Hoe help ek armoede verlig?

434

Al hoe meer mense sukkel finansieel. Dit is krities belangrik om te weet wat hulle nodig het, sodat ons hulle kan help en liefhê. Armoede skep geleenthede waar ons God prakties kan dien.

Wanneer jy behoeftiges help, moenie ’n beloning verwag nie

Om uit te reik na jou naaste beteken ook om uit te reik na mense wat jy nie ken nie. Na mense wat jou nodig het omdat hulle veel minder het.

Dit is in die eerste plek gehoorsaamheid aan ’n opdrag wat van God af kom. En wat jy spontaan uit die innerlike krag van jou oortuiging doen.

Ongelukkig is dit dikwels so dat mense wat liefde en omgee die nodigste het, dit die minste verdien.

Jy sal ontdek dat mense wat goeie werke doen, altyd veel meer terugkry as wat hulle gee. Dit mag egter nooit die motivering wees nie.

Die diensbaarheid waarvan Jesus praat, is nie die soort wat iets van ’n ander persoon terug verwag nie.

Die regte soort diensbaarheid gaan van jou vra om vryelik van jouself, jou tyd en geld te gee. Die rede is dat jy graag iets wil teruggee uit dankbaarheid vir alles wat na jou kant toe kom.

Raak betrokke by ander se honger en pyn, want betrokkenheid bring genesing en onverwagse seën. Wanneer jy dit die minste verwag, ervaar jy op jou beurt die hemelse Vader se troos in jou eie lewe.

Maak tyd om mense te help en by te staan, en jy word self in die proses getroos. Die vier mans wat die dak oopgemaak het om hulle verlamde vriend na Jesus te bring, het Hom ook ontmoet.

Praat arm mense moed in en gee hulle hoop

Die Heilige Gees is jou Trooster. Hy het raad met elke soort hartseer wat in jou lewe kan opduik.

Die heel beste troos is die belofte dat daar eendag ’n einde aan alle swaarkry sal wees. Eendag in die hemel sal al ons trane afgedroog word.

Intussen is ons steeds op die aarde en is daar armoede en probleme rondom ons. Gelukkig kan ons as Christene te midde van probleme seker wees van bemoediging en bystand. Paulus het self daarvan getuig.

Juis omdat hy God se bemoediging tevore so intens ervaar het, kon hy ander mense moed inpraat. Dit is eers as ’n mens self swaargekry het dat jy werklik weet hoe om iemand anders te bemoedig.

Die manier waarop jy jou vingerafdrukke die heel duidelikste in ander mense se lewe laat, is deur hulle opreg lief te hê. Dan sal jy ontdek dat dinge wat voorheen soos rampe gelyk het, eintlik genade was. Dit het jou ’n beter trooster gemaak.

Deur die dinge wat jy vir ander doen, wys jy vir hulle in Wie jy glo.

Jy kan Jesus nie meer fisiek bereik om jou liefde vir Hom te wys nie. Maar jy kan dit vir jou buurman wys. Die beste manier om dit te doen, is om nie net te help nie, maar ook vir mense hoop te gee.

Moenie net geld gee nie, help ook op praktiese maniere

Haal jy jou beursie uit wanneer jy gevra word om iewers te help? Toegegee, dit ís baie makliker om van jou geld as van jouself te gee.

Maar soms word daar van ons verwag om die beursie weg te sit en op ander maniere ’n bydrae te maak.

Daar is baie mense wat werklik in die knyp is. Sorg dat jy daar is wanneer hulle jou nodig het. Raak by hulle probleme betrokke en wees bereid om jou moue vir hulle op te rol.

God is altyd slaggereed om jou te hulp te snel; daarom behoort jy ook gereed te wees om ander te help. Die dinge wat ons vir ander doen, doen ons terselfdertyd vir Hom.

Ons skuld alle ander mense liefde, skryf Paulus aan die Romeine (13:8). Die liefde waarvan hy hier praat, is nie ’n gevoel nie, maar ’n keuse, ’n daad van selfopoffering.

