HOE OM… te sê “vergewe my”

113

Om jammer te sê kom nie natuurlik of maklik nie, sê DWAIN VAN RENSBURG. ’n Opregte “vergewe my” is egter nodig om weer ’n verhouding te herstel.

Dis nie altyd maklik om te erken jy was verkeerd nie. Ook nie om jammer te sê vir wat jy gedoen het nie. ’n Opregte verskoning is egter die manier om weer aan jou verhouding te begin bou nadat jy verbrou het.

Die eerste stap is om jou fout te erken en te noem. Die ander persoon moet weet dat jy verstaan wat jy verkeerd gedoen en hoe jy haar seergemaak het. Wees opreg, sonder om die woordjie “maar” te gebruik.

Vra nou die ander persoon om jou te vergewe. Dit plaas die bal aan haar kant. Gee meer tyd, indien sy nog nie reg is nie.

Sê ook hoe jy beplan om dinge van nou af anders te doen – en voer dit deur!

Om die een of ander rede sukkel ons om jammer te sê. Ons is trots en hoogmoedig.

Baie mense is onder die indruk dat die woord “jammer” hulle sleg gaan laat lyk. Maar dit is so ver van die waarheid af.

Wanneer jy onverwags vir iemand jammer sê, maak dit haar hart meer ontvanklik as die mooiste kompliment. Maak daarom ’n punt daarvan om dadelik te sê: “Vergewe my!”

’n Onverwagse jammer blus dadelik ’n vuur wat dreig om handuit te ruk. Jy sal verbaas wees hoe lekker jy gaan slaap en hoe lekker jy daarna opstaan. En as ’n mens elke dag lekker uitgerus opstaan, sien jy kans vir soveel meer.

Die lewe is moeilik en onregverdig. Dit skuld niemand iets nie. Al doen ek ál die regte goed reg, loop dinge steeds soms skeef. Ander maak my seer. Ek maak ander seer.

Dit wat ek wil hê, is soms eensydig, selfgesentreerd en selfsugtig. Ek kry dan wat ek verdien. Sonde, teleurstelling, seer … ’n Gebreekte ek, ’n gebreekte verhouding.

Begin eerder vandag ’n ingesteldheid van, “Here, hoe moet ek nou maak?” Word stil. Luister. Verander jou hart en jou denke soos geskryf staan in Galasiërs 2:20.

Kyk om jou. Hoe klop God se hart vir vergifnis vra en vergifnis uitdeel? Nie een van ons verdien genade nie, maar ons kry dit by Hom. Ek verdien nie ’n goeie lewe nie, maar God sien toe dat dit goed gaan. Ek verdien niks nie, maar Hy gee.

Want dit is wat Hy doen. En as ek doen wat Hy doen, kry ek wat ek verdien!

Ons leef in ’n wêreld waar min mense mekaar iets gun. Jou foute word altyd opgehaal en jou tekortkominge voorgehou.

God se waarheid is in definitiewe teenstelling met hierdie wêreld as dit by vergifnis kom. Hy vergewe ons vir al ons oortredinge. Maar Hy verwag van ons om ook dieselfde vir ander te doen.

Een van die mooiste dele daarvan is dat dit sowel die oortreder as die een teen wie oortree is, vrymaak. Dit is “dubbele” seën”.

Vergifnis red ons uit die kloue van bitterheid, woede en verwyt. Dit geld vir ons verhoudings met ons maat, kinders, familie en ander mense.

Baie keer kan ’n eenvoudige “vergewe my” ’n situasie ontlont wat tot baie skade kon lei.

Kom ons leef op só ’n manier dat vergifnis vra en vergifnis gee ons eerste keuse sal wees. Laat ons goedgesindheid soos reën uit die hemel wees wat nuwe lewe bring.

Vorige artikel’n Vriendin om jou te help motiveer
Volgende artikelRedes waarom jy altyd moeg voel