[BYBELTEMA] Vind geluk in gesonde verhoudings

294

Ons bestee baie tyd daaraan om betekenisvolle verhoudings te vorm. Dit is egter nie so ingewikkeld nie en begin by blote teenwoordigheid. Luister, dien en goedhartigheid maak van jou ’n beter vriend, eggenoot, kollega en familielid.

Toewyding begin by deur net daar te wees

Die kern van ’n gesonde verhouding is om te weet jy het iemand wat regtig daar is vir jou. Soms wil ons te veel daaroor dink, te veel doen. Begin deur bloot net daar te wees.

As ons vandag se gonswoord in verband met verhoudings mag gebruik, was Jesus die uiterste voorbeeld van commitment. Hy was volkome aan ons en aan Sy taak toegewy. Van die eerste tot die laaste oomblik wat Hy hier by ons was, en ook daarna, tot vandag toe.

Dit moet ons nie verbaas dat verhoudings dieselfde toewyding van ons vra nie. Geen verhouding, of dit ’n hegte vriendskap of ’n huwelik is, kan tog slaag as die een persoon eindeloos meer toegewyd as die ander is nie. Dan kan jy weet, dit gaan net tot hartseer en rampspoed lei!

Twee mense in ’n verhouding moet ten minste vergelykbaar aan mekaar toegewyd wees. Daarom is dit seker vanselfsprekend dat as ons ons tot ’n verhouding verbind, ons nie ongeërg voort kan gaan met ons lewe asof niks gebeur het nie!

Tog is daar baie mense wat meen hulle kan soveel tyd en energie aan die ander persoon afstaan as waarvoor hulle lus is. Dan het hulle die voordeel van die omgee en sorg wat ’n verhouding bring, maar hulle kan steeds lewe soos hulle wil en die dinge doen waarvoor hulle lus is.

Jesus het ’n beeld daarvoor gehad. Hy het gesê dis soos ’n boer wat aanhoudend oor sy eie skouer kyk terwyl hy ploeg – ’n kitsresep vir skewe ploegvore!

Ewe min kan jy jou lewe vir iemand gee en ’n nuwe lewe saam met daardie persoon leef, en dan steeds hunker na wat agter lê. Wees ín die verhouding.

Vorige artikel[VIDEO] God se liefde neem ons op reistogte
Volgende artikelWaar daar hoop is, is daar volharding