Hoe om … minder besig te wees

71

Om besig te wees is nie sonde nie. Groei en verandering is deel van menswees. Maar KARIEN BASSON glo dit is belangrik om verantwoording te doen en om uit te vind of jy werklik tydbestuur in jou geloofsverhouding toepas.

Tyd het ’n wonderlike manier om vir ’n mens te wys wat werklik van waarde is. God wil eerste in ons lewe, besluite en denke geplaas word.

Jou tyd saam met Hom is kosbaar. Wanneer jy die gesprekke en geleenthede saam met Hom nie meer mis nie, moet jy jou hart ondersoek.

Tyd is die een ding wat almal wil hê, maar die een ding wat almal verkeerd gebruik en soms misbruik. In ’n besige leefstyl moet jou daaglikse stiltetyd in iets prakties verander.

Hierin is Jesus jou voorbeeld. Hy het te alle tye die stem van Sy Vader gaan soek: in die stilte van ’n woestyn, alleen in ’n tuin, op ’n bergtop … Maar ook tussen Sy dissipels, voor belangrike besluite, op die kruis, voor ’n maaltyd en tussen ’n skare.

Hy het enige tyd van die dag met Sy Vader gepraat: vroeg in die oggend, laat in die aand, deur die dag terwyl Hy wonderwerke gedoen het, toe Hy gedoop is, toe Hy gesterf het en voordat Hy opgevaar het hemel toe.

Dit is nie onmoontlik om in jou program ruimte vir jou geloofslewe te skep nie. Dis nie ’n onregverdige opdrag aan jou as feilbare mens nie. Die Een in wie se spore die dissipels geloop het, weet presies hoe dit voel om te min tyd vir alles en almal te hê.

Jy moet die harde vrae vra en die ooglopende veranderinge maak om stil-word, luister, lees, leer en bid deel van jou elke dag se program te maak. Druk skedules en die oorverdowende geraas van die wêreld om ons kan ons aandag aftrek van ons saamwees met die belangrikste Persoon in ons verskillende verhoudings.

Leer om te praat in gebed asof jy met jou beste vriend of vriendin gesels. Soos iemand wat jy al jare lank ken en mee gemaklik is. ’n Familielid vir wie jy lief is. Of die een op wie jy verlief is. Gee jou belangrikste kommoditeit, naamlik tyd, vir Hom.

Hierdie is nie net dade wat uit skuldgevoel ontstaan of om straf te vermy nie. Dit word ’n intieme hartsbesluit wat uitloop op groot en klein dinge wat jy anders doen. Draai die radio in jou motor af, raak stil in die stort, begin fokus terwyl jy huis skoonmaak of skottelgoed was …

Dis juis in die stilte van jou binnekamer, voordat jy aan die slaap raak, maar ook in jou drome, dat jy hemelse ontmoetings het.

Klein insidente en groot mensgemaakte strukture, persone en geleenthede praat met jou geloofshart. Jy kan selfs in rolprente, musiek, woorde, diere en die natuur iets hoor of sien wat jou help om te glo.

Party mense weet presies wanneer hulle Goddelike openbarings ontvangs. Hulle vind bevestiging van Sy woord en leiding in alledaagse dinge. Terwyl ander weer gefrustreerd soek en niks vind nie.

Dink aan geloof soos om Wi-Fi te gebruik. Jy kan dit nie sien nie, maar dit verbind jou met die hemel. Soms moet jy dit wat jy om jou sien, vertrou. Ander kere moet jy op jou hart vertrou, want die hart kyk anders na dit wat die oog nie kan sien nie.

Voordat jy jou oë toemaak om te slaap, maak tyd. Sê iets positief oor jouself, jou lewe, die mense vir wie jy omgee, jou land en die mense wat jy as vyande sien. Daardie woorde van vergifnis en positiwiteit ontsluit ’n skatkamer van geheime vir jou.

’n Stille gebed gevul met dankbaarheid en vergifnis maak jou gees vry om te ontvang wat jy moet hoor.

Vorige artikelHOE OM … anders te dink oor geld en rykdom
Volgende artikelHoekom is liefde moeilik en haat maklik?