Hoe om… Voluit en vreesloos te leef

778
vreesloos te leef

Sonika KrugerOns is geskep om uitmuntend te wees, sê SONIKA KRUGER. Daarom wil elke vrou graag heel en mooi wees. Jy kan dit regkry, deur jou waarde te ken en groter oor jou lewe te dink.

Dit was van die begin af so bedoel dat ons ’n heel lewe moes leef. Voluit vrou.

Dit maak nie saak wat mense sê of doen nie

Uitnemend. Briljant. Pragtig. Dis die wens van my vrouehart om so te sprankel. Dan kan ek met passie en doelgerigtheid leef en die mooi dinge in myself en ander raaksien.

’n Heel vrou besef dat die verlede haar gebring het tot hier en moontlik ’n invloed gehad het op haar omstandighede nou. Maar sy besef ook dat die verlede afgesluit kan word en die hede en die toekoms geleef moet word.

’n Heel vrou weet wat haar waarde is en kan daarom die beste keuses vir haarself en haar geliefdes maak. Sy ken haar waarheid en laat haar nie om die bos lei deur wat ander dink of sê nie.

Ons kyk maklik na ander vroue en sien net hulle talente en skoonheid raak, sonder om te weet wat hulle uitdagings is. En hoe meer ons hulle lewe en wie hulle is begeer, hoe minder sien ons die seëninge in ons eie lewe raak.

Deur die leuens van die wêreld te glo, hang ek ’n etiket om my nek. Dit terwyl daar eintlik net een waarheid is om te glo: Ek is dit werd! Daarom mag ek my vrouwees eer en vier deur elke dag 100% alles te gee.

Groei deur doelbewus op daardie gebied te saai

Daar is ’n gesegde wat sê: Saai daar waar jy wil groei. As jy wil groei in heelheid en skoonheid, moet jy in daardie area saai. Eerstens moet ek gaan dink aan die area van my lewe waarin ek dalk besig is om ’n halwe lewe te leef.

Om gelukkig te wees kom nie van mense of dinge nie. Geluk kom van binne, en net ek kan daardie gevoel in my skep.

Daar is eenvoudige maniere om dit te doen. Deur gesond te eet. Organiese, voedsame vrugte en groente. Kos wat hoog is in voedingstowwe sal my liggaam, siel en gees voed.

Dehidrasie veroorsaak moedeloosheid en geïrriteerdheid. Drink meer water en groen tee, want dit help om die liggaam skoon te spoel en die selle te hidreer.

Moenie skuldig voel om jouself te bederf nie. Skep ’n selfsorgroetine wat jou gelukkig maak en spesiaal laat voel. Dit kan iets wees soos ’n spa-dag, oefening, om te bid en in jou joernaal te skryf, of enigiets wat jou laat herlaai.

Wees elke dag dankbaar vir kosbare mense en geleenthede in jou lewe. Dit waarop jy fokus, sal uiteindelik meer word.

Dis jou plig om groot te droom

’n Kind dink of droom nie oor ’n halwe lewe nie. Hulle droom oor grootheid, briljantheid en uitnemendheid.

Hulle droom oor die moontlikhede en kyk nie vas teen die realiteite nie.

As mooi, heel vrou mag ek leef met ’n verwagting en opgewonden-heid van goeie dinge wat kan gebeur.

Dit vra van my om daardie kleinkindjiedrome deel te maak van elke dag se bestaan. Om ’n slag buite my gemaksone te leef.

Om van grootheid te droom beteken om my gedagtes oop te maak vir nuwe geleenthede wat opduik.

Wanneer jy doelbewus uitnemend begin leef, sal jy meer bewus word van alles wat goed is in jou lewe.

As jy wonder wie jy nou eintlik is om mooi en briljant te wees, hier is ’n teenvraag: Wie is jy om dit nié te wees nie? Om klein te speel hou geen voordeel in vir jou óf die wêreld nie. Jy is geskep om te skyn!

Kliek op Voelgoed.co.za/video-hoe-om-voluit-en-vreesloos-te-leef om na Sonika Kruger se geestelike selfhelp video te kyk.