Wat die bybel sê oor … mislukking

186

Het jy ook al rondgeloop met daardie swaar gevoel dat jy ’n teleurstelling is en niks reg doen nie? Moenie daardie leuen glo nie! Jy het dalk misluk, maar jy ís nie ’n mislukking nie.

Jou foute maak nie van jou ’n mislukking nie

Almal ken mislukkings en almal maak foute. Dit beteken nie jy as mens het gefaal nie. Jy kan baie uit jou foute leer sodat jy nie weer dieselfde doen nie. Jy het steeds potensiaal!

… God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het (Efesiërs 2:10).

Jy kry nie die bevordering waarvoor jy so hard gewerk het nie. Julle skei en jy voel soos ’n misoes. Of jy voel sommer net jou lewe val uitmekaar. En dan wonder jy waarom God jou gemaak het.

Natuurlik maak almal foute. Wie kan nie voorbeelde van mislukkings opnoem nie! Maar daar is ’n reuseverskil tussen: “Ek het drie keer misluk,” en “Ek is ’n mislukking”.

Mislukking is ’n gebeurtenis, nie ’n persoon nie. Jy kan faal in iets wat jy aanpak, maar dit beteken nie jy as mens is ’n mislukking nie.

Sukses word juis dikwels deur mislukking voorafgegaan. Foute is baie goeie leermeesters.

Wanneer Hy na jou kyk, sien Hy nie ’n mens vol tekortkomings raak nie, maar ’n vriend vir wie Hy ’n besondere taak het.

Hy gee jou altyd ’n tweede, derde, vierde kans, of meer. Hy skryf jou nooit af nie. Jy kan weer oor begin. In Sy hand is jy ’n meesterstuk.

Jou verlede tel nie teen jou nie

Moet nooit glo jy word afgeskryf oor jou verlede nie. God nooi elkeen wat teleurgesteld is met haar lewe om te kom vir genesing, herstel en vernuwing. Daarna kan jy met nuwe krag vorentoe gaan.

Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ’n pad … (Jesaja 43:19).

Wie voel trots oor alles in sy of haar verlede? Wanneer jy so oor jou skouer terugkyk en die gemors sien, raak jy effe rooi in die gesig.

Jy sien al die foute, jou slegte voorbeeld, al die verkeerde keuses. Dan voel jy skaam om bakhand vir genade voor jou Vader te staan. Jy het Hom dan al so teleurgestel. Gaan dit nie teen jou tel nie?

Nee, genade is dat God sy goedheid oor ons uitstort terwyl ons niks daarvan verdien nie. Daar is talle voorbeelde van mense met ’n slegte verlede wat met oop arms deur Jesus verwelkom is.

Hy laat nie toe dat ’n slegte verlede die toekoms steel nie. Herinneringe aan misstappe in sy onbekeerde dae gaan hom beslis nie beroof van ’n wonderlike nuwe lewe saam met die Skepper nie.

Moet asseblief nie die leuen glo dat jou verlede jou diskwalifiseer nie!

Hou op verskonings maak en begin verander

Hy kan jou nuut maak. Dit beteken egter nie dat jy op die rusbank sit en wag dat iets verander nie. Jy moet ophou verskonings uitdink en self ook die werk begin doen!

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe (Romeine 12:2).

“Ek kan nie verander nie.” Dis ’n gewilde leuen wat verskeie gedaantes aanneem.

En as jy nou regtig ’n goeie verskoning vir jou gedrag wil gee, sê jy net: “Ek kan nie verander nie, want God het my só gemaak.”

Jy is in ’n buite-egtelike verhouding, maar glo jy kan nie verander nie. Dis mos in jou gene. En so laat hierdie leuen jou voortgaan met dit wat verkeerd is. Op die ou end probeer ons nie breek met slegte gewoontes en sonde nie.

Soms wag jy dat Hy met sy skaafwerk begin. Oor ’n week wonder jy: Wanneer raak ek dan nou ontslae van my humeur? Hoekom gebeur daar niks?

Jy moet van jou kant af ook iets doen. As jy glo jy kan nie verander nie, kom jy nooit tot daardie punt om aan jouself te werk nie. Die plek waar jy moet begin, is in jou kop.

Vorige artikelDít inspireer my! (Lindie Strydom)
Volgende artikelDrankies strem gewigsverlies