Hoe om … vrede te maak met jou lyf

92

Vrouwees is ’n wonderlike avontuur. Maar een ding waarmee die meeste van ons sukkel, is om gelukkig in ons lywe te wees, sê GERRIDENE BERG. Dit gaan nie oor jou maag nie, maar oor jou hart.

Navorsing wys dat meisies al van sesjarige ouderdom af vatbaar is vir dieetsiektes. En dít bloot op grond van wat mense om hulle sê en doen!

’n Lae selfbeeld kom nie uit die bloute nie. Ons kry gewoonlik ’n boodskap dat ons nie goed genoeg is net soos ons is nie.

Dit kan wees deur kritiese ouers, slegte ondervindings op skool of deur byvoorbeeld molestering.

Wanneer ons groot is, kan ons vriendekring en die media ’n wesenlike invloed hê. Selfs onskuldige aanmerkings kan ons vir jare lank verwond.

Ek was daardie meisie wat drie of vier keer ’n week op die skaal sou klim. Wat voedsel[1]etikette sou lees, skuldig sou voel ná elke bord kos en obsessief sou oefen.

Ek is deur verskeie eetplanne, ’n magdom natuurlike plantpildiëte en maaltydvervangers. Ek het suiker en styselprodukte uitgesny. Selfs inspuitings gebruik.

Hierdie patroon was vir lank sigbaar in my lewe tot ek een oggend tot die besef gekom het: God wou nie hê dat ek my swak punte teen ander se sterk punte moet meet nie.

Ek moes lief raak vir myself.

Die pad na gesond word, begin stap. Ek moes van die ewige voedingkundige-fiksheidsafrigter-en-entrepreneur-trapmeul na perfeksie afklim.

Hy het my geleer dat ek eerste gees is en dan vlees. Dit gaan dus in die eerste plek oor wie ek in Hom is.

Ons is geestelike wesens met menslike ervarings, nie menslike wesens wat ’n geestelike ervaring moet verdien nie. Niks gaan op die langtermyn uitwerk as jy nie jou manier van dink na ’n geestelike, ewige uitkyk verander nie.

Die Woord sê ons is gemaak na Sy beeld en daarom is ons goed genoeg, mooi genoeg en waardig genoeg.

Maar jy moet die Here uitnooi om die waarheid saam met jou te ontdek. Jy kan dit nie alleen doen nie.

Die verandering moet net soveel fokus op die innerlike geestelike verdieping as op die uiterlike verandering van voorkoms. Stel dus wie-doelwitte en nie net doen-doelwitte nie.

Natuurlik is dit belangrik om te weet jy wil ná ’n sekere tyd 10 kg of 15 kg ligter wees. Of van ’n nommer 12-jeans na ’n kleiner nommer gaan.

Maar jou groter fokus moet eerder lê in wíé jy wil wees nadat die doel bereik is.

Ek sien my nuwe leefstyl as ’n vorm van aanbidding, veral in tye van versoeking. Die kos waarna ek smag, is sterker in die oomblikke van swakheid as my goeie voornemens om gesond te wees.

Verveeldheid, eensaamheid, vrees, frustrasie, onsekerheid en hartseer moenie die rede wees waarom jy eet of nie eet nie.

Wanneer dit gebeur, is dit uiters belangrik om binnetoe te draai en met Hom daaroor te gesels.

Vorige artikelMense wat dagdroom is kreatief en innoverend
Volgende artikelQuanita Adams: “Party ervarings verander jou vir altyd”