Wat jy kán doen ná ’n krisis

70

Gesindheid is een van die dinge wat jy kan beheer. Jy kan kies om ’n “slagoffer” of ’n “oorwinnaar” te wees. Slagoffers fokus op die dinge wat met hulle gebeur en voel magteloos. Mense wat graag wil oorleef, fokus op hulle reaksie op dit wat gebeur. En maak dan planne

Tydens teenspoed het jy steeds beheer oor jou keuses

Jy het keuses as iets slegs gebeur. Jy kan toelaat dat dit jou óf definieer, óf vernietig, óf sterker maak.

Probleme tref alle mense op alle vlakke van die lewe. Baie voel verpletter, deels omdat hulle die verkeerde vrae vra. Hulle vra: “Waarom ek?” in plaas van: “Wat nou?”

Jy moet leer om bemagtigende vrae in krisistye te vra. Vra vrae soos: “Wat moet ek doen om te oorleef?” As jy vra: “Waarom ek?” wanneer jy gewond is, gaan jy jou doodbloei. As jy vra: “Wat nou?” sal jy na ’n plek van veiligheid en heling kruip.

Probeer altyd eers om voorbereid te wees vir enige gebeurlikheid (risikobestuur), maar as al jou planne misluk, vra dan: “Hoe kan ek oorleef?” Ontgin die kragtige menslike wapen wat jy in jou het, naamlik om sin uit selfs ongelooflik sinlose situasies te skep.

Jy moet uit die rol van ’n slagoffer kan klim tot in die rol van ’n oorwinnaar. Jy sal vrees goed ken, maar jy sal nogtans jou geloof kan behou. Omstandighede sal jou beïnvloed, maar dit sal jou nooit bepaal nie.

Moenie bang wees om te misluk nie

Jou foute sê nie wie jy is nie, maar hoe jy ’n situasie hanteer, verklap baie van jou. Jy kan die beste gesindheid hê, maar as jy niks doen nie, help dit ook niks.

Die meeste van die tyd fokus jy so op die krisis, dat jy nooit besef daar kan ook iets goeds van kom nie. Wanneer jy in ’n probleemsituasie is, fokus op die geleentheid en nie op die bedreiging nie. Die eerste aksie wat jy moet neem is om te herfokus.

Baie dinge wat met jou gebeur, voel so sinloos, soos die dood van ’n geliefde. Tog, jy kan betekenis kry deur die situasie om te keer in ’n persoonlike groeikans.

Vloei eerder saam met en benut die probleemsituasies – moenie dit weerstaan nie. Jy moet dus herbedink. Jou lewe kry sin, nie deur dinge beter te verstaan nie, maar deur dinge anders te doen.

Kom weer aan die gang, maar begin reg. Moenie wag vir beter dae of meer hulpbronne of tot alles perfek is nie. Dit gaan nie gebeur nie! Maak dus ’n herbegin in jou lewe.

Jy is nooit alleen wanneer jy swaarkry nie

Dink aan ’n paar gevalle waar jy positiewe groei in jou lewe ervaar het as gevolg van vorige lewensrampe. Vra jouself af: As groei dan uit struikelblokke spruit, waarom bied ek soveel weerstand teen moeilike tye?

Jy moet probeer om eerder aan ’n krisis te dink as ’n struikelblok tot ’n boublok, en ’n trapklip tot ’n doel. Soos Winston Churchill gesê het: “As jy deur hel gaan, gaan net aan.”

Ek wonder baie maal hoe ’n seuntjie, wat die enigste oorlewende was in ’n vliegongeluk in Noord-Afrika,  die lewe gaan hanteer. As hy God ontdek as die Pappa wat hom nooit sal verlaat nie, dan sal hy dit oorleef – al is dit met baie trane. Meer nog as hy ontdek dat niemand teen hom kan wees as God vir hom is nie.

Dalk sal hierdie seuntjie, en ons almal wat trauma ervaar het, dinge beter begin verstaan as ons Johannes 17 lees, waar Jesus so mooi vra dat die Vader Sy kinders moet bewaar. Dan sal ons besef dat ons nie alleen is in ons oomblikke van intense nood nie.

Vorige artikelOntwerp ’n droomkaart met spertye en doelwitte
Volgende artikelQuanita Adams: Wat ek geleer het …