[BYBELTEMA] Moenie met jou lewe sloer nie

314

Baie mense weet waar hulle vandaan kom. Hulle weet min of meer waarheen hulle op pad is. Maar hulle weet nie wat nóú nie. Ons staan te lank by intussen stil. Vind jouself en lewe!

Jou lewe in die groter prentjie

Jou gees in wisselwerking met dit waarin jy glo, bring jou in harmonie met ’n groter prentjie – die rede vir jou bestaan. Jy is geskep met unieke vermoë. Vind jou plek, jy is daar nodig.

Die woord identiteit kom van die Latynse woord idem wat “dieselfde” beteken. Om identiteit te hê beteken jy weet jy is dieselfde mens as gister. Jy hoop om môre ook te kan sê jy is wie jy vandag is.

Jyself en die mense wat jou ken, sal jou herken aan jou kenmerkende eienskappe en gedrag. Dis amper voorspelbaar. Dis kontinuïteit. Dit beteken nie jy kan die verskoning gebruik en sê jy is so gemaak en so laat staan nie.

Jy is voortdurend besig om aanpassings te maak. Jy neem besluite op grond van jou omgewing wat verander of nuwe inligting tot jou beskikking. Jy groei om jou skeppingsdoel te bereik.

Wat ons kan doen of nie, word bepaal deur die oortuigings van wie ons is. Jou waarneming van jou identiteit bepaal wat jy moontlik of onmoontlik ag. Hoewel jou vermoëns dieselfde bly, word die gebruik daarvan bepaal deur die identiteit wat jy vir jouself kies.

As jy jouself byvoorbeeld as ’n wenner sien, gaan jy daardie spesifieke vermoëns betrek. As jy jouself as papbroekig sien, kom ander vermoëns weer ter sprake. Of die siening wat jy van jouself het akkuraat is of nie, jy tree altyd in ooreenstemming daarmee op.

Jy word die etikette wat jy vir jouself gee. Hoe jy jouself definieer, bepaal jou lewe. Maak seker dat die etiket wat jy jouself gee, jou nie beperk nie, maar versterk. Jy wórd waarmee jy jou identifiseer. Jou ware identiteit is groter as enigiets wat beskryfbaar is.

Aanvaar jouself en wees uniek jy

Ons het ’n keuse oor ons identiteit. Ons het ’n keuse oor wat ons met ons lewe wil maak. Die geheim is om agter te kom wanneer jou ware self na vore kom. Wees dit.

As jou self-identiteit of “ek” gevorm is, kan jy jou drome, sienings, waardes en ook vrese met ander deel. Jy sal nie bang voel dat hulle met jou sal spot nie. As jy wel bang is ander gaan jou oor iets van jouself spot, het jy nog nie die unieke jy genoeg aanvaar nie.

Self-identiteit is waarskynlik die sterkste gevorm wanneer jy in staat is om oor jouself en jou flaters te lag. Of te spot. Elke fase van jou leeftyd bou voort op jou verstaan van jou unieke self.

As jy leef volgens wie jy werklik is, voel jy gemaklik en tuis van binne, al ervaar jy soms teenstand van buite. Hoe weet jy om ja te sê vir die ware jy? Die geheim is om te probeer agterkom wanneer daardie ware self na vore kom.

Een van die maniere waarop ’n mens weet die unieke jy is aan die werk, is as jy skielik hope energie ontdek. Dit gebeur by sekere mense wat aspekte van die ware jy respekteer, in sekere situasies of as jy met sekere opdragte besig is.

As jy eers bewus word van jou ware self, soek die geleenthede wat die normale uiting van daardie jy sal bevorder. Wanneer dit vir jou voel die tyd vlieg verby en jy is entoesiasties oor die lewe, mag jou ware self aktief teenwoordig wees.

Doen alles in jou vermoë om ja te sê vir wie jy regtig is. Dis ’n groot tree in die rigting van betekenisvolle geluk.

Ontdek die doel van jou lewe

Deel van jou identiteit is die pad wat jy moet loop. Bepaalde dinge word oor ons lewe gestuur met ’n groter doel voor oë. Jy is waar jy nou is, omdat daar ’n doel is.

Besluiteloosheid is die rede hoekom baie mense sukkel om met die lewe aan te gaan. ’n Swak besluit is altyd beter as geen besluit nie. Jy kan weer aanpassings maak.

Mense neem nie doeltreffende besluite nie, want hulle teken nie vir hulleself ’n duidelike prentjie van wie hulle wil wees en wat hulle wil beleef en bereik nie. As daar nie helderheid is nie, is daar niks om na uit te sien en op te fokus nie.

Skeduleer gereeld vir jouself tyd om te dink. Waaroor? Oor wie jy is. Oor die toekoms. Oor die doelwitte wat nodig is vir so ’n toekoms. Oor die rolle wat jy moet vervul om daardie toekoms te beleef.

Doen die moeite om hierdie toekoms wat jy visualiseer, op papier uit te spel. Moenie ly aan die sindroom dat dit eers perfek moet wees voordat jy dit kan beleef nie.

’n Doelwit is ’n manier om te meet of jy op koers is en dit bring helderheid oor waarheen jy op pad is. Doelwitte hoef nie net gestel te word volgens jou besigheid of loopbaan nie. Stel dit ook as ’n manier om jou identiteit te help vorm en groei.

Jy kan byvoorbeeld kyk na die vrug van die Gees in Galasiërs 5:22 (liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing) en oor elkeen van daardie aspekte navorsing doen.

Deel van jou identiteit is die pad wat jy moet loop. Glo jy is waar jy nou is omdat daar ’n doel met jou lewe is.

Droom groot oor jou lewe

Om ’n droom te bewaarheid, vereis ’n identiteit wat daarby pas. Daarom moet jy jou nuwe identiteit inoefen sodat jou lewe nie net een van oorlewing is nie, maar een waarin jy oorborrel van selfvertroue.

Mense kan hulleself oneindig ongelukkig hou deur telkemale op hulle mislukkings te fokus. Hulle kan nie die pynlike vernedering vergeet nie en bly daarheen terugkeer. As jy dit aanhoudend doen, word dit deel van jou identiteit.

Dit word ingegraveer soos ’n permanente tatoeëermerk en jy kan dit nie weer afkry nie. Die ergste is dat dit in jou binneste gebeur – en dit laat ’n nog dieper merk. Dis die merk van jou identiteit.

Maar daar is raad oor hoe om ’n nuwe identiteit te kweek wat by ’n nuwe toekoms pas. Dit werk só. Gaan soek ’n tydskrif vol prente. Begin net rustig daardeur blaai sonder om op ’n spesifieke artikel te fokus.

Raak bewus van watter prente jou meer as ander aanraak. Skeur hulle uit sonder om nou te vra hoekom dit so is. As jy klaar deur die tydskrif geblaai het, rangskik al die prente voor jou op die tafel of vloer.

Nou begin jy vra: Waaraan herinner die prent my? Tot watter behoefte van my spreek dit? Hoe raak dit my? As jy daarmee klaar is, neem ’n bladsy papier en voltooi die volgende: “Ek droom ek is …” Moenie ophou skryf totdat jy die onderkant van die bladsy bereik het nie. Moenie krities wees nie. Laat waai net. As jy meer te sê het as wat op een bladsy papier pas, gebruik meer bladsye. Dis jou drome wat jy neerskryf. Leef jouself elke dag in jou verbeelding in die nuwe jy in. Dróóm dit elke dag.

Vorige artikelBybelvrou – RAGAB [Karien Basson]
Volgende artikel[VIDEO] Hoe om die “WIL” terug in julle huWILik te sit