Negatiewe gedagtes, negatiewe lewe

73

Jy is negatief, voel nie goed genoeg nie en verwag altyd die slegste. Tog wil jy meer positief en gefokus op die Lig lewe. Meditasie maak ’n groot verskil aan jou negatiewe gedagtes, sê SUNA ROBERTS

Dis onmoontlik om jou gedagtes te laat verdwyn. Hoe meer jy hulle probeer onderdruk, hoe meer kom hulle na die oppervlak.

Meditasie is ’n oefening wat jou bewustheid en aandag oefen. Dit help om jou negatiewe reaksies en gevoelens in die bek te ruk.

Selfs 10 minute se meditasie kan help om jou minder angstig en depressief te laat voel. Dit kan help om daardie negatiewe emosies te herken en te aanvaar.

Dit klink dalk oppervlakkig, maar dit strek soveel dieper. Daar is dus ’n sterk verband tussen bedag wees en mediteer.

Anders as wat party mense dink, kom meditasie nie van Boeddhisme af nie. Dit kom uit die Woord wat lank voor Boeddha reeds daar was. In Psalm 1:1-3 en Josua 1:8 word gelowiges aangemoedig om die Woord dag en nag te oordink.

Volgens die wêreld is meditasie wanneer jy gaan sit en jou denke leegmaak en van al die dinge in jou verstand ontslae raak. Dit doel is om jou liggaam te help ontspan. Vertaal uit Hebreeus, beteken die woord basies uplifting of beholding.

Gelowiges glo ’n mens gaan sit nie net en maak jou verstand leeg nie. Jy vul jouself met die Vader. Jy is in gesprek met Hom. Dit moet die bron wees waaruit jy leef, dink en beweeg. Dit moet deel van jou wees.

Baiekeer doen ’n mens net jou werk sonder om regtig daaroor te dink. Jy vra nie vir God wat Hy wil hê jy in vandag moet sien en waarop jy moet fokus nie. Dit kan jou kinders, jou werk of ’n daaglikse roetine wees.

Hoeveel keer staan ons nie in die kerk en sing, hande omhoog, maar hoor nie werklik die woorde nie. Dan is jy nie in daardie oomblik nie. En só mis ons wat Hy vir ons wil sê.

Filippense 4:8 verduidelik waarop gelowiges hulle gedagtes moet rig. Bedag is om doelbewus die Woord en God se karakter te leer ken. Om ’n verhouding met Hom te hê.

Hoe meer ons soos Jesus dink, hoe beter gaan ons weet hoe om elke dag se situasies te hanteer.

Tyd in die Woord en tyd saam met Hom maak dit soveel makliker om deur die dag te kom. Dan kom alles uit liefde en uit hoe Hy dit sou doen.

Ons begin heeltemal anders dink en optree. ’n Mens sal die wêreld totaal anders sien as jy só leef. En die wêreld sal jou ook anders beleef!

Omdat die mensdom so selfsugtig is, is ’n wêreldse meditasie baie op die mens gefokus. Om jouself reg te kry.

Bybelse meditasie is gefokus op Sy waarhede, sodat ek die wêreld beter kan liefhê en mense kan dien soos wat Hy sou doen. Sodat ek Jesus kan wees vir die mense om my.

Vorige artikel[PODSENDING] Wys jou natuurlike skoonheid
Volgende artikelStres jy aanmekaar oor “wat as?”