Alles loop reg … al voel alles verkeerd

48

Wanneer dinge reg verloop, dink ’n mens nie daaroor na nie. Wanneer alles verkeerd loop, is dit ál waaraan jy dink en jy voel soos ’n mislukking. Moenie wat jy reeds reg doen, miskyk nie.

Die lewe is en sal altyd vol uitdagings en terugslae wees. Daarom moet ons leer om na mislukkings te kyk as bloot die leerskool vir sukses. Om lig raak te sien, moet ’n mens donkerte ken. Om die warmte te geniet, moet ’n mens weet hoe koue voel.

Swaar tye is werklik noodsaaklik vir sukses. As ’n mens opstaan nadat jy geval het, kry jy ervaring. Sukses gebou op die fondasie van ervaring het werklik ’n soeter smaak!

Weet jy waarna jy op soek is in jou lewe? Gaan jou lewe oor hoe “gemaklik” dinge vir jou is, of is die rykdom van die lewe dalk eerder verskuil in die uitdagings en hoe ons hulle oorkom?

Al hoe jy kan misluk, is as jy opgee. Die wet van die natuur is: “Die sterkste sal bly leef.” Die uitdaging is om voluit te leef! Ware oorwinning is nie ’n resultaat nie, maar om te volhard in geloof.

Mislukking, is wel ’n keuse – om op te gee, in te gee en ’n slagoffer te word. Wanneer jy glo jy is ’n slagoffer, is sukses nie deel van jou denkwyse nie. Dan is geloof in wie God jou geskep het om te wees, amper onmoontlik.

Dikwels weet ons nie wat kampioene moes deurstaan nie. Om vas te byt, te fokus op wat jy reg doen te midde van teenspoed, verg waagmoed.

Die verhale van mense wat opgestaan het ná terugslae is die inspirasie vir nuwe generasies. Iemand wat glo sy het te min, sal altyd ’n verskoning hê waarom sy nie slaag nie. Sy sal redes aanvoer hoekom God seën van haar weerhou.

Opstaan uit moeilikheid is om ’n karakter van waagmoed en trots te hê en weer te probeer. Dink maar aan Paulus en sy tyd in die stinkende, donker tronk en tydens sy huisarres. Hy hou aan om ander gelowiges moed in te praat en fokus op hoe die Evangelie verder en verder versprei.

As jy nog nie oorwinning op ’n bepaalde gebied gesmaak het nie, beteken dit dalk jy moet nog meer ervaring opdoen. Jou tyd sal kom as jy aanhou en nooit opgee nie.

Is jy iemand wat net die verkeerde raaksien? Dan is jy ’n “moeilike” mens. Wil jy nie eerder geken word as “maklike” mens wat nie ’n probleem met alles het nie?

In plaas daarvan om skeidsregter te speel vir ander, is dit baie beter om self in die arena te klim. Ervaar sukses én mislukking en inspireer dan ander mense – en veral jou gesin – daardeur.

Perfek bestaan nie. As ons nie onsself en ons kinders die vryheid gee om te misluk nie, beroof ons hulle van alle waagmoed om risiko’s te neem en ervaringe te bou.

Ry elke golf wat oor jou pad kom, met ’n glimlag – al is dit nie perfek nie. Hoe meer golwe jy ry, hoe beter word jy! In plaas daarvan om te wag vir die perfekte golf, ry elke golf totdat jy elke golf amper perfek kan ry. Jy sal die krag hiervoor ontvang.

Vorige artikelHou op tob en maak vrede met jou situasie
Volgende artikelDít inspireer my! (Desiré Gardner)