Wat die Bybel sê oor… sonde

123
Wat die Bybel sê oor sonde

Baie mense loop rond met ’n klomp bagasie uit die verlede. Dinge wat hulle terughou en steeds baie pyn veroorsaak. Niemand is sonder sonde nie. Neem dit na Hom toe en word vry!

God oordeel oor sonde, maar wil jou help

Die mense het die vrou na Jesus gebring met wrede motiewe. Maar die storie draai anders uit, vir haar en vir ons elkeen. God sê: “Wie oordeel jou? Sekerlik nie Ek nie, Ek help jou.”

“[H]et nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie? … Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie” (Johannes 8:10-11).

Jesus vra ’n vrou wat owerspel gepleeg het hierdie vraag: Vrou, waar is jou beskuldigers? Het niemand jou veroordeel nie?

Wie van ons sal deur die lewe kan gaan en ongeskonde anderkant uitkom as ons só ondersoek moet word? Elkeen van ons het al êrens iemand teleurgestel of skeefgetrap.
Nie een van ons kan bekostig om klippe te gooi nie.

Só is hierdie vrou se skande uitgevind. Maar Jesus stel haar gerus: Ek is nie een van jou beskuldigers nie. Ek veroordeel jou nie.

Soms loop ons met jare se selfverwyt en skuld. Niemand weet meer van jou as die Skepper nie, en dit is wat hierdie storie so mooi maak. Die Een wat die meeste van die vrou weet, sê: “Ek veroordeel jou nie.” Weet jy, as jou skuld en geheime eers by Hom uitgekom het, is dit op die beste plek.

Vra vergifnis en gaan maak dit reg

Ons almal loop met ’n verlede. Iets moet afgehandel en vergifnis gevra word. Daar is natuurlik dinge waaraan ons niks kan doen nie, wat ons net kan laat gaan. Maar sekere goed moet jy regstel.

Jakob het geantwoord: “Ek sal jou net los as jy my seën.” Toe vra die man: “Wat is jou naam?” en hy antwoord: “Jakob” (Genesis 32:27).

By ’n vorige geleentheid het iemand vir Jakob dieselfde vraag gevra. Dit was sy pa, oud en byna blind, gereed om ’n laaste seën oor sy oudste seun uit te spreek. Jakob bedrieg sy pa, want hy wil die seën hê. Hy sê sy naam is Esau.

Soms moet ons iets regstel. Op ’n tyd gaan Hy ook vir jou vra: Sê nou weer vir My, wat het jy gesê is jou naam?

Hierdie vraag leer ons om te wees wie ons regtig is. Om dinge nie weg te steek of voor te gee nie. God sal ons altyd weer wil help om die dinge te verwerk wat gister gebeur het.
Die verhaal eindig waar Jakob erken: “My naam is eintlik Jakob.” En dan, verrassend, kom die antwoord: “Maar nou van nou af het jy ’n ander naam – Israel. Nou word jy wie Ek wil hê jy moet wees.”

Wat is jou naam? Wat moet jy hanteer? Wat is onafgehandel?

God bly lief vir jou, ongeag wat gebeur het

Daar is soms verhoudings wat jy moet prysgee. Jy het dalk vergewe en daar is geen bitterheid oor nie. Maar die verhouding sal nooit weer dieselfde kan wees nie. Gelukkig bly Hy lief vir jou.

Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? … Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk (Hosea 11:8).

Jy voel jy het Hom al soveel keer teleurgestel. Miskien is jy nou maar net een van daardie mense met wie Hy nie meer ’n pad sal loop nie.

Hierdie vraag is deel van Hosea se storie. God sê vir hom: Neem ’n prostituut as vrou.
Voel hoe dit voel as sy met ander mans verhoudings aanknoop, neem haar dan weer terug. Dan sal jy miskien iets verstaan van hoe Ek oor mense voel.

Dit geld ook ten opsigte van jou mislukkings of enige ander krisis in die lewe. Hy vra hierdie vraag: Hoe kan jy dink dat Ek jou sal los, sal prysgee? Hy loop ’n verder pad, tot die einde. Geen skande of krisis is groot genoeg dat Hy soos ons word en ’n verhouding laat vaar nie.

Vorige artikelResep vir ’n gelukkige gesin
Volgende artikel’n Realistiese mylpaal vir gesonde gewigsverlies