Reynardt Hugo:“Hier is my storie van hoop – opreg rou en eerlik”

100

Reynardt Hugo, beter bekend as Dr. Tertius Jonker in Binnelanders en eens lid van die popgroep Adam, se lewe is ’n getuienis hoe god ’n storie van verwoesting in ’n storie van hoop kan verander.

Dit het alles met ’n angsaanval begin. ’n Baie ernstige angsaanval.

Ek het die vorige aand saam met vriende in Pretoria gekuier. Ek was dronk. Baie dronk.

Ek kan die begin van die aand onthou, maar die res van die aand het uit my geheue vervaag.

Ek weet ons het tot in die vroeë oggendure gekuier en ek het uiteindelik op my vriend se bank uitge-pass.

Ek moes vroeg die volgende oggend opstaan, want ek het my jongste stiefbroer belowe ek sal sy eerste atletiekbyeenkoms by die hoërskool bywoon.

Ek het met my ma gereël dat ek haar by die hoërskool sou kry.

Ek was bang my ma sou sien ek is steeds dronk, en ek het dit vir haar probeer wegsteek. Maar ’n ma ken haar kind.

Ek het my broer se atletiekitem klaar gekyk en vir my ma gesê ek moet ongelukkig dadelik in die pad val.

Skaars tien minute van die skool af het ek ’n snaakse gevoel begin kry. Dit het gevoel of die wêreld op my gaan val. My lyf het begin bewe en my hart het te vinnig geklop.

Ek het nie geweet wat aangaan nie. Ek het dié gevoel glad nie geken nie.

Skielik het ek onthou van ’n vriendin wie se pa ’n hartaanval gekry het terwyl hy bestuur het.

Enkele oomblikke later het hy daar langs die pad gesterf.

Ek onthou iemand het eenkeer vir my gesê een van die tekens van ’n hartaanval is dat jou linkerarm lam raak. Ek het my verbeel my linkerarm raak lam.

Ek het van die pad af getrek en uit my motor geklim. Dit het gereën en daar was ’n modderpoel langs die pad.

Ek het die modderige water met my hande opgeskep en oor my gesig gegooi. Ek het net daar gestaan en nie geweet wat aangaan nie.

Toe my hartklop begin bedaar, het ek teruggeklim in my motor. Ek het steeds erg gebewe.

Dit is nie ’n hartaanval nie, het ek besef, en verder gery.

Toe gebeur dit weer. Presies dieselfde gewaarwordings. Presies dieselfde gevoel.

Ek het by ’n vulstasie langs die N1 stilgehou en by die winkel ingehardloop. Ek het ’n pakkie Disprin, water en ’n Energade gekoop. Terug in my motor het ek begin bid.

Ek het die Here gevra om my asseblief nie te laat doodgaan nie. Nie nou al nie. Ek het die Here belowe dat ek nooit weer sou drink nie.

Terug by my huis in Randburg het ek vir my ’n diep bad getap. Ek was bang.

My meisie An-maré – of Anna, soos almal haar noem – het ná werk na my toe gekom en net by my gesit.

Ek het besef ek het ’n drankprobleem. Ek sou moes hulp kry.

Ek het regtig nie geweet wat om te doen en waar om hulp, die regte hulp, te kry nie. Moes ek met ’n sielkundige gaan praat, of moes ek pille drink? Watter sielkundige, en watter pille?

Ek het regtig nie geweet watter kant toe nie. Al wat ek geweet het, was dat ek dringend hulp nodig gehad het.

Maar dit was eers ongeveer drie jaar ná hierdie eerste angsaanval dat ek die hulp gevind het wat ek regtig nodig gehad het.

Ná twee psigiaters wat my nie regtig gehelp het nie en die verkeerde medisyne wat nie ’n goeie uitwerking op my gehad het nie, het ek gehoor van ’n psigiater wat by Denmar, ’n psigiatriese inrigting in Pretoria, werk.

My ervaring van psigiaters was in daardie stadium natuurlik glad nie positief nie, maar hierdie dokter was my laaste hoop.

Ek was op die punt om moed op te gee.

Ek wou ophou werk, ophou sing, net weggaan. Uit die samelewing verdwyn en nooit weer terugkom nie.

My kop en my lyf was moeg. So moeg.

Maar was ek bereid om my lewe te verander, ek wóú my lewe verander. En ek het maar net gehoop hierdie psigiater sou my kon help om dit reg te kry.

Koponderstebo het ek by die spreekkamer ingeloop en vir die ontvangsdame gesê ek is hier om die dokter te sien.

Op daardie oomblik het ’n deur oopgegaan en ’n vrou het uitgestap. “Reynardt,” het sy vriendelik gesê, “jy kan maar inkom”.

Ek het in haar spreekkamer gaan sit en nie geweet waar om te begin nie. Toe vertel ek haar maar net my storie. My hele storie.

Ek het gehuil. Ek het my hart oopgemaak. Dit was al wat ek kon doen.

Sy het rustig na my geluister, sonder om my in die rede te val.

“Ek sien uit daarna om hierdie pad saam met jou te stap,” het sy my uiteindelik gerusgestel. Sy het my met bipolariteit gediagnoseer en vir my medisyne voorgeskryf.

Sy het ook vir my pille voorgeskryf sodat ek kon slaap.

Toe ek die eerste keer in my lewe die woord depressie gehoor het, het ek gedink dit is iets wat mal mense kry.

Ek het niemand geken wat aan depressie gely het nie. Wat nog te sê bipolariteit. Maar dit was haar diagnose. Bipolariteit.

Ek, Reynardt Hugo, ly aan bipolêre gemoedsteuring. Daardie eerste aand ná my besoek aan hierdie psigiater het ek soos ’n baba geslaap.

Ek het die pille gedrink soos sy dit voorgeskryf het. Gou het dit vir my gevoel die son skyn al helderder. Ek kon almal en alles weer sien.

Die donkerte het gelig. Vir die eerste keer in ’n baie lang tyd in my lewe het ek goed gevoel.

Ek het uitgekom waar ek moes uitkom. Die Here het my na daardie psigiater toe gelei.

Dit was egter maar net die begin. Daar was nog so baie dinge in my hart en in my lewe wat ek moes verwerk en uitsorteer.

Daar was so baie mense vir wie ek moes gaan sê ek is jammer oor hoe ek hulle behandel het.

Die heel eerste stap het ek egter geneem. Ek het my hand opgesteek en gesê ek het hulp nodig. Ek moes self besef dat ek ’n probleem het.

Ek moes self kies om hulp te vra. Ek moes doelbewus kiés om my lewe te verander.

En die pad wat my tot by hierdie besef gelei het, was ’n lang en hobbelrige en uitdagende pad.

Hier het my storie begin …

Ek is op 19 Desember 1986, in die Addington-hospitaal in Durban, KwaZulu-Natal gebore.

My ouers was albei in die weermag.

In 1986 het hulle die nuus gekry dat hulle swanger was met ’n seuntjie. Ek.

Dit was ’n dubbele blye tyding, want die dag voordat hulle vasgestel het my ma is swanger, het my pa sy keuring vir die spesiale magte suksesvol voltooi.

Omdat my pa hierdie keuring voltooi het, moes hy talle kursusse gaan doen. Dit het beteken dat hy omtrent ’n jaar lank nie by die huis kon wees nie.

My ma was ’n kranige pluimbalspeler. Sy het aangehou pluimbal speel terwyl sy met my swanger was.

Dit het haar deur die swangerskap gedra: haar pluimbal, haar vriende en haar werk. In daardie hele tyd was my pa omtrent net twee keer by die huis.

En wanneer my pa wel by die huis was, het hy meestal saam met sy weermagvriende gaan kuier en drink. Dit was die weermagkultuur.

As my pa wou gaan kuier, het hy altyd vir my ma gevra: “Gaan jy vanaand al weer die pret bederf?” Want my ma het nie gedrink nie. Sy het dit gehaat as my pa dronk was.

Die aand voor my geboorte was daar ’n formele ete vir die nuwe operateurs.

Die funksie het uiteindelik in ’n deurnag-drinkery ontaard.

My pa het die volgende oggend van sy eenheid af hospitaal toe gery, op ’n bankie voor die hospitaal gaan sit en na die sonsopkoms gekyk.

Hy het besef ’n nuwe hoofstuk in sy lewe het aangebreek.

My pa het oor die pad gestap en in die hospitaal se wagkamer gaan sit. Toe die dokter daar verbykom, vra hy my pa of sy van Hugo is. My pa het ja gesê, en toe vra die dokter hom of hy by die geboorte wil wees.

Die oomblik toe ek gebore is, het die dokter na my pa gekyk en gesê: “The baby is healthy and it’s a boy.” Die grootste oomblik van sy lewe.

In 1986 is ons Phalaborwa toe, waar die eerste hoofstuk van my lewe sou begin.

’n Geredigeerde uittreksel uit SOLDAAT deur Reynardt Hugo (Lux Verbi).

Vorige artikelLeer kinders om verandering te hanteer
Volgende artikelDie grootste geskenk is jou aandag