Die verlore seun vannie gaatjie

117

Ivor Swartz kom van die gaatjie in grabouw. Sy pa is vroeg dood. Hulle oudste broer, hulle selfaangestelde “oppasser”, terroriseer die gesin. Een aand neem Ivor ’n vreeslike besluit wat sy lewe ingrypend verander.

Ek is gebore en getoë op Grabouw in die WesKaap. Nie die prentjiemooi Elgin-gedeelte nie, maar die stowwerige rooigrondstrate van die Gaatjie – die noemnaam van die gebied waar ek grootgeword het.

Dit staan steeds as die Gaatjie bekend. Die Gaatjie met die baie rondloperhonde en die min teenwoordige pa’s. Die meeste se pa’s het “gaan brood koop”. Woorde wat jy gereeld as ’n grap op straat sal hoor.

Dis my mense se manier om te sê sekere pa’s maak net kinders en vat dan die pad. Ander sal sê hy’t gaan seep of piesangs koop. Dis nogal snaaks om te sien hoe die mans gestuur word om die bare minimum te gaan koop, en sommer besluit om nooit weer terug te kom nie.

Dis nie asof hulle die wêreld moet gaan oorwin nie. Gaan koop net seep, of piesangs, of brood – dis al. En nie eens dit kan hulle reg doen nie. Ek het later ook een van hulle geword – maar nie een gebly nie.

Grabouw staan eintlik bekend as die appelkoninkryk van Suid-Afrika. Ek is nie seker of ek dié titel self opgemaak het of wat nie.

Hoe ook al dit sy, as jy nie op ’n plaas bly of werk nie, sien jy ook maar net soveel appels soos die gemiddelde vakansieganger wat by Peregrine-padstal stop op pad na hulle huisies by die see.

Kyk, jy moet weet, as die strate van jou grootwordjare “die Gaatjie” genoem word, klink dit reeds of daar min hoop vir jou is, asof die lewe en die toekoms klaar besluit het jy word gediskwalifiseer in die reis na geluk.

Die naam klink sommer so of jy nie maklik daar gaan uitkom nie. Dit sou makliker wees vir ’n ryk man om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n laaitie om die Gaatjie te verlaat.

Jy’s gemaak en laat staan. Jy vat wat jy kry, en jy kla nie daaroor nie, en vra nie te veel vrae nie.

Daar was seker baie kinders van my tyd wat bo hulle Gaatjieomstandighede uitgestyg het. Ek kan nie veel van hulle onthou nie.

Ek het wel met groot verwondering opgekyk na elke kind van die Gaatjie wat ek persoonlik geken het, wat dit gemaak het om te kan gaan studeer, wat die siklus kon breek en hulle stories kon verander.

Hulle was heroes vir my: Chantal, Trish, Bianca, en nog ’n paar ander. Doodgewone mense van omtrent my ouderdom, na wie ek opgekyk het. Wat my laat glo het ’n Gaatjie-kind het tog ’n plek, ’n stem in die wêreld.

Ek het vasgehou aan hulle stories vir my eie storie se oorlewing. Dit het gevoel of daar tog ’n moontlikheid is om uit die gemaak-en-laat-staan weg te breek.

Daar was nie veel om aan vas te hou nie – nie in my huis nie en nie op die straat nie. Dit breek ook my hart as ek terugkyk na hoeveel potensiaal daar in die Gaatjie was wat verlore gegaan het, wat steeds verlore gaan.

Jonk en oud, met drome en ideale, wat die leuen glo dat daar nie hoop, werk of redding vir hulle is nie. Dit vul my wel met die grootste klomp hoop dat al was ek een van laasgenoemdes, ek meer as twee hande vol genade-kanse gegee is om die storie te herskryf.

Dit beteken daar is hoop vir vele ander wat ook in hulle Gaatjieomstandighede vasgevang sit en die begeerte het om hulle stories te herskryf.

Dit het soms gevoel of Jesus self ook maar die Gaatjie ’n paar keer verbygesteek het. As dit nie was vir die tentpredikers wat Sondagaande opelugdienste gehou het nie, sou Jesus seker nooit daar ingeloer het nie. En het hulle nou met vuur gepreek oor Jesus se ongelukkigheid met die mense!

Een aand, terwyl die pastoor so preek, sit ’n dronk man sy meisie agterna met ’n tuingraaf in die hand. As selfs die tentdienste so rof kon raak, hoe kon ons Jesus kwalik neem as Hy verby die Gaatjie loop?

Hy is mos ’n ou wat parking spots by die mall gee, of wat ’n wakende oog hou oor die voordeure in die suburbs.

Tussen dié twee wêrelde is daar maar min tyd om by die huise in die Gaatjie uit te kom, of om te lank in die tentdienste te sit. Wanneer moet ’n ou dan rus, jy weet!

Daar was mooier huise in die onderdorp, en skoner kerkmense in Pineview-Noord. Die Gaatjie was soos ’n Nasaret van ouds – min mense sou glo dat enigiets goeds uit die Gaatjie kon kom.