Dink mooi hoe jy iemand wat finansieel swaarkry, prakties kan help. Wat kan jy doen om die lewe vir hulle makliker te maak?

Besluit vandag hoe jy jou liefde vir jou naaste mense in dade gaan omsit. Dalk het hulle iemand nodig om die kinders skool toe te vat omdat hulle nie geld vir brandstof het nie.

’n Bol wol en breipenne is dalk die begin van ’n klein onderneming waarmee iemand uit die as kan opstaan.

Daar is oral mense wat jou nodig het. Kyk om jou en sien die nood raak. Spring dan in en dóén iets!

Liefde vir mense in armoede is belangriker as goeie dade

Daar is bewys dat elke mens liefhet en liefgehê wil word. Wetenskaplikes het bevind dat vroeggebore babas wat van die begin af baie liefde ontvang, beter vaar as dié wat nooit aangeraak word nie.

Menslike liefde bly egter selfsugtig, en selfsug hoort nie by ’n Christen nie.

As jy wonder hoe die daad liefde lyk en of jou eie liefde aan hierdie Bybelse vereistes voldoen, lees weer 1 Korintiërs 13.

Daar word die eienskappe van ’n daadliefde genoem. Dit is geduldig, vriendelik, onselfsugtig, beskeie, nederig, onbaatsugtig, verdraagsaam, vergewensgesind en wil ander se belange bevorder.

Jy kan hóé wonderlik wees en hoeveel dinge vir die armes doen, maar as hierdie opregte liefde ontbreek, help dit nie veel nie.

Ware diens van barmhartigheid vra dat jou hart moet oorloop van liefde. Maar voordat jy ander mense se nood kan raaksien, moet jy hulle eers liefhê.

Liefde maak ons oë oop om raak te sien waar daar ’n behoefte is en om vindingryke planne te beraam om te help. Op klein, praktiese maniere waarvan niemand eens weet nie.

Dis hierdie liefde wat my laat vra, nie “wie is my naaste?” nie, maar “wie se naaste is ek?” Dit reik oor ras en politieke oortuigings.

Dis onmoontlik om só lief te hê as jy nie ’n persoonlike verhouding met God het nie.

Jesus verwag van sy kinders om die nood van ander mense raak te sien en ook om iets daadwerkliks daaromtrent te doen.

Vind uit wat in platsak mense se harte aangaan

Ons het so onafhanklik geraak dat dit vir ons moeilik is om werklik saam met ander mense te voel.

Omgee is opregte en hartlike meelewing. Dit is net moontlik as jy die ander een se hart ken, wanneer jy deur al die mensgemaakte maskers kan dring.

Dit is moontlik om iemand anders regtig lief te hê. Dan kyk jy by daardie persoon se gebreke en tekortkominge verby.

Jy sien hom soos God bedoel het hy moet wees. Jy kyk na hom of haar deur die kruis; daarom ken liefde nie kritiek nie. Juis deur die beste van mense te verwag, kan jy hulle opreg liefhê.

Baie mense het wel ’n fisieke nood, soos ’n tekort aan kos, klere of blyplek. Maar daar is ook altyd ’n behoefte aan troos en bemoediging.

In plaas daarvan om ’n geldnoot in die hand te stop, knyp ’n tydjie af om met die karwag te gesels. Sodra jy sy of haar storie gehoor het, kry jy dalk ’n heel ander perspektief op die situasie.

In swaarkrytye het ons almal iemand nodig wat kan saamvoel. Iemand wat bereid is om by ons te sit al is dit sonder om ’n woord te sê.

Vra vir oë om die nood om jou raak te sien en vir ’n dienende hart wat oorloop van liefde.

Vorige artikelChereé Strydom: “Op 9 weke begin ons droom verkrummel”
Volgende artikel[VIDEO] Kry weer lus vir die lewe!