Wanneer water wyn word

596

Vivian Kleynhans dink sy is gelukkig toe die veel ouer John by die werk in haar begin belangstel. Hy belowe om vir haar gesin ’n huis op Vredenburg te kry, maar min weet sy die huis het ’n prys. Sy laat haar egter nie onderkry nie, en besluit eendag dat sy genoeg gehad het.

Byron is 11 maande oud toe ek een oggend die voordeur agter my toetrek en na die bewaarskool onder in ons straat stap. Ek verduidelik vir hulle dat ek beplan om weer te begin werk. Sal daar moontlik dan ’n opening vir die twee kinders kan wees?

Toe die simpatieke ant Miriam by die bewaarskool vir my die groen lig gee, kan ek John versigtig begin bearbei. Ek sê maar liefs vir hom dat iemand by Hoofkantoor my genader het. Daar is ’n pos beskikbaar en hulle dink ek is die ideale persoon vir die betrekking. John besef darem ’n ekstra inkomste kan ons ’n hupstootjie gee en gaan my dus genadiglik nie teen nie.

Ek laat weet my werkgewer opgewonde dat ek beskikbaar is as hy my kan gebruik. Hy stel my voor aan een van die opsieners wat naby ons woon en John willig in dat ek om die beurt saam met haar kantoor toe kan ry. Kort daarna begin ek saam met ’n paar ander vroue in die datakamer werk.

Die werk en die afstand wat dit van my situasie tuis gee, lig my mettertyd uit die groef waarin ek verval het. Deur na ander mense se verhale te luister en hulle ook soms as klankbord te gebruik, besef ek gaandeweg dít wat vir my al amper normaal begin word het, is eintlik allermins die geval.

Tuis is die versoeking natuurlik altyd daar om in ’n skellerige viswyf te ontaard, maar iets in my bly skop daarteen. Dis nie die soort mens wat ek wil wees nie. In ’n poging om die situasie te ontlont, bly ek gewoonlik eerder sover moontlik stil.

Opkrop is helaas ook nie ’n goeie uitweg nie. Jy begin bleek en bloedarmoedig leef, te bang om jou bekende eilandjie te verlaat omdat jy nie die groot see ken nie.

John is slim genoeg om my nooit so te slaan dat daar merke aan my gesig of arms is nie. Ek betaal nietemin met my gesondheid daarvoor en beland elke nou en dan in die hospitaal weens rugpyn of nier- en blaasinfeksie en moet gedurig apteek toe.

Die werk en die inkomste wat ek verdien, help my tog om weer iets van myself in die hande te kry en geleidelik sterker en beter te begin voel. Ek kan nou darem vir my ma van die geld stuur wat ek verdien of iets moois vir myself of die kinders aanskaf sonder om eers vir John te vra.

Maar soos wat ’n mens seker kan verwag, veroorsaak die groter onafhanklikheid kort voor lank moeilikheid. John besef geleidelik my geknipte vlerke het weer begin groei; hy verloor sy houvas op my. Dit maak hom soms mal.

Toe hy my een spesifieke dag sommer met die besemstok om die swembad begin jaag, gryp ek self ook ’n stok in ’n poging om my ’n slag te verweer. Maar ek is te bang dat ek hom dalk per ongeluk kan doodslaan. En ek besef ook, as ek teen hom gaan probeer opstaan, kan dit alles net nog erger maak.

Dinge tussen ons versleg daarvandaan treetjie vir treetjie. Hy is agterdogtiger en besitliker as ooit tevore. Die enkele kere dat ek alleen by my ouers is vir ’n begrafnis of ’n verjaardag kan ek maar weet hy gaan my bykom sodra ek weer vanaand terug by die huis is.

Hy prent homself klaarblyklik in my afwesigheid allerlei dinge in die kop wat hom letterlik blind van jaloesie maak.

Later gee hy nie eens meer om of daar ander mense by is of nie. Een aand sê ek vir hom ek gaan gou winkel toe voor ek ’n paar skoene by iemand gaan afhaal vir ant Daphne. Hy bel later die huis waar ek die skoene moet kry en hulle sê ek is nog nie daar nie.

Toe ek tuiskom, het ant Daphne en haar dogter Waseela intussen daar opgedaag. John is teen dié tyd egter reeds heeltemal onbeheers kwaad. Hy luister oudergewoonte na geen verduideliking nie en begin my sommer voor hulle links en regs klap terwyl ’n haelbui woorde op my val.

Die vroue probeer nog keer, maar hulle maak hulle kort daarna liewers uit die voete. Ek wil vergaan van verleentheid en frustrasie. Ons vuil wasgoed wapper ál meer die straat vol vir almal om te sien.

Die slegte uitwerking op die kinders is vir my ook ’n groot bron van kommer. Hulle is dikwels by wanneer hulle pa so kop verloor. Byron verstaan nog te min en aanbid sy pa. Soms hou John die kind nog in sy sy vas as hy my begin beetkry. Daar is tye dat Byron begin skree of lag soos ’n histeriese mens as dit gebeur.

Een aand is daar weer onmin en ons sien hoe die kwaad oudergewoonte in die pa van die huis wag om uit te breek. Toe John toilet toe gaan, kom sê Tercia saggies vir my dat sy ’n deur agter ’n gordyn wat gewoonlik toe is, oopgesluit het sodat ons daardeur kan ontsnap as haar pa my weer wil slaan. Sy is maar vyf.