In Bosstraat 197, Pineview, is ek gemaak en laat staan, en oorgelaat aan ’n lot wat enige duiwel ’n run vir sy money sou gee. Jy’t ’n PhD plus 15 jaar se ondervinding in survival nodig om by hom kers op te steek. Dis ’n huis wat se fondasie nie die gewig van al sy stories kon dra nie.

Ons het in die middelste huis van drie gebly – ’n skakelhuiseenheid reg langs die bruin hoërskool, Groenberg Sekondêr. Net die skool se vibracrete-muur het ons van mekaar geskei. Dis waar ek hardop gedroom het, en saggies gehuil het, en bang was vir God. Dis waar ek gewys is hoe liefde nié moet lyk nie.

Dis waar ek gehoor het God tug dié wat Hy liefhet, en waar ek een aand op die agterstoep gesit en huil het terwyl die reuk van vars dagga in die lug hang, en ek vir God gevra het om ons nie meer lief te hê nie, want sy tug los merke.

Ek is die tweede jongste van ses kinders.

Ek en Peter was baie laatlammertjies, soos ’n mens sou sê. Almal ken vir Peter as Pikes, of “Korrupt” – vanweë die tatoe in sy nek.

Ons almal het vir Deon “Boet” geroep. Ek wil glo dis omdat ons respek vir hom gehad het, of omdat hy ’n rolmodel vir ons was. Maar dit sou ’n leuen wees. Hy was die monster aan my tafel, die nagmerrie wat ek gesukkel het om af te skud, wat ek by tye steeds sukkel om af te skud. Ek het so lank doelbewus geweier om sy naam te gebruik as ek van hom praat. Hy was altyd maar net “die monster van die blou huis”.

My pa se naam was Pieter, en hy is dood toe ek drie jaar oud was. Ek het nie een enkele herinnering van hom nie. Ek hoor hy was lank, maer en baie donker van kleur.

Blykbaar het almal hom geken as Pieter-Bingo, om redes wat tot vandag toe nog onbekend by my spook. Ou Pieter-Bingo het, soos baie ander mans in die vrugteseisoen, op die appelplase gewerk en oor naweke huis toe gegaan.

Dit was ’n Dinsdagnag in die koue winter van 1987 toe PieterBingo en een van sy medeplaaswerkers ’n vuur gemaak het (in ’n ghellieblik, soos ons dit noem) in die kamer waar hulle sou slaap.

Ek het later gehoor dat hulle my pa op die vloer onder die venster gevind het, daar waar hy probeer het om die venster oop te maak om lug in die vertrek te probeer inkry.

Wat ek nie sou gee om ou Pieter-Bingo daai nag te kon aancheer nie, om net daai ekstra bietjie nodige energie en wilskrag bymekaar te skraap om die venster oop te kry sodat hy kon huis toe kom en ons van sy avontuur kon vertel.

Ons sou elke jaar daaroor lag, want hy sou dieselfde storie oor en oor vertel – soos die families in die flieks.

Maar ’n paar meter was die maak-of-breek-verskil tussen ’n moontlike gesonde toekoms en ’n lewenslange soektog na identiteit, na behoort, na die man-wees wat nét ’n pa kan bevestig.

En breek het geseëvier. So naby, en tog so ver!

Daai paar meter se mis het my jare se verkeerde keuses laat maak. Maar dalk sou ek die verkeerde keuses gemaak het, ongeag of Bingo lewend daar uitgekom het of nie.

Die enigste oorblywende stukkie herinnering wat ek nog van Pieter-Bingo het, is ’n ou foto waar hy en vriende iewers in ’n boskoppie sit – al laggend en vintage, soos net die goeie ou dae kon lyk.

Dis eintlik ’n foto van ’n foto, en omdat Pieter-Bingo so donker van kleur was, kan jy amper nie meer sy gesig sien nie.

Daar is net ’n swart kol waar sy gesig is, en ietwat van ’n tevrede glimlag. Selfs op ’n foto is hy vir my net ’n donker skaduwee – alles van hom.

In die foto is Pieter-Bingo besig om ’n daggapyp aan te steek vir die vriend wat langs hom sit.

Dié foto sal loshande die eerste prys wen in die “bring die coolste foto van jou pa skool toe”-kompetisie.

Ek grap ook baiekeer in my praatjies deur te sê ek hou dié foto van my pa om vir mense te wys dat ek nie die daggalewe gekies het nie; dit het mý gekies. Soos jy op die foto kan sien.

Dis mos net baie makliker om die oorsprong van jou pyn en swart hart aan iets of iemand anders op te dra. Want dan hoef jy nie enige verantwoordelikheid vir jou lewe, jou keuses, jou toekoms en jou potensiaal te aanvaar nie.

DIE VERLORE SEUN VANNIE GAATJIE deur Ivor Swartz (Lux Verbi) is aanlyn beskikbaar.

Aanlyn te koop op R216 R240