’n Ma maak foute, vergewe jouself!

58

Alle mense maak soms ’n fout. Een sonde is nie die einde van die wêreld nie. Selfs wanneer jy as ouer misluk, kan jy jouself vergewe, glo CHARNÉ CRONJÉ. Leer en gaan wyser om met jou ma–wees.

Om kinders groot te maak, is nooit maklik nie. Dit mag dalk een van die uitdagendste en mees frustrerende dinge wees wat jy tot nog toe sal aanpak. Veral omdat dit ’n voortdurende leerproses is.

Wanneer jy jou baba die eerste keer vashou, besef ’n mens nie altyd dadelik die verantwoordelikheid wat saam met ouerskap kom nie.

Ouers wil net die beste vir hulle bloedjies hê en moet baie besluite op ’n daaglikse basis neem. Besluite wat ’n groot impak op die gesin het en hulle vir die toekoms vorm.

Hierdie keuses kan moeilik wees en word gewoonlik deeglik oordink. Juis omdat ons so bang is om verkeerde keuses te maak.

Natuurlik wil ons glad nie foute maak nie. Ons wil graag alles reg doen, al die regte dinge sê wat ons kinders sal opbou en nie afbreek nie. Daar word soveel druk op ons geplaas – deur onsself en ander – om die perfekte ouer te wees.

Ongelukkig, neem ouers per geleentheid verkeerde besluite. Dit is soms onvermydelik en vind dikwels op die ingewing van die oomblik plaas. Veral in ’n uitdagende krisis of ná ’n slegte dag.

Dit kan jou kind se selfvertroue verminder, tot ’n minderwaardigheidsgevoel lei en vertroue tussen julle verbreek.

Hoe moeilik is dit vir jou om te erken dat jy misluk het? Hoe belangrik is dit vir jou dat almal met jou eerlik oor hulle sondes moet wees?

Jou optrede nadat jy ’n slegte besluit geneem het, wys jou kind hoe ’n sekere situasie hanteer moet word. Uiteindelik gaan dit nie oor die fout nie, maar oor hoe ons te werk gaan om dit reg te stel.

Fokus eerder op wat jy daaruit leer en om enige skade te herstel wat dit dalk veroorsaak het. Om foute te maak, help volwassenes en jongmense om hulle besluitnemingsvaardighede te verbeter en bied opvoedkundige leergeleenthede.

Jy word dopgehou deur klein ogies, nageboots in wat jy doen, juis omdat hulle ’n replika van hulle pa en ma wil wees. Ouers is kinders se nommereenskakel na die wêreld. Probeer altyd ’n voorbeeld stel en modelleer die positiewe gedrag en houding wat jy in hulle wil sien.

Daar is nie ’n beter ouer vir jou kind as jy nie. Daarom: Vergewe jouself vir foute wat gemaak is en hoe jy dit hanteer het. Begin dan dadelik om positiewe veranderinge te maak in hoe jy situasies vorentoe gaan aanpak.

Dink ’n gebeurtenis deur voordat jy reageer. Identifiseer waar dinge gewoonlik skeefloop. Só kan jy verander om ’n beter weergawe van jouself te wees.

Niemand weet presies hoe om alles te hanteer wat op hulle pad kom in die ouerskap-avontuur nie, maar die beste ouers is altyd op soek na maniere om te verbeter. Dit is ons verantwoordelikheid om nuwe lewensvaardighede aan te leer en hiermee ons kinders vir die grootmenswêreld voor te berei.

Hoewel ouerskap een van die moeilikste “beroepe” is, bly dit die bevredigendste werk wat jy sal aanpak. Jy dra daardie kroon met trots. Indien dit afval of skeef lê, skuif jy hom reg en begin weer.

Vorige artikelLeer om … jou kind speel–speel slim te maak
Volgende artikelVerloor natuurlik gewig