kinders rustig en vrylik ontwikkel en hulle eie vlerke vind.

Ons moet die liefde vertroetel en waardeer. Huweliksgeluk is nie iets wat soos ’n warm patat in ’n mens se skoot val nie.

Dis iets waaraan ’n mens elke dag moet werk. Vat dit een dag op ’n slag.

Moet niks uit selfsug of eie eer doen nie. Stel die ander een bo jouself. Dit is die sleutel tot harmonie. Daar is meer as een mens in hierdie bootjie, en daardie persoon moet gerespekteer en na omgesien word.

Doen selfondersoek en leer om jouself lief te hê

As jou verhouding skipbreuk ly, is dit baie moeilik om te verwerk. Dit neem tyd en geduld. As jy jou in so ’n situasie bevind, is dit ’n goeie idee om jouself te herontdek.

“As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:31-32).

Leer jouself ken en laat die waarheid jou vry maak, sodat jy ’n nuwe lewe kan begin. Dit voel dalk nóú vir jou asof jy gesterf het óf jy alleen staan.

Maar moenie jou geluk bou op die toekoms wat iemand anders vir jou bied nie. Word jou eie beste vriend.

Dan, wanneer jy in jouself gelukkig is en met jouself vrede gemaak het, gaan jy agterkom: Wanneer iemand nou in jou lewe stap, is dit soveel makliker om lief te hê en te deel.

God verwag jy moet eers jouself liefhê. Jou liefde vir jouself moet die standaard word vir of jy jou naaste kan liefhê.

En dis moeilik om iemand anders lief te hê as jy nie jouself ken en liefhet nie.

Kyk na jou eie lewe, jou mislukkings en wat jy tot jou situasie bygedra het. Jy kan weer gelukkig wees!

Vorige artikel‘Selfvertroue en dissipline is gelyk aan sukses’
Volgende artikel[PODSENDING] Leer jou kind om geldslim te wees