Dit sál beter word met tyd …

49

Die mooiste getuienis op aarde is om op te staan ná verlies, seerkry en swaarkry. Om aan te gaan, selfs al bly dinge om jou donker. En om ’n spesiale oog vir God se skoonheid te ontwikkel!

Natuurlik kan niemand verlies, swaarkry en seerkry ontsnap nie.

Maar dit gaan nie oor die nare dinge wat lyding aan ons kan doen nie. Dit gaan oor die invloed wat ons op lyding kan uitoefen.

En hoe ons – met ons geloof – kan opstaan teen lyding en die deur daarop kan toemaak.

CHRISTINA LANDMAN is ’n teoloog wat in haar akademiese en praktiese bedieningswerk op heling fokus. Sy het ’n passie vir almal wat verlies ly, en uit seerkry en swaarkry moet opstaan Christina Landman is ook die samesteller van die TROOSUITDAGING Dit sál beter word met tyd … om sterker anderkant uit te kom ná verlies, seerkry en swaarkry!

1. Besluit om uit jou pyn uit op te staan

’n Persoon wat in lyding gedompel is, moet in ’n stadium van slagoffer na oorlewende beweeg. Uiteindelik moet sy ’n oorwinnaar word. Victim, survivor, victor.

Dis die pad wat ons moet stap sodat swaarkry ons nie oorweldig nie en nie ons baas word nie. Al is ons hóé verontreg en seergemaak.

Party mense kies lyding en vir die lewe om as ’n tragedie uit te speel. Ons moenie so versot raak op die tragedie wat ons getref het dat ons ’n liefdesverhouding daarmee aanknoop nie.

Slaan ’n ander rigting in. Maak jou swaarkry ’n les vir die toekoms, nie iets wat jou in die verlede vasgevang hou nie.

2. Hou op skaam wees oor jou verliese

Kyk die skaamte in die oë, erken dat hy ’n rukkie by jou kom woon het, maar kondig ook dan aan dat julle paaie geskei het. Leer die harde les. Maar tel nou jou kop op.

Soveel verhale in die Bybel vertel van mense wat geval het en weer opgestaan het.

Wat goed genoeg is vir hulle, is goed genoeg vir ons.

Daar is altyd ’n pad wat na genesing lei, ook selfgenesing. Jy kan altyd ’n keuse maak om uit jou foute en verliese te leer. Om die nuwe pad te stap met God as jou metgesel.

3. Planne vir gesond word wat jy dadelik kan uitvoer

Jy moet weer die hoop in jou ontdek, dat jy jou met die toekoms kan verbind. “Hoop” en “genees” is werkwoorde. Jy moet hoop doen, en genesing ook.

Hoe? Eet gesond en doen oefeninge soos stap in die buitelug. Kry elke dag son op jou vel – sommer terwyl jy stap. Maak jou ondersteuningsgroepe groter. Dit beteken om jou oop te stel dat ander mense jou kan help en liefhê.

Berading kan ’n verdere stap op pad na genesing wees. Kies ’n berader wat jou bystaan om gesonder te word, nie sieker nie.

4. Word en wees ’n voorbeeld van hoop en genade

Die vrou in die gelykenis wat haar verlore muntstuk soek, het ’n verlies gely. Sy het vir haarself ’n doelwit gestel oor wat haar gesond sal maak – om die muntstuk te soek.

Toe het sy nie opgehou voordat sy dit gekry het nie.

Ons moet ’n aanvoeling vir mekaar se seerkry ontwikkel. Ons moet uitreik waar ons swaarkry sien.

Ons moet saamstaan teen alles wat mense seermaak. Sodat daar weer lig in ons almal se huise kan kom.

Vorige artikelWanneer jy … OP VERKEERDE DINGE FOKUS
Volgende artikelDie sleutel tot ’n sterk karakter is respek