Om God se stem te hoor

47

Dit maak nie saak waar jy op jou geestelike pad is nie, God sal met jou praat op ’n manier wat jy sal verstaan. Priscilla Shirer openbaar ’n hele nuwe verstaan van God se Woord. Leer ken die stem wat deur ’n brandende bos en ’n wolk gepraat het.

Ek gaan in my uitkyktoring staan, my plek inneem op my wagpos in die muur. Ek wag om te sien wat die Here vir my gaan sê, wat sy antwoord op my klagte sal wees (Habakuk 2:1).

Habakuk se ingesteldheid is dié van iemand wat groot verwagtings koester van die werk wat God in die toekoms sal doen. Die Hebreeuse woorde vir “staan” en “wagpos” is militêre terme.

Hierdie man se liggaamshouding is dié van ’n soldaat. Sy voete is onbeweeglik. Sy voorneme is vas. Hy hou wag, en verwag ten volle dat God sal antwoord.

En hy is vasbeslote om te wag totdat God antwoord.

Habakuk se gebruik van hierdie terminologie herinner my aan die wagte buite Buckingham-paleis in Londen. Toe ons dié paleis besoek het, was ons seuns bekoor deur hierdie mans wat geweier het om te beweeg, maak nie saak wat rondom hulle gebeur nie.

So dikwels trek toeriste vir hulle gesigte of doen allerhande dinge om hulle aandag af te trek, maar hierdie wagte knip nie ’n oog nie en trek nie ’n spier nie. Hulle weet wat die opdrag is wat hulle ontvang het en hulle sal nie toelaat dat hulle aandag van hulle taak weggelei word nie.

Selfs met die wanorde van die werklikheid wat rondom Habakuk gewoed het, het God vir hom soveel vertroue gegee in wie Hy was en wat Hy kon doen dat Habakuk homself in ’n posisie van verwagting kon plaas.

As ons soveel waarde heg aan God se stem soos Habakuk, en as ons net so seker is soos hy dat God sál praat en dat ons die vermoë sál hê om Hom te hoor, sal ons vasbeslote wees om te “staan” en geduldig op ons “wagpos” te bly. Ons sal bereid wees om te wag. Onthou altyd, daar is ’n direkte verband tussen ons verwagting om van God te hoor en ons bereidheid om te wag.

Dit is vir my moeilik om te wag om van God te hoor. Ek kan my indink dat dit vir jou ook moeilik is. Maar ek het hierdie waarheid ontdek: Die proses om te wag om ’n boodskap van God te ontvang, is dikwels net so belangrik soos die boodskap self.

Terwyl ek wag, groei my geloof. Die wagtyd berei my voor om die boodskap te ontvang wat na my toe sal kom en om in gehoorsaamheid daarop te reageer. In sommige gevalle is die intimiteit wat ek met my Vader ontwikkel terwyl ek wag juis die boodskap.

Dit is belangrik om te wag. Meer as ’n paar mense het al getrou, na ’n ander stad getrek, ’n groot skuif in hulle loopbaan gemaak of ’n finansiële besluit geneem voordat hulle Habakuk se voorbeeld gevolg en geduldig begin wag het om van God te hoor, en dan moes hulle later ontdek dat hulle in ’n baie beter situasie sou gewees het as hulle liewer gewag het.

As jy dan ’n behoefte het, staan en wag op jou pos.

Met volkome vertroue op die Here, staan en wag, begeer om van Hom en die klank van Sy stem te hoor, meer as enigiets anders.

Hy sal kom. Verwag Hom.

OM GOD SE STEM TE HOOR
deur Priscilla Shirer (CUM-Uitgewers)
is aanlyn beskikbaar