HOE OM … tevrede te wees met minder

92

’n Huis met minder dinge en ’n program met minder pligte, help jou om op dinge met ewigheidswaarde te fokus. Eenvoud bring regtig meer geloofsvreugde! ZANTIE SWANEPOEL wys hoe jy met minder kan klaarkom én tevrede kan wees.

Jaag jy ook die beste, grootste, nuutste en blinkste van alles na? Dit raak ’n eindelose reis. Waar jy bly, wat jy kry en wat jy ry, is belangriker as ooit!

Dit neem ons fokus weg van wat regtig belangrik is. As ons eerlik is, smag almal na ’n rustiger en eenvoudiger leefstyl.

Alles in ons lewe neem ruimte op. Of dit nou in ons kop, die werklike omgewing om ons, en/of kalenderruimte is. Onthou, ons het net soveel ruimte in ons lewe.

Alles wat jy besit, alles wat jy doen en almal saam met wie jy tyd deurbring, kos jou iets. ’n Oorvloed dinge om jou kos jou baie.

Jou omgewing beïnvloed hoe jy voel en hoe jy dink: jou liggaamsprosesse en jou innerlike lewe. Raak van al die clutter ontslae, die opgehoopte dinge. Maak ruimte in jou kop en die omgewing om jou.

Stel op jou kalender tyd beskikbaar vir net “wees”. Maak plek om ligter en vryer te voel. Fokus op die dinge wat ewigheidswaarde het. Jy weet wat in jou lewe kernbelangrik is.

Só sal jy minder besit en minder dinge hê wat jou besig hou. Só bestee jy al minder tyd aan die dinge waarvan jy eintlik niks hou nie. Wanneer jy dit kan doen, vind jy hoe die lewe ál eenvoudiger raak.

Detail hijack ons lewe. Eenvoud is werklik die vreugde van die lewe!

’n Ryk pa neem sy seun na ’n arm gemeenskap om hom te leer om sy weelde te waardeer. Maar hierna is die seun hartseer …

“Ons het een hond, hulle het vier. Ons het ’n swembad, hulle het ’n rivier. Ons het lanternlampe, hulle het die sterre.

Ons koop ons kos, hulle kweek hulle eie. Ons het mure wat ons beskerm, hulle het vriende wat dit doen. Ons het ensiklopedieë, hulle het die Bybel.”

Dink mooi na oor die geskenk van eenvoud … Moenie wag tot jy ouer is om hierdie wysheid te ontdek nie: oorvloed, oordadigheid, gemak en gerief in die uiterste vorms bring nie die bevrediging waarop jy hoop nie.

Om dinge minder te maak is soms soveel moeiliker as om dit bymekaar te maak. Om tyd doeltreffend te bestee blyk heelwat moeiliker as om dit te mors. Om verhoudings te bou is swaarder as om dit af te skeep, of selfs te vernietig.

Wees eerder “treffend” deur op te hou fokus op meer en beter. Skep ruimte vir dinge wat die geloofsliefde in jouself en jou verhoudings laat groei.

Hoe ouer ons word, hoe meer besef ons die waarde van tyd. Ons het die dryfkrag om af te skaal. Dit hoef nie noodwendig hoogs ingewikkeld te wees nie. En begin nóú!

Leer hoe om stiller en meer gebalanseerd te leef. Dit gaan daaroor om klein treë te neem, maar in die regte rigting. Beplan meer en vereenvoudig jou verhoudings. Leer om jou tyd te neem om dinge te doen.

Wees skerper ingestel. Begin die klein wonderwerke om jou raaksien en waardeer. Soos Koos du Plessis sê: “Eenvoud is … gee en neem net wat daar is, dis dankbaar eet, van elke skewe snytjie brood wat liefde is.”

Vorige artikelVerandering is onafwendbaar deel van die lewe
Volgende artikel[VIDEO] Ware deernis begin by jouself