Dit gee ons ’n uitkomkans toe John kort daarna weer aggressief raak. Ek gryp vir Tercia, hardloop deur die deur en spring oor die muur sodat ons straataf kan vlug na ’n vriendin toe.

Ek besef ek hardloop weer weg soos toe ek ’n kind was. Maar dié keer is dinge veel erger. Onmin deurtrek jou hele menswees later so erg dat jy eintlik net willoos soos ’n swaar, druipende woltrui aan ’n wasgoeddraad wil bly hang.

Ek waag dit later omtrent nie meer om saam met John uit te gaan nie. Die risiko dat hy my dalk sommer weer voor ander mense kan begin rondklap, is net te groot. Sy drinkery neem toe en hy dreig soms om my in stukkies op te sny en in ’n swart sak in die dak te sit.

Ek raak banger en banger vir sy gedrag. Een dag – dit was helder oordag – vou hy ’n koord, ’n elektriese koord, dubbel en storm op my af. ’n Ander keer rig hy selfs sy rewolwer op my.

Sulke tye vlug ek en Tercia soos voor ’n skroeiende wind uit na my suster toe. Dan kom haal hy my later weer of kry my iewers en smeek my om terug te kom; hy belowe dit sal nie weer gebeur nie.

Teen hierdie tyd weet ek egter ek sal dringend ’n plan moet maak. Dinge ruk totaal handuit. Dis of John twee persoonlikhede het. Niemand by sy werk sal kan glo die saggeaarde man met die mooi, hoflike maniere kan in ’n dronk derduiwel met ’n verwronge gesig verander wat sy vrou te lyf gaan nie.

En so spring ek toe eendag weer bibber-bang oor die buurvrou se heining in ’n poging om van John te ontsnap. Hy is voor op die erf besig met bouwerk, maar elke slag dat hy na binne kom, moet ek weer keer. Ek voel vasgekeer, want ek sal nie by hom verbykom as ek na die straat se uitgang probeer hardloop nie.

Gelukkig is Tercia by ’n maatjie. Ek ken die buurvrou eintlik glad nie, maar ek is net te vreesbevange om aan ’n ander uitweg te dink. Toe sy die deur oopmaak, vra ek verleë of ek net ’n rukkie daar kan sit.

Sy sien seker daar is groot fout en nooi my in. Kort voor lank sê dié vreemde vrou, Cecilia de Beer, vir my: “Jy bly net hier, jy gaan nêrens heen nie.”

Sy word in dié korte oomblik en die tyd daarna ’n engel oor my pad, iemand by wie ek met die hele sak patats vorendag kan kom sonder om John nog soos gewoonlik te probeer beskerm. Ek is moeg vir voorgee dat als oukei is terwyl ek binne en buite verwond is.

Daardie nag gaan slaap ons by ’n vriendin se huis. Tercia slaap op ’n matrassie voor my bed. Ek droom daar is ’n vrou in ’n wit nagrok by Tercia. Sy hou my kind vas. Dit is vir my so ’n werklikheid dat ek agterna nie weet of ek dit regtig gesien het nie. Maar dit oortuig my dat ’n engel oor ons sal waak.

Kort daarna gebeur nog iets wat my uiteindelik sover kry om uit te stap. John druk my een aand in sy besopenheid in ons badkamer vas en pluk my rond terwyl hy my met sy vuiste bykom, iets wat hy nog nooit vantevore gedoen het nie.

Die volgende oggend is daar ’n klop aan die deur. Dit is Bennie, ’n Joodse vriend van ons, wat iets kom afhaal.

Daar is geen manier dat ons ons huismoles kan wegsteek nie. John is nog winddronk en ek het byna nie ’n oog toegemaak nie – ek is ontsteld, kwaad en hartseer tegelyk en sê ek kan dit nie langer verduur nie.

Bennie wil weet wat het gebeur. Hy luister na John se verskonings en verduidelikings, maar sê ná ’n ruk vir hom sy stories klop nie.

Toe hy uiteindelik weer groet, sê ek vir hom: “Bennie, ek belowe jou, as die Here my gaan help om vandag hier uit te stap, kom ek nie weer terug nie. Ek kan hierdie ding nie meer met pleisters aan mekaar probeer hou nie.”

Cecilia van langsaan het intussen vir my en Tercia ’n kamer reggemaak. Ons kan voorlopig daar loseer terwyl Byron by sy pa bly. Ek is vasbeslote om my nie weer te laat ompraat nie.

John se wangedrag het my en die kinders reeds te veel skade berokken. Cecilia se twee volwasse seuns is ook op die werf en hy kan my nie daar kom pla nie.

Ek klop ook aan by ’n sielkundige wat my aanraai om van die lae wat ek om my gebou het, af te skil en te sien wat onder alles lê. Dit kom nie maklik nie.

Die pad na heelword loop deur ’n seerkry waarvoor ek tot dusver nóg moed nóg woorde kon vind. Tot jy op ’n dag – sonder dat jy eintlik weet hoe – jou stem terugkry

WANNEER WATER WYN WORD

aanlyn te koop op voelgoedboeke.co.za. R207 R